Verlede jaar
Sjokoladeprinses begelei Hennie in ruil vir Paaseiers
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Hier is aflewering 2 nou van NICOLETTE FOULDIEN se kortverhaal “Die Sjokoladeprinses”. Verlede week het ons kennis gemaak met Hennie, wat op die platteland Paashaas vir weeskinders sou speel, maar sy Cessna moes ’n noodlanding doen. ’n Sanmeisie, Gaolgôa, kom op hom en die lekker sjokolade-eiers af wat hy vir die kinders sou gee.

HENNIE kyk verskrik na die kreatuur voor hom. ’n Boesman-meisie! Hy het nog nooit een in lewende lywe gesien nie!

Hy weet van hulle wat vir jare afgesonder in die gebied bly, maar hulle is skugter en laat niemand naby hulle toe nie.

Sy lyk verskrik, maar lagwekkend. Haar hele gesig is besmeer van die sjokolade. Hy begin lag.

Van die Paaseiers moes uit die Cessna-vliegtuig geval het en hy kan net wonder wat sy daarvan dink.

Gaolgôa (Prinses) kyk die haas met die mensgesig verskrik aan.

Hy moes op die vreemde voël se rug gery het! Sy gryp na haar pyl en boog.

Hennie hou sy hand omhoog om te wys hy kom in vrede. Lyk egter nie of dit haar gerus stel nie.

Sy grom vanuit haar keel en vreemde klikgeluide borrel oor haar lippe. Dan sien hy die sak met Paaseiers wat ’n paar treë van hom af lê.

Hy beweeg stadig weg tot by die sak en buk vinnig.

Hy moet koes toe die pyl rakelings verby sy ore fluit. Vinnig hou hy ’n hand vol eiers omhoog.

Gaolgôa staan besluiteloos. Die haas is groot en dis baie vleis.

Hulle kan lank aan hom eet ... maar die eiers! Sy het nog nooit iets so lekker geëet nie! Sy oorweeg haar opsies. Die eiers wen. Sy glimlag en hou haar hand uit.

Hennie laat val versigtig ’n Paaseier in haar hand. Sy druk dit vinnig in haar dassievel-sak en hou haar hand uit vir nóg.

Hy skud beslis sy kop. Hy is in die middel van nêrens.

Al het hy die ongeluk oorleef, is die kanse skraal dat hy ooit lewend hier sal uitkom.

Sy selfoon is gelukkig nog heel en in werking, maar hier is geen sein nie.

Hierdie meisie sal hom kan help tot by die beskawing. Hy moet net haar vertroue wen.

Hy hou nog ’n eier na haar uit, maar trek sy hand terug toe sy dit wil neem.

Sy kyk hom verontwaardig aan. Hy skud weer sy kop en gaan sit. Hy wys dan sy moet ook sit.

Dit lyk nie of sy wil nie en hy hou weer die eier uit.

Sy vat en hy trek terug. Ná die derde probeerslag lyk dit asof sy darem verstaan en sy sak voor hom op haar knieë neer.

Hy sug. Dit gaan ’n lang dag wees. Ná ’n halfuur lyk dit of sy begin verstaan wat hy wil hê.

Sy glimlag vir hom met tande vol sjokolade toe hy vir oulaas na die plek op die kaart wys wat hy op die grond geteken het en dan na die sak sjokolade-eiers.

’n Ruiltransaksie. Sy moet hom neem tot naby die naaste dorp en die sak Paaseiers is hare.

Die pad is lank en dis warm. Die Paashaaspak laat hom nog meer sweet. Die geselskap maak darem alles draagliker.

Die meisie is ’n bol energie. Dit lyk nie eens of sy die hitte voel nie en haar tred is lig.

“Ek is Hennie.” Hy wys na homself.

Haar gesig kreukel in ’n glimlag.

“Wat is jou naam?” vis hy uit.

Sy kyk met onbegrip na hom en dan vertrek haar gesig in ’n glimlag. Dit lyk of sy verstaan.

“Gaolgôa,” antwoord sy.

“Oukei. Goed. Ons praat dan maar albei ons eie taal.”

Sy kyk lank na hom en dan lyk dit of daar vir haar ’n lig opgaan.

Hy staan verstom voor die mens se borrelende persoonlikheid.

Haar tong klik vrolik voort en hy luister met behae en wens hy kon verstaan en saampraat. Deel in haar lewensvreugde.

“Jy is ’n lelike haas, maar dis reg. Ek is nie bang vir jou nie. Jou voël se eiers is lekker.

“My mense gaan my nie glo as ek hulle vertel nie. Hulle gaan kwaad wees oor ek jou nie doodgemaak het nie. Maar hulle gaan hou van die groot voël se eiers. Hulle sal bly wees,” praat sy in haar vreemde taal se klikklanke.

Dit gaan vir ure so. Sy voete sleep oor die warm sand en sy kop pyn. Hy is doodmoeg, maar sy maak alles draaglik met haar gesels en die water wat sy vir hom aanbied uit die volstruisdop.

Sy is streng. Hy mag nooit meer as drie slukke op een slag neem nie. Hy toets kort-kort die selfoonsein en wil skree van vreugde en verligting toe hy uiteindelik ’n sein kry.

Hulle staan op ’n hoë duin. Die kale vlaktes het plek gemaak vir Karoobossies wat liggies in die wind waai.

Kronkelpaaie vleg deur die dorre landskap. Hulle moet naby die beskawing wees.

Hy druk op Martie se nommer. Sy huil van verligting om sy stem te hoor.

Gaolgôa kyk verbaas en met ongeloof na die vreemde ding waarmee hy praat. Hy wys sy hoef nie bang te wees nie. Sy staan verskrik op ’n veilige afstand.

“Hennie! Waar is jy? Ek was so bekommerd toe ek die weeshuis bel en hoor jy het nooit daar opgedaag nie. Wat gaan aan?”

“Ek is veilig en ongedeerd, Martie, maar daar is niks van die Cessna oor nie.

“Ek het net duskant die berg, in die stuk woestynland, neergestort. Wonderbaarlik niks oorgekom nie; net so ’n bietjie hoofpyn. Dalk ligte harsingskudding.

“ ’n Pragtige dame wat verslaaf is aan sjokolade, het op my afgekom.”

“Wat? Hennie, is jy seker jy is oukei? Watter dame?”

“Martie, moenie vra nie. Lang storie, maar wees gerus. Ek is veilig. Ek stuur jou die ligging, dan laat weet jy die ouens, asseblief.

“Moenie oor my worry nie. Terwyl ek Paaseiers het, sal hierdie dame mooi na my kyk.”

Martie skud haar kop. Sy verstaan nie heeltemal nie, maar troos haarself dat Hennie ten minste leef. Dis die belangrikste.

Sy lees die SMS wat deurkom en bel dan onmiddellik die boerevereniging. Hulle almal is betrokke by die inisiatief en doen gereeld skenkings aan die weeshuis.

Hennie glimlag verlig toe hy die viertrek-voertuie in ’n stofwolk sien naderkom.

Hy draai na Gaolgôa. Sy kyk grootoog na hom.

Hy weet sy is bang vir mense en hierdie aankomende konvooi motors maak haar onrustig.

Hy hou die sak Paaseiers na haar uit. Die meeste is nou net ’n gesmelte hoop sjokolade.

Sy vat die sak met ’n groot glimlag en gooi dit oor haar skouer.

“Gangans. Tawede.” (Dankie. Totsiens.) Dan draai sy om en begin ligvoets wegdraf.

Hennie kyk met ’n tikkie hartseer hoe die tenger figuur tussen die duine verdwyn. Jonk, onopgesmuk. ’n Kind van die aarde.

Daar is so min van hulle oor en ook hul wêreld is vinnig besig om te krimp.

Hoe lank voordat die beskawing ook hier sy kloue inslaan?

Terwyl hy teen die duin afstap na die naderende voertuie, maak hy ’n belofte. ’n Belofte dat hy hierdie handjievol mense in die woestynland sal beskerm en hul poorte sal bewaak teen indringers.

Vandag is sy lewe gered deur ’n jong vrou wat met trots hul kultuur sal laat voortleef.

Aan haar sal hy altyd dink as die Sjokoladeprinses.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters