2 jaar gelede
Phillip neem sy vrou om Tania te konfronteer
 ~ 

HAAI, Sonlanders! In deel 1 van GWEN KORDOM se kortverhaal “Die Kwaliteit van die Liefde” het ons geleer Phillip Meyer en sy vrou, Emma, staan op skei. Hulle het vervreem geraak ná die verdrinking van hulle seuntjie, Tatum. Emma betrap haar man met haar ou vriendin Tania, wat inmove op Phillip. Emma besef Phillip ly ook oor hulle kind se dood. Lees nou verder.

‘EK HET my handsak vergeet,” ruk Tania se stem haar terug na die werklikheid.

“Phillip, kan jy onthou waar ek dit gesit het?” vra sy styf.

Hy beweeg na die kombuis en verskyn binne ’n paar sekondes met ’n swart handsak in sy hand.

“Hier is dit,” sê hy voordat hy dit oorhandig.

“Dankie,” mompel Tania deur stywe lippe voordat sy by die deur uitstoom.

“Ek kry die tee,” sê Phillip.

Toe hy met ? skinkbord terugkeer, het Emma haar emosies onder beheer.

Haar blik volg sy bewegings toe hy die skinkbord neersit en kort daarna die tee skink.

“Kom sit,” nooi hy sag. “Ons moet gesels, Emma.”

Sy neem die koppie tee voordat sy oorkant hom gaan sit.

“Is jy seker jy wil skei, Emma?”

“Ja, ek is seker,” antwoord sy, maar slaan haar blik vinnig grondwaarts.

“Ons kan vir huweliksberading gaan, Emma. Ek wil nie skei nie.”

Hy leun vooroor. “Ná alles voel ek ons het net mekaar oor. Dis tog ál wat tel en wat Tatum sou wou gehad het.”

“Dink jy berading gaan help ná wat ek vroeër gesien het?” vra Emma.

“Verdomp, Emma, wanneer gaan jy leer om te luister?

“Tania beteken niks nie. Sy was immers jou vriendin.

“Deur haar vertellings kon ek aflei hoe jy van dag tot dag kwyn.

“Ek was rasend van kommer.”

“Ag, asseblief!” ontplof Emma. “Hoekom sê jy dit nie reguit nie, Phillip?!

“Jy neem my kwalik oor ons kind se dood. Ek is die rede dat Tatum verdrink het.”

Sy blik sak onder haar woede.

“Lafaard!” stoom sy voort.

“Kyk ten minste in my gesig wanneer ek met jou praat!”

Sy blik soek weer hare. “Emma, daar was nooit ’n affair nie.”

“Wat soek sy dan in jou woonstel?” Die bitterheid slaan in haar stem deur.

“Ek het haar laat kom om my te help om nader aan jou te beweeg. Miskien sou jy na haar luister.

“Hoe moes ek raai dat jy sulke gedagtes rondom ons koester?

“So, dít is waar die koue antagonisme vandaan kom. Jaloesie?

“Emma, ek het alles gedoen wat jy gevra het. Uit ons huis getrek. Jou ’n kans gegee om dinge te verwerk ...

“Ek is moeg van jou insinuasies. Dink wat jy wil.” ’n Wit kring lê om sy mond. Hy vlieg op.

“Wag!” Emma skrik vir die desperate toon in haar stem.

Hemel, wanneer het sy so pateties geword?

Vir ’n oomblik gaan sy terug na die kere dat sy vir Tania in haar man se geselskap gevind het.

Phillip het altyd verlig gelyk om haar te sien. Was sy werklik so verdiep in haar pyn? So verkeerd?

Maar mev. Pienaar, hulle buurvrou, het haar gewaarsku teen Tania.

“Wees op jou hoede vir daai een, Emma. Sy wil jou man afrokkel.”

Wat weet sy? Sy kan skaars ’n sentimeter voor haar sien.

Dit kom nou van luister na haar buurvrou.

“Emma, ek is moeg vir hierdie kat-en-muis-speletjie.”

“Phillip, ek is jammer. Jy is reg.” ’n Liggie van hoop flikker in sy oë. Sy steek haar hand uit na hom toe. Sy voel hoe sy vingers warm om hare sluit.

“Ek dink dit is tyd dat ons ’n einde aan die bespiegeling maak,” sê hy.

“Ek stem saam.”

“Kom, ek weet waar ons moet begin,” sê hy.

Sy volg hom sonder huiwering. Minute later gaan die voordeur van Tania se meenthuis oop.

Tania sukkel om haar verbasing te verberg toe sy haar besoekers eien.

“Phillip? Emma?” kry sy dit eindelik uit.

“Ons wil iets met jou bespreek,” sê Phillip.

Sy kyk eers huiwerend na Emma voordat sy die deur wyer oopswaai . Daarna beduie sy hulle mag maar sit.

“Nee, dankie, ons gaan nie lank wees nie,” gaan Phillip voort. “Ons het besluit om vir berading te gaan en ons huwelik ’n tweede kans te gee.

“Dankie dat jy bereid was om te help terwyl ek en Emma albei soekend was in die donker tyd.

“Ons het besluit om op ’n ander plek oor te begin. ’n Nuwe huis en ’n nuwe lewe.

“Ek is verskriklik jammer as ek dalk op enige manier of aksie jou hoop vir ons twee gegee het.

“Jy het vanuit die staanspoor geweet my hart het nog altyd aan Emma behoort.”

Tania pen hom ’n paar sekondes met haar blik vas voordat sy haar na Emma draai.

“Jy is ’n gelukkige vrou, Emma. Die kwaliteit van Phillip se liefde is na aan die waarde van goud.

“Enige man sou teen dié tyd aanbeweeg het. Koester dit, maar bo alles, koester hom.

“Baie dankie vir jou eerlikheid, Phillip. Ek wens julle alle voorspoed toe.”

Emma weet met die sekerheid van ’n vrou dat Tania dieselfde liefde vir haar man voel, daarom steek sy haar arms uit. Die twee vroue omhels mekaar.

“Vergewe my ook, Tania. Vir alles,” sê Emma eenvoudig.

“Ek het jou reeds vergewe.”

Daarna verlaat hulle die huis terwyl Tania hulle agterna staar.

’n Halfuur later staan Emma en Phillip langs ’n klein wit graf in die plaaslike begraafplaas buite die dorp. Phillip hou haar vertroostend teen hom vas.

Haar stem is bewerig toe sy praat: “Tatum, ek weet jy kan my stem hoor.

“Mamma vra om vergifnis. Ek het misluk as ’n moeder daardie onvergeetlike dag. Ek moes nie aan die slaap geraak het nie.

“Juis daarom kon ek jou nie red nie. Dis so seer hier binne-in Mamma se bors.”

’n Rou snik skeur deur haar. “Mamma belowe – eendag sien ons mekaar weer. Ek, jy en Pappa sal eendag weer saam wees.

“Ons is oneindig lief vir jou. Jy sal ons klein seuntjie bly.”

Terwyl sy huil, verbeel sy haar sy hoor Tatum lag. Sy draai haar oë opwaarts. Teen ’n wolk verskyn ’n gesig. Tatum.

Hy glimlag oopmond voordat die wolk terugtrek en verdwyn.

Hier waar sy in Phillip se arms staan, weet sy dis hoe Tatum dit wou gehad het.

Hierdie oomblik was net vir haar bedoel. ’n Gevoel van vrede daal oor haar neer.

Toe weet sy met die sekerheid van ’n moeder se hart dat haar seuntjie sag rus in die hande van die Hemelse Vader.

Daar is hy vir altyd veilig. Vir die eerste keer in ’n lang tyd breek ’n glimlag oor haar gesig.

Waar klein Tatum nou is, is hy gelukkig ...

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS dit gerus na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters