9 maande gelede
Alle oë nou op Ross se verhoor
Bennett Bailey.  ~ BACKPAGEPIX

BENNETT Bailey, president van Safa CT, het bevestig die lot van John Ross, voorsitter van die skeidsregtersvereniging van Cape Town Tygerberg, word Dinsdag bepaal.

Son op Sondag is ingelig die saak het gesloer omdat Andrew Bothman, CT Tygerberg se voorsitter en adjunk-president van Safa CT, siek was.

Ross, wat in die apartheidsjare ’n polisieman was, word aangekla van oneer en neerhalende uitlatings op ’n sosiale media-platform.

“Ek is net bly die saak kan gehoor word, want daar is ’n klomp kante van alle sake wat gehoor moet word,” het Bailey gesê.

Hy’t aan Son op Sondag beklemtoon rassisme in die breë same­lewing moenie geduld word nie.

Sokker

“Ek connect alles aan die Black Lives Matter movement,” verduidelik die Kaapse sokkerbaas.

“Ons hoor in krieket en rugby is dit dieselfde. En wie weet of daar in ander sport ook rassisme is. Selfs in sokker. Jy moet onthou dat alle groepe sokker speel en dinge moet nie net van een kant bekyk word nie.

“Die ouens het in 1994 te hard baklei vir ’n nie-rassige SA. Dit is alles net by die venster uitgegooi,” reken Bailey.

Ross het op Facebook gesê hy weet nie waarom ’n bohaai oor die “White Lives Matter – Burnley banner” gemaak word nie.

Ross verwys na die voorval waarin ’n vliegtuig met dié banier oor die Etihad-stadion gevlieg het.

Dit was laas maand gedurende Manchester City en Burnley se Engelse Premierliga game.

Burnley het hom daarvan gedistansieer.

Die voorval spruit uit die omstredenheid rondom die dood van die swart Amerikaner George Floyd waarna die Black Lives Matter-beweging stukrag gekry het.

Floyd het versmoor toe ’n wit polisieman met sy knie op Floyd se nek gehurk het.

In solidariteit met dié voorval het die EPL die woorde “Black Lives Matter” agterop ál die klubs se truie toegelaat.

Ross se post op Facebook lees: “Het die wêreld mal geword? So, Manchester City en Burnley speel op die Etihad. Ál die spelers dra Black Lives Matter-logo’s en kniel ter ondersteuning.

“Dan vlieg iemand oor met ’n White Lives Matter-banier en dit ontstel Burnley.

“As ’n elite-speler geweier het om die logo te dra, sou hy beswadder geword het. So, die EPL glo wit lewens is afstootlik.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters