Verlede jaar
Richard vat sy broer vas oor 'n verdagte pakkie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag kan julle deel 2 lees van “Die Wrede Werklikheid”, JASMINE UYS se verhaal in drie aflewerings. Laas keer het ons vir Richard leer ken wat oorkant Baai se winkel bly. Sy ma, Riena, vra hom om ’n gloeilamp te koop, maar Baai het nie voorraad nie. Op pad na ’n ander winkel red Richard ’n vrou wat beroof word. Die volgende dag ry hy saam met sy pel Stevan toe hulle net-net uit die kloue van highjackers ontsnap.

STEVAN trek met skreeuende bande weg nadat hy die wannabe robber geskiet het.

Al is die robot nog rooi, is hy so min gespin soos nat wasgoed en hy ry. Richard kyk hom met groot oë aan, lam van skok.

“I can’t believe it! Ek’t uit Gauteng teruggetrek Kaap toe om weg te kom van al die crime en violent protests en ek word sowaar op my eerste dag van werk amper gehijack! Waar in hierdie land is ’n mens dan veilig?”

Richard kry uiteindelik sy stem terug. “Moet ons dit nie by die polisie gaan aanmeld nie?”

“Ag nee wat. Wat sal dit tog help? Die justice system is so corrupt; dit protect die criminal, nie die victims nie. Die criminals is skaars in, dan kom hulle op parool uit!”

“Miskien ja, maar wat as jy hom doodgeskiet het?”

“O, dan is dit good riddance to bad rubbish.”

Richard kyk hom geskok aan.

“Relax, dit was ’n vleeswond. Net om hom af te skrik. Hy het dit natuurlik nie verwag nie. Ek het in my truspieël gesien hy hou sy gewonde hand vas toe hy wegloop.

“Glo my, ek was baie lus om hom witbene te maak, maar dan was ek nou weer die vark in die verhaal. Hy sal ook nie die saak aanmeld nie, want dan sal hy moet please explain hoe en waar hy die wond opgedoen het. Hy het natuurlik klaar ’n criminal record.”

Hulle ry in stilte verder, elkeen besig met sy eie gedagtes.

DIS donker toe Richard van sokker-training af kom. Die voordeur is toe, maar nie gesluit nie. Dis snaaks, want ná skemer hou sy ma dit gewoonlik gesluit. Haar woorde is altyd: “ ’n Mens kan nie te versigtig wees nie.”

Richard stoot die deur oop en gaan binne. “Mams, wa’ is julle?”

Sy broer, Cyril, kom die vertrek binne. “Ek’s alleen hier.”

“Genugtig, Cyril! Sit daai music sagter. Ek kan myself skaars hoor dink. Is jy dan doof of iets?”

“Hoekom moet ek dit sagter sit, Oupa? Dis my music wat ek in my kamer speel.”

“Miskien, ja, maar jy bly nie alleen hier nie. En as jy dit nie nou sagter sit nie, smyt ek die ding deur die venster!”

Brom-brom sit Cyril die musiek effens sagter.

“Waarheen is Mams-hulle?”

“Hulle is na auntie Stienie-hulle toe. Da’ is glo ’n biduur of iets. Ek gaan ’n ent stap!”

Cyril stap driftig by die deur uit. Richard kyk hom stil aan en draai dan om. Net toe hy wil uitstap, besef hy die musiek speel nog. Hy sit dit driftig af.

“Die mannetjie dink ook net sover soos sy neus lank is. Hy weet dis elke vyf minute loadshedding. ’n Mens kan nie onnodige goed aanlos as jy nie by die huis is nie!”

Net toe Richard wil uitloop, val sy oog op ’n pakkie op die grond. Hy buk om dit op te tel.

Dis in bruinpapier toegedraai. Hy maak die pakkie versigtig oop. Dit lyk vir hom baie verdag.

Richard snak na sy asem toe hy sien wat in die pakkie is: unga, tik en Mandrax!

“Wat de duiwel maak Cyril met dié goed?! Is hy van sy kop af?!

“Vanaand is ons twee aanmekaar. Ek gaan nie toelaat dat hy sy lewe met drugs verwoes nie! Hy bly nog my broer ...”

DIS lank ná middernag toe Cyril terugkom. Hy is verbaas toe hy Richard in sy kamer aantref.

“Richard! Wat maak djy in my kamer, huh? Djy het niks hie’ verloor nie!”

Sy oë is wild in sy kop en hy is onvas op sy voete.

Richard kyk hom stip aan. “Waar kom jy nou vandaan, Cyril? Is dit nou die tyd om hier aan te kom? En kyk hoe lyk jy!”

“Is djy nou my oppasser, huh? Wat traak dit jou wa’ ekke was, huh?! Dis my biesagheid!”

“O, ma’ dis waar jy verkeerd is. Dit ís my besigheid. Jy is onder ons dak. Jy weet hoe worry Mams wanne’ jy so laat nog buite is. Pa draai in sy graf om as hy jou nou sien. Ek wag: Wa’ was jy?”

“Relax, ek was ma’ net by Baai. Ek’t hom gehelp stocktake. Wat’s die big deal?”

“Nou next time kom jy nie weer so laat van Baai af nie! En wat is dit dié, huh?!”

Richard hou die pakkie uit na Cyril. Dié raak spierwit, maar try sy pose hou. Hy gryp die pakkie uit Richard se hand.

“Wa’ kry djy dit? Djy het niks reg om in my goed te krap nie! Ek krap nie in jou goed nie. Hoe durf djy in my goed krap?”

“Ek het nie nodig gehad om in jou goed te krap nie. Die pakkie het oop en bloot op die grond gelê toe ek jou music kom afsit het.

“Ek vra weer: Wa’ kry jy dit, en hoe lank gebruik jy dit al?”

“Dis nie myne nie, en ek gebruik nie dit nie. Ek’t nie eens geweet wat in die pakkie is nie. Iemand het my gevra om dit vir my vriend te gee. Ek sou dit môre gee. Ek wou net my vriend ’n favour doen.”

“Jy’s doodreg. Jy sou dit vir hom gee, maar jy gaan nie meer nie. Ek wil sien hoe jy dit vernietig.”

“Is djy mal in djou se kop? Wiet djy hoeveel dié goed kos? My vriend sal my sat maak!”

“So, dan het jy heeltyd geweet wat in die pakkie is? En moenie vir my try sê jy gebruik nie die goed nie! Ek is nie onnooslik nie!

“Wat besiel jou, Cyril? Ons is nie so grootgemaak nie. Weet jy daai junk kan jou liggaamlik en geestelik uitroei?”

“Ag, moenie vir my preek nie. Ek weet wat ek doen. Ek’s nie ’n druggie nie! Toe, gaan uit my kamer; ek wil slaap.”

Richard draai sugtend om. Voordat hy die kamerdeur toetrek, kyk hy lank na Cyril. “Jy is miskien noggie ’n druggie nie, ma’ jy’s vinnig op pad soontoe. Beware; van nou af watch ek jou every move!”RICHARD se ma en suster, Joan, maak kos toe hy die volgende dag van die werk af kom.

“Aitsa, ma’ dit ruik lekker! Julle maak my sommer honger!”

Hy soen albei vlugtig op die wang en kyk dan in die rondte.

“Is Cyril nog nie hier nie?”

“Hy was hier, maar het iets gemompel van Baai. Toe raak hy hier weg,” antwoord sy ma.

“Hy bly deesdae by Baai. Ek wonder hoekom hulle sulke groot tjommies is. Da’ is something fishy aan die gang in daai winkel.”

“Ag, los hom, Richard. At least weet ons wa’ hy is en dan bly hy ook uit die moeilikheid uit.”

DIS skuins ná middernag toe die phone lui.

Richard wip soos hy skrik. Hy het ingesluimer terwyl hy in die voorkamer vir Cyril gewag het.

Hy reik slaperig na die phone. As dit Cyril is, beter hy ’n goeie verskoning hê oor hoekom hy nog nie by die huis is nie.

“Ja? En toe, wa’ is jy?” vra hy sonder om te groet. Hy skrik toe hy ’n vreemde, saaklike stem hoor.

“Kan ek met Richard, Cyril Swarts se broer, praat?”

’n Yskoue hand omklem Richard se hart. “Dit is hy wat praat.”

“Ek is bevrees ek het slegte nuus, Cyril is onder polisiebewaking in die hospitaal.”

“In die hospitaal! Maar hoekom is hy onder polisiebewaking? Wat het gebeur?”

“Die polisie het hom geskiet. Hy is in ’n kritieke toestand. Dis beter as u dadelik inkom hospitaal toe.”

  • Lees volgende Sondag verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters