Verlede jaar
Nattigheid in sy oë noop haar om nog uit te vind
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n kortverhaal uit die pen van NICOLETTE FOULDIEN. Sy noem dit “Oom Lucas se Kinders”.

‘VOLGENDE ...”

Die figuur wat die ruimte agter die glas­afskorting vul, lyk bedremmeld.

Skouers geboë. Gesig moeg. Hare en baard slordig en grys. Die hande wat op die toonbank rus, is verrimpel van die son. Vingers krom van rumatiek. Die beweging van die gekreukelde geldnote wys die bewing in sy hand.

In die vyf jaar dat ek as toonbankklerk by die onderhoudskantoor werk, het ek al baie sulke figure gesien. Mans wat deur die hof gedwing word om vir hul kinders te sorg.

’n Lewensgroot plakkaat aan die oorkant van die vertrek wat verder aankla. “As die hof jou moet dwing, het jy reeds jou kind gefaal.”

My tyd hier agter die toonbank het my van beter geleer. Ek het al gebroke pa’s gesien. Verslae pa’s. Desperate pa’s.

“Kan ek help, Meneer?”

Die gesig is nuut. “Ek kô net geld wegbring virrie kinners.”

Die stem is sag. Ek moet oorbuig om te hoor wat hy sê.

“Meneer se naam en van?”

“Lucas Booi.”

My vingers vlieg oor die sleutelbord. Niks. Ek kyk op na die oom, wat gehipnotiseer na die bewende note in sy hand staar.

“Oom se ID?”

Hy krap haastig in sy sak en plaas die gehawende boekie in die opening onder die glas. Ek druk die ID-nommer in. Niks.

“Oom, het die hof Oom gelas om onderhoud hier te kom betaal?”

Hy kyk my eers verdwaas aan en skud dan sy kop.

“Nou wie’t gesê Oom moet hier kom betaal? Oom se naam is nie in ons stelsel opgeneem nie.”

Hy skud sy kop verwese.

“Niemand,” antwoord hy skaars hoorbaar.

“Oom, as niemand gesê het Oom moet hier kom betaal nie, is dit miskien beter as Oom die geld vir die kinders se ma gaan gee of vir die een in wie se sorg hulle is?”

“Ek kannie ...”

Hy vou die verkreukelde note in sy hand styf op en druk dit terug in sy broek se sak.

“Da’ groet ek ma’ wee’, kind.” Ek sien die nattigheid in sy dowwe oë en sluk aan die knop wat skielik in my keel kom lê. My oë flits na die groot muurhorlosie. Vyf voor een. Byna etensuur.

“Oom, wag!” roep ek toe hy die deur bereik.

“Wag buite vir my. Ek wil graag met Oom gesels.”

Hy knik.

Ek skuif die “Closed”-bordjie voor die ruit en gryp my handsak.

Hy sit verwese op die bankie voor die hofgebou en wag.

“Oom, kom ons stap tot by die kafeetjie om die draai. Ek koop vir ons koeldrank en ’n toebroodjie, dan gesels ons ’n bietjie?” Weer knik hy net verwese en beur regop.

Ek praat eers weer toe ons oorkant mekaar met die koeldranke en toebroodjies voor ons by die kafee­tafeltjie sit.

“Wil Oom my nie vertel wat gebeur het nie? Hoekom is die kinders weg? Is hulle by hul ma?”

Hy staar lank na my en sug diep voordat hy praat.

“Wat sillit help, my kind?”

“Dalk kan ek Oom help. Ek ken maatskaplike werkers en ...”

“Sy’t nettie kinners gevat en geloep ...” onderbreek hy my.

“... gesê Jonty is ’n bieter man as ek. Innie bed, jy wiet?” Ek knik.

“Ek het gesmeek sy moet’ie kinners los. Ek is oud, ma’ ek ka’ na hulle kyk. Bieter as sy!” Sy stem styg en hy bly verskonend stil.

“Dis reg, Oom. Ek verstaan. Vertel, ek luister.”

“Jonty slat ha’ ennie kinners, ma’ sy willie hoorie. En wie kyk na’rie kinners as hulle al twie getik is?” Ek skud my kop uit jammerte.

“Was al drie keer da’ by hul hok in Jonty se niggie se jaart. Hulle djaag my soes ’n hond weg! Willie eens hê ek moet’ie kinners sien nie. Kyk hoe’t hulle my laas kee’ geslat.” Hy wys na die merk onder sy linkeroog. Ek sien nou eers die persblou skynsel op sy donker vel.

“My sus, Dina, sê ek moet hulle uitlos; hulle ga’ my doodslat oo’ kinners wattie ies myne issie.”

My mond val verbaas oop. “Oom? Nou hoe nou?”

“Mense sallie ve’sta’ nie, my kind. Ek het klein Rienie en Boetie grootgemaak asof hulle my eie is. Hulle kennie ’n anne pa nie. Hulle is myne. Die Jirre het my gevra om na’rie kinners te kyk, wan hulle ma is somma net plein sleg. Sy’t my gevat net vi’ my oumenspensioen. Ek wiet dit, ma’ dit makie sakie. Met dai geld kan dai kleintjies iet en aantrek. Ek het vi’ hulle gesôrre.” Daar is ’n snik in sy stem.

“Oom, volgens wet het Oom geen verpligtinge teenoor die kinders nie. Dink Oom nie dis vir die beste as Oom van hulle vergeet en aangaan met Oom se lewe nie?”

“Lewe? Watte’ lewe, my kind? Dai twie kleintjies is my lewe! Dis dee’ hulle wat ek elke oggend’ie krag het om op te sta’. En vi’ wie se beste, my kind? Dis vi’ niemand se beste as dai kinners honge’ ly en mishannel wôrt’ie. Ek en sus Dina ka’ vir hulle sorg, maa’rie wet sê nee. Dis mossie my kinners’ie.” ’n Traan loop oor sy verrimpelde wang.

“Nou waar is hul biologiese pa, Oom?”

“Rienie se pa is doodgestiek toe Sanna nog gedra ’it. Sy wietie wies Boetie se pa nie. Het mos ha’ lyf sta’e ve’koep vi’ tik.”

“Ai toggie, Oom. Dis nou ’n ding. Gee my kans om met iemand te gesels. Kan ek Oom se adres kry?”

“Hoeko’? Wat wil djy doen?” vra hy wantrouerig.

“Moenie worry nie Oom. Dalk kan ek Oom help.” Sy dowwe oë helder effens op toe ek die pen en papier uit my handsak haal.

“My grootste wens is om my kinners wee’ by my te hê. Vadersdag lê om die draai. Ek soek niks van die Here nie. Net my kinders, dis al ...” praat hy byna met homself terwyl ek die adres neerskryf.

NÁ ’N stil Vrydagmiddag verlaat ek my kantoor. Ek herken onmiddellik die figuur op die hofbankie.

Hierdie keer staan hy flink op toe ek nader stap.

“Ka’ ek jou nooi vir ’n koeldrienk en broodjie by die keffie omie hoek?”

Ek lag hardop en knik.

“Natuurlik, oom Lucas, maar net as ek vir myself kan betaal.”

Hy knik.

Die man oorkant my lyk anders as tevore. Sy oë is blink en helder. Sy gelaat sagter. Sy klere is skoon en netjies. Hare en baard geskeer.

“En hoe gaan dit deesdae met Oom?” vra ek, al is dit eintlik ooglopend.

“Goed my kind. Somma baie goed.”

“Ek is so bly om dit te hoor,” antwoord ek opreg.

“Ja, en alles dee’ djou.”

“Ag nee wat, Oom. Ek het net gedoen wat van enige een in so ’n situasie verwag word.”

“Nee, my kind. Djy hettie ekstra myl geloep en liewens ve’anner. Deur djou hettie magistraat my saak aangehoo’ en saam’itie maatskaplike werkers gesê ‘is goed lat my kinners by my en sus Dina bly. Ek dank die Jirre da’voo’. Wassittie vi’ djou nie ...”

Oom Lucas stoot die handgemaakte kaartjie oor die tafel. Dis kleurvol gekrap deur kleuterhande. Die vetkryt-handskrif in oneweredige letters.

“Gilikige vadersdag papa. Liev e ju. Va jo kiners. Rienie en Boetie.”

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters