2 jaar gelede
Nog ’n skok wag op Emma toe sy papiere af-drop
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n kortverhaal in twee dele uit die pen van GWENDOLINE KORDOM. Sy noem dit “Die Kwaliteit van die Liefde”. Lekker lees!

DIE man en vrou staan in ’n vurige omhelsing. Hulle is onbewus van haar teenwoordigheid in die woonstel se deur.

Haar oë is vasgenael op hulle liggame, wat styf teen mekaar gedruk is.

Sy sluk die trane verbete terug. Hoe durf hy so niks dink van hulle huweliksbeloftes?

Of is dit betekenisloos, soos die flerrie in sy arms?

Hulle is skaars drie maande van bed en tafel geskei.

Sy sluit haar oë vir ’n oomblik en probeer die beeld van hulle twee uitblok, maar die prentjie is vasgeteken in haar brein.

Hy word bewus van haar teenwoordigheid en bevry hom skielik uit die vrou se greep.

’n Vae blos huiwer op sy wange. Sy blik probeer hare vermy toe hy sê: “Emma, dis ’n verrassing. Ek het jou nie verwag nie.”

“Duidelik nie,” sê Emma.

Die vrou draai haar kop in Emma se rigting. Herkenning flits in haar oë. Sy gee ’n tree agteruit.

“Emma! Ek het jou byna nie herken nie. Jy lyk so anders.”

Sy beduie. “Jou hare lyk anders.”

Ag asseblief, Tania, los die toneelspel vir iemand wat jou nie ken nie, dink Emma.

Tania ... haar sogenaamde vriendin. Dié een moes sy eintlik gesien kom het.

Tania wou nog altyd alles hê wat sy besit.

Haar visier was nie net ingestel op haar klerekas en huis nie, dit was duidelik ook op haar man.

Emma ignoreer haar en wend haar na Phillip.

“Ek het dít vir jou gebring,” sê sy terwyl sy nader stap.

Sy wenkbroue lig van verbasing. Sy plak die bruin koevert op die koffietafel neer. “Dit is die skei­papiere ...”

’n Stilte volg ná haar woorde.

“Emma, ek kan verduidelik. Sit, asseblief? Ek maak tee.”

Voordat sy kan protesteer, het hy verdwyn.

Die twee vroue staar ’n rukkie lank na mekaar.

Die stilte rek langer en langer terwyl breekware op die agtergrond raas.

Wie maak nou tee terwyl so ’n gewigtige saak in die lug hang?

Phillip Meyer, natuurlik.

Hy glo mos alles kan met ’n koppie tee gered word.

“Ek is jammer oor alles.”

Tania se geveinsde simpatie slaan dwarsdeur haar stem.

Emma probeer haarself kalmeer. Haar bene, wat oomblikke gelede nog so sterk was, is baie na aan knak.

Maande lank het ander haar probeer waarsku, maar sy was vasgevang in haar droefheid en seer.

“Jy was ’n goeie mamma vir Tatum,” sê Tania skielik uit die bloute.

Emma is na aan stik.

“Jy hou jou mond oor my kind. Moet nooit weer sy naam voor my noem nie.

“Hoor jy my!” sê Emma bars.

“Ek probeer net simpatiseer, Emma.

“Dis nie nodig om ongeskik te wees nie.

“Geen wonder Phillip het aan­beweeg nie.

“As jy dalk meer van ’n vrou vir hom was, sou jy nie nou soos ’n bedelaar op die kantlyn gestaan het nie.

“Mans raak moedeloos wanneer ’n vrou hulle wegstoot.

“So, kom net oor jouself. Phillip aanbid duidelik nie meer die grond waarop jy loop nie.”

Emma is op haar voete en met een tree voor Tania.

Sy druk byna haar wysvinger teen haar voorkop.

“Jy het absoluut geen idee waardeur ek is nie. So, moenie jou ongevraagde opinie op my probeer afdwing nie.

“Ek sien wat jy probeer doen. Jou pogings is pateties.

“Geen wonder jy is op 35 nog enkellopend nie.

“Geen man wil jou hê nie. Hulle soek duidelik meer as net ’n mooi gesig en lyf.”

Die onverwagte klap teen haar wang laat Emma terugsteier.

“Dis nou genoeg!” klap Phillip se stem agter haar.

“As julle nie soos volwasse mense kan optree nie, kan julle maar albei gaan. Daar is die deur.”

Emma draai geskok na hom. Sy voel hoe die woede binne-in haar taan toe sy bewus word van die donker kringe om sy oë en die dae oue stoppelbaard.

Sy sien die aftakeling van liggaam en gees.

“Ek loop liewer,” sê Tania voordat sy by die deur uitstorm.

Man en vrou staar woordeloos na mekaar.

“Was dit nou nodig?” wil hy weet voordat hy op die bank neerplons, sy kop tussen sy hande vasvang en net so bly sit.

Sy wil na hom gaan en hom vertroos.

Vir die eerste keer besef sy dat hy ly.

Dat die ongeluk vir hom ook ’n harde slag toegedien het.

Hoe vertroos sy hom terwyl daar geen emosie is nie?

Haar oë val op ’n foto teen die muur.

Haar voete beweeg outomaties tot daar.

In die raam is ’n foto van hulle as ’n gesin.

Onderaan lees sy die woorde: “Emma, Phillip en Tatum.”

Sy onthou die spesifieke dag. Dit was Tatum se eerste verjaardag.

Sy mondjie is oop en sy kop opwaarts gedraai, na sy ouers, wat hom aan elke handjie vashou.

Haar blik word wasig. Die trane drup oor haar wange.

“Emma,” fluister Phillip teen haar oor.

Hy gryp haar in ’n omhelsing vas.

Rou snikke skeur uit haar bors. Sy voel sy hande vertroostend oor haar rug vryf.

Die reuk waarna sy dae aaneen verlang het, hang in haar neusgate.

Emma klou vir lewe en dood. Haar herinneringe lig die sluiers van gister.

Sy onthou die hitte van die somerson op haar vel waar sy langs die swembad ingedut het.

Sy onthou hoe haar onderbewussyn haar waarskuwend wakker gemaak het toe die absolute stilte neerdaal.

Sy onthou weer die ontsetting by die besef dat Tatum, wat net ’n rukkie tevore nog langs haar gesit en speel het, nie meer daar was nie.

Nog voordat die bloed in haar are gestol het, het daardie oorverdowende stilte soos ’n doodskleed in die lug gehang.

Sy het Tatum se lewelose lyfie sekondes later in die swembad gesien dryf.

Haar gille het deur die stilte geskeur.

Toe was dit reeds te laat. Hy was weg.

Sonder waarskuwing of ’n kans om vir sy lewe te veg.

Daarna het die skuldgevoelens haar dag en nag gery.

Die verwyt het soos ’n swaar klip in haar binneste gelê.

Dit het later ’n muur tussen haar en Phillip gevorm.

Duisende vrae het haar snags wakker gehou.

Die ergste verwyt waarmee sy moet saamlewe, is die feit dat sy hom nie eens een keer om hulp gehoor roep het nie.

  • Lees volgende Sondag deel 2.

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters