Verlede jaar
Vincent kry balsem vir sy gebroke hart
 ~ 

AWEH, Sonlanders! Vandag plaas ons deel 2 van “Antie Bonnie se Seer” uit JAN SWARTS se pen. Laas het ons gelees van Vincent wat sy antie Bonnie nie kon groet voor haar kankerdood nie. Hy blameer Michelle daarvoor omdat hy Touwsrivier moes verlaat ná hul liefdes­teleurstelling. Lees nou verder.

DIS maande se opgeswelde seer wat vanoggend vir Vincent stil-stil saam met die aanbreek van ’n nuwe dag bekruip. Die son steek sommer al die plat vaal bossies langs die pad by Laingsburg aan die brand.

Hy skakel die radio aan op Kfm net betyds om Kenny Rogers in ’n rasperstem te hoor sing: “You picked a fine time to leave me, Lucille.”

Van gister 15:00 al is sy kop heeltyd in trurat en die stilte in die VW Polo sy enigste reisgenoot.

Hy wens hy het meer waardering vir die song, maar die lirieke maak hom hartseer. Die pyn klop soos ’n tamboer op sy flenters harttromme. Hy dink aan antie Bonnie. En Michelle Williams.

In antie Bonnie se borskas het ’n goue hart gebons, maar Michelle is die culprit wat hom maande laat sukkel om asem te haal en laat leef met ’n hart van klip.

Hy wens die verlede kon soos ’n stukkende spieël tussen hom en Michelle lê, maar dit kom aangesweef nes die dag toe sy uit die niet voor hom verskyn het.

Hy het tóé al sy droomvrou, sy trouvrou, met die sonbruin vel, reënboogoë en sprankelglimlag ontmoet. Sy het sy lewe soos ’n prinses uit ’n sprokie ingewals.

Sy is Abel se niggie en haar gesin het toe pas vanaf Ceres verhuis.

Vincent probeer nie aan haar dink nie, maar regkry is min, want sy geheue is nou maar eenmaal sy beste vriend én grootste vyand.

Hy vervloek haar, want sy is die een wat hom laat ophou leef het al is hy nog nie dood nie. Ná ses maande in die verhouding het sy ’n WhatsApp-boodskap gestuur wat sy lewe verander en hul verhouding beëindig het. Toe block sy hom op haar contact-lysie.

Die boodskap op die skerm het gelees soos ’n doodstyding en het hom verpletter.

“Sorry, Vincie. Dit gaan nie werk nie. Asseblief, moenie vir antwoorde soek nie, want ek wens ek het dit gehad. Gaan aan met jou lewe.”

Daarna het sy hom soos die pes vermy. Wanneer hy gelukkig was om oë op haar te lê, was dit in die Spar wanneer sy en haar ma groceries gekoop het. Haar gesigsuitdrukking was dan stroef en sy het skaars in sy rigting gekyk.

Hy wonder wat het van die mens geword van wie hy so onafskeidbaar was en wat altyd hul moeilikste uitdagings met ’n glimlag kon laat verdwyn. Watter onkruid het tussen hulle kom groei en die sonskyn verberg?

By die Shell Ultra City in Laingsburg trek hy af om die kar se petroltenk vol te maak. Hiervandaan lê daar net sowat 80 km se teer na Touwsrivier.

Sy maag rondomtalie nou by die gedagte dat hy weer in haar sal vasloop en weer wegloop sonder antwoorde op sy brandende vrae.

Hy weet nie hoe lank hy gesit en voor hom uitgestaar het nie. Dis die sagte klop teen die karruit en vriendelike Karoo-aksent van die petroljoggie wat hom terugruk na die hede. Terwyl die man die kar vol petrol tap, klim hy uit en asem skoon lug in.

Oor die radio wat onder die dak van die rybaan golwe maak, sing Passenger “Let Her Go”.

Die song skeur die verlede opnuut oop en maak hom van voor af bitter. Hy’t homself nog altyd kasty omdat Michelle haar uit sy lewe onttrek het sonder ’n verduideliking.

Sy memories van haar wil eenvoudig nie verdof nie.

Pastoor Vincent Abrahams besef hy is ook net mens, al preek hy ook môre die Evangelies-Lutherse Kerk se sinkdak af.

“Onthou jy dan nie daai keer toe jy vir antie Bonnie vertel het jy wil stukkende siele met die salwing van die evangelie genees nie? Die lewe is nie ’n lang, donker gang of een lang winter nie.”

Vincent verbeel hom hy hoor sy eie stem. Terug agter die stuurwiel skakel hy die enjin aan, klim op die N1 en draai die kar se neus in sy tuisdorp se rigting.

“Ek wens ek kon Marcus ontmoet,” sê hy vir homself en glimlag. Dis die eerste keer dat hy glimlag sedert sy antie se doodstyding.

“Die beste wraak is om nie te wees soos die een wat jou ’n onreg aangedoen het nie.”

Nog een van die belese antie Bonnie se balsemwoorde wanneer sy aan ’n verontregte raad gee.

Vincent glimlag vir die tweede keer. “Marcus Aurelius – onthou dit.”

Naby die munisipale grens van die Breedevallei voel Vincent soos iemand wat die Rubicon moet oorsteek. Dis hier in Touwsrivier waar hy sy geliefde antie Bonnie onder die kluite gaan laat rus.

Sy het hom reeds in sy eerste jaar as tokkelok laat sweer dat hý haar begrafnisdiens en teraardebestelling sal doen. Dis ook die plek waar hy graag die vrae en antwoorde vir sy seer wil begrawe.

As dit nie vir antie Bonnie se begrafnis was nie, weet hy nie of hy weer ’n voet hier sou sit nie.

By sy ouerhuis heers ’n somber atmosfeer. Dit voel glad nie soos ’n tuiskoms nie, want sy antie Bonnie is dood.

Teen vroegaand blaai hy deur die Groot Boek op soek na ’n gepaste skriflesing vir die begrafnisdiens. Hy sit agter die lessenaar met die Bybel voor hom oopgeslaan by Romeine 12.

Vincent se oë volg sy vinger oor die swart letters op die wit blad. Hy stop by die 19de vers: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld,’ sê die Here”.

Saterdag 12:45 rus Bonita Abrahams onder die lang bome in die woonbuurt Steenvliet.

Met Michelle se hulp het die tsoenami wat al ses maande gelede binne Vincent opgestoot het, hom uitgewoed en tot bedaring gekom.

Hy klim in sy motor en ry straataf tot by die stopstraat voordat hy die stuurwiel links draai.

Hy gaan stop voor antie Bonnie se huis en sien hoe die kinders sorgeloos in die parkie speel.

Hy vat sy tablet en druk op die e-mail icon. Weer lees hy die boodskap wat vroeër in sy inbox beland het:

Ek was ook geskok toe ek drie weke nadat jy weg is per ongeluk uitvind. Maar swart ink op wit papier lieg mos nie.

Ons albei het ’n hoofstuk uit ons lewe verloor wat nooit herskryf kan word nie.

Ek wens ál drie was eerlik met my, maar ek het hulle almal reeds vergewe. Vir dêrra, mammie én mammie Bonnie.

Ja, antie Bonnie was my ma. Ek is haar en Dêddie se kind.

Sy was swanger terwyl Dêddie en mammie Grace getroud was.

Mammie Grace kon nooit kinders kry nie en daarom het haar ouers vir mammie Bonnie se studies betaal sodat sy my vir Dêddie moes gee sodat hulle my as wettige ouers kon aanneem.

Nes jy is ek ook ’n slagoffer van die sameloop van omstandighede.

Mammie Bonnie het jou weggestuur in die hoop dat jy eendag sal kan terugkom met ’n gesonde binneste.

Groete

Jou niggie, Michelle.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters