Verlede jaar
Terwyl Lee-Anne tier, woed ook in Adri ’n storm
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n kortverhaal in twee dele uit die pen van PETRO LM GORDON. Sy noem dit “Blou”.

DIT reën nou al dae aaneen. Die wêreld is behoorlik nat en onplesierig hier in die nou nog ongeteerde strate van die Swartlandse dorpie Darling.

Daar is waterpoele net waar jy kyk en modderspore oral in huise soos die kinders in en uit die huis katterjak. Die skole kan gerus nou weer begin, hoor jy vele ouers sug.

“Mamma bly skel, jô! Was ma-hulle dan nie oek kinners ’ie?” hoor Adreana haar jonger suster, Lee-Anne, vra.

“Hei, wiet djy hoe lyk iemand wat skel?”

Adreana glimlag in haar allenigheid toe sy haar ma se skril stem hoor.

Sy sit in haar en Lee-Anne se slaapkamer en staar nou al hoe lank deur die kamervenster na niks. Behalwe vir tant Ralie se huis, wat sy nie kan miskyk nie.

Hul huis is op die hoek van 10de Laan, en van hier kan ’n mens alles en almal sien.

Eintlik is haar geliefkoosde sitplek onder die groot vyeboom wat voor die huis staan. Maar dis in die somer.

Op dae soos vandag sit sy eerder alleen op haar bed en staar lank by die venster uit.

Adreana het geweet dit gaan die een of ander tyd gebeur. Dis nou al hoe lank dat ’n konfrontasie tussen haar ma en Lee-Anne dreig om te gebeur.

As daar nou één ding is wat haar ma haat, is dit om daarvan beskuldig te word dat sy skel of dat kinders teëpraat.

Sy sê altyd: “Suid-Afrika met sy nuwe wette ofte not: In hierie huis moet ’n kind weet wanner om stil te bly of djy sallit voel.”

Adreana weet. Haar ma is nog lank nie klaar nie.

Een hand is op haar heup. Met die anner een beduie sy gewoonlik soos sy praat. “Wat wiet djy van skel? Skel sal djy sien as die sleg vroue wat gewoonlik gesyp is, innie straat staan en mekaar wil bedood met woor’e.

“Daais wat skel is. Soe, moenie vir my sta’ vertel ek skel’ie!

“En virrie twiede, wag totdat djy eendag ’n man en kinners het. Dan sal djy ôk soe voel soes ek vidag voel. Julle maak enniekys of ek julle servant is.”

Ma. Adreana krimp ineen toe sy die woord hoor. Ma. Sy gaan lê in ’n fetusposisie op haar enkelbed. Ma, moeder, behoeder en bewaarder, ultimate birth-giver, die kanaal waardeur lewe tot lewe gebore word.

Sy was so bang dat sy op skool pregnant sou raak en een van die statistieke sou wees. ’n Ma wees.

“Niemand het gesê Mamma is ’n servant’ie!”

Adreana hoor hoe Lee-Anne se stem ál verder wegraak. Dié Lee-Anne is ’n ander ene. Grootbek, maar sy weet sy is nou op gevaar­like terrein. Sy is baie na aan ’n oorveeg oor haar parmantige houding en teëpratery.

“ ’n Mens is wat jy gloe’ djy is!” skree sy nog vir oulaas voordat Adreana hoor hoe die kombuisdeur toegeklap word.

Sy wens baie dae sy kan Lee-Anne se guts hê om sommer te sê wat op haar mind is. Maar sy moet mos alewig eers haar woorde weeg.

Haar maats sê sy is ’n dromer. Sy onthou haar ma het altyd vir mense gesê: “Adri is die stil enetjie.”

’n Mens is wat jy glo jy is.

Adreana herhaal die sin woordeloos. Wie of wat is ek? Hoe glo ek, wat? Wat as iemand jou so lank laat voel en glo het jy is niks?

Voordat sy dieper in die put van onsekerheid wegsak, hoor sy hoe haar ma verder tier.

“Djy vegiet sieke djy’s 13 en nie 23 nie!” En dan sagter, meer vir haarself: “Jirre, waantoe gaan’ie tyd?”

Adreana stem stilweg saam. Net vyf jaar gelede was sy Lee-Anne se ouderdom. Sy het egter nooit só met haar ma gepraat nie.

Sy staan op en sien hoe Lee-Anne by tant Ralie se huis oorkant die straat ingaan. Seker voor die kolestoof sit.

Tant Ralie is een van die enkeles wat haar stoof behou het toe die munisipaliteit elektrisiteit aan die woonbuurt voorsien het.

Sy en Lee-Anne, trouens al die kinders, geniet tant Ralie se geselskap. Vir haar is tant Ralie wel om ’n ander rede baie spesiaal.

Tog, die laaste tyd is dit al of sy liefde én veragting vir die goedige ou vroutjie ervaar.

Hoe kon sy toelaat dat ’n kind stilbly? Sy was oor die jare meer ’n ma-figuur vir haar en Lee-Anne omdat hul ma meestal nagskof gewerk het.

Sy glimlag nogtans as sy dink hoedat die kinders lag wanneer tant Ralie so verkeerdom praat. Soos die keer toe mev. Dominee ’n baba gekry en sy ’n ruiker by die bloemiste bestel het. Sy het aan ál wat leef en beef vertel sy het die ruiker by die minister gekoop.

Die keer toe haar seun nie werk gekry het nie omdat hy ondergekwalifiseerd was, moes almal hoor: “Nee, hulle sê die klong hettie die kollemekansies virrie werk’ie.”

Tant Ralie steur haar nie veel aan goed nie. Sy sê net altyd: “As ek verkeerd praat, moet julle reg verstaan!”

Dan haal sy gewoonlik lekkers uit haar voorskoot se sak.

Lekkers. Hy’t ook altyd vir haar lekkers gegee. Later geld ook.

Eers ’n R5, ’n ander keer ’n R20. Wanneer sy die geld geneem het, het hy met sy growwe bruin kneukels oor haar hare gestreel en later saggies oor haar arms.

“En hieraan,” het hy gesê wanneer hy speels met sy wysvinger aan die bloeiselknoppie-tepels van haar amper-borsies gevryf het. “Hiéraan moet Adri’tjie toggie enige klong laat vattie ...”

Haar borste het vroeër uitgeskiet as al haar maters s’n.

Sy’t gehoor hoe die grootmense praat van die kind met die ryp peertjies vir haar ouderdom.

“Vroeg ryp, vroeg vrot,” het sy een antie hoor sê.

Sy ril toe sy weer ligte kielie- spoortjies voor die growwe wysvinger voel uitloop. Waar was Mamma-hulle dan ál die kere? En die laaste klompie kere?

Adreana neem die kussing en druk haar gesig daarin om die snikke te smoor.

Ag, liewe Here. My sussie. Ek weet nie wat met haar fout is nie. Hoekom is Lee-Anne die laaste tyd so kwaad en opvlieënd?

Sy bid woordeloos terwyl sy die sout van haar trane in haar mond proe. Haar hart mis ’n slag.

Wat maak Lee-Anne so baie by tant Ralie se huis? Wat as sy eendag haar mond verbypraat oor daai laaste keer? Die nag toe sy seer, vol bloed en met geskeurde klere oor die pad geloop het.

Twee jaar gelede, toe sy vir die eerste keer – toe hy weer aan haar wou vat – besluit het sy gaan dit nie meer toelaat nie.

Hy’t nog allietyd gesê hy sal sê sy was ’n klein slet wat sommer op sy skoot kom sit het. Dat sy eina-kleertjies gedra het en hom uitgelok het.

Maar sy het nie meer omgegee nie. Tog was hy te sterk vir haar.

Die trane loop terwyl sy dink hoe magteloos sy op die grond bly lê het. Die nag waarvan sy vir niemand ooit vertel het nie, behalwe vir tant Ralie.

Lee-Anne bekommer haar. Wat as sy ook met ’n seer binne-in haar rondloop waarvan niemand weet nie?

  • Lees volgende Sondag deel 2

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters