2 jaar gelede
’n Briefie in die mandjie onthul als oor die baba
oom sonnie
Geseënde Kersfees  ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die tweede aflewering van ERNEST LOTH se kortverhaalDie Onverwagte Geskenk”. Laas het ons kennis gemaak met Charmaine, wie se vyfjarige seuntjie die vorige jaar rondom Kersfees in die openbare swembad verdrink het. In dié tyd van pynlike herinneringe lui die deurklokkie en haar dogter, Mandy, vind ’n baba in ’n mandjie op die drumpel. Iets aan die kind lyk vir Charmaine bekend. Lees nou verder.

IETS aan die kind lyk bekend. Wát, weet sy nie nou nie. Dit lyk vir haar of die baba so drie of vier maande oud is.

Die baba se ogies gaan oop. Hy gee ’n tandelose glimlaggie en dit pluk aan Charmaine se hartsnare.

Sy steek haar arms uit en lig die baba uit die mandjie. ’n Wit koevert lê tussen die kombersies met gedrukte sprokieskarakters.

Sy tel dit op en stap met die baba na haar slaapkamer en lê die kind sorgvuldig op haar bed neer. Sy hoor haar man en dogter dieper in die huis. Mandy vertel haar pa seker van die onverwagte gas.

Charmaine vou die koevert met bewend hande oop en lees: My naam is Lucinda Meyer. Ek werk in ’n pub in Wellington.

Ek het Stanley daar ontmoet. En ons het vriende geword. Hy’t gesê hy staan op skei...

Hulle sou skei, dink Charmaine. Maar ná Jacque se ontydige dood het hulle in droefheid nader aan mekaar beweeg en als uitgesorteer.

Die probleem tussen hulle was nie van so ’n aard dat hulle dit nie kon oorbrug nie.

Sy lees verder: Ek het pregnant geraak van Stanley en ek is jammer dat dit gebeur het.

Ek kan nie na die kind kyk nie. Kyk asseblief mooi na my kind. Ek weet julle sal hom kan gee wat ek nie vir hom kan gee nie: ’n Huis, liefde, gelerendheid.

Sy bly roerloos sit. Die baba maak kermgeluidjies. Charmaine plaas haar hand teen die lyfie.

Sy’s sprakeloos. Sy kyk weer na sy gesiggie. Nou verstaan sy waarom die kind so bekend gelyk het.

Sy voel die kind is nat en gaan haal een van die kimbies wat haar suster laas daar vergeet het toe sy met haar baba by hulle gekuier het.

Sy maak die baba droog. Merk dis ’n seuntjie.

Sy hoor hoe Stanley die kamer binnekom met Mandy agterna.

“Is die kind oukei, Mammie?” vra Mandy.

“Ja, Mandy, hy is oukei. Ek het hom nou net drooggemaak.”

“Wat het ons hier?” vra Stanley.

Charmaine antwoord nie. Stanley kan aan sy vrou se houding sien iets het oor haar lewer geloop.

“Is ... is hy nie honger nie, Mammie? Of dors?”

“Die baba is fine, Mandy. Gaan maak gou vir ons tee en gooi sommer nog water op die rys.”

“Gaan ons hom hou, Ma?” vra Mandy.

As haar ma se kyk pyle was, was sy dood.

“Gaan maak die tee, Mandy,” sê sy deur haar tande.

Mandy vries. Sy ken daai toon.

Oe-la-la, dink Mandy, haar ma wil haar uit die geselskap hê.

Sy ken haar ma. Drink nie sommer tee dié tyd van die dag nie. Maar sy verlaat die vertrek.

Charmaine maak die kamerdeur toe. Haar onderlip bewe. Stanley volg elke beweging wat sy maak.

“Sit,” sê sy.

Hy gaan sit op die regterpunt van die dubbelbed.

“Hoekom het jy my nooit vertel nie? Jy kon mos maar eerlik gewees het met my.”

“Wat vertel nie, Mainey?”

“Dat jy ’n affair aangehad het nie, Stanley!”

“Watse affair?” Hy wys nie dat sy hom onverhoeds betrap het nie.

“Moenie mal speel nie, Stanley! Die meisie in die pub, hallooo? Wellington? Lui dit ’n klokkie ...?”

Hy word stil. Sy weet.

Sy stap na die venster en praat met haar rug na hom gedraai. “Of klink die naam Lucinda Meyer vir jou bekend?”

Hy wil weer stilbly, maar hy weet hy is vas. Hy het oor die tou getrap.

In een bleddie vlugtige oomblik ná ’n paar drankies daai aand toe hy Lucinda huis toe gevat en sy hom binnegenooi het in haar Newtech-huisie op haar ma se jaart ...

“Dit ... Dit het gebeur in die tyd toe ons vervreem was,” probeer hy.

Charmaine draai haar ferm om. “Al het ons op skei gestaan, was ons nie geskei nie. Jy het my steeds verneuk.”

Stanley laat sak sy kop.

“Ek is jammer. Dis ... dis verby. Daar is niks meer tussen ons nie, Charmaine.”

Charmaine beweeg om die bed, vou haar arms en sê: “En dit? Die kind?”

Hy staan op.

Charmaine loop tot voor hom en druk met haar vinger teen sy bors. “Jou. Kind. Stanley! Jou kind!”

Sy gee die brief aan hom om te lees. Hy lees dit aandagtig deur. Sy gesig word uitdrukkingloos.

Sy blik gaan na die baba op sy bed. Hy besef daar skuil waarheid in die woorde dat wat in die donkerte gebeur, in die lig geopenbaar sal word.

“Hoe ... voel jy? Moet ons maar die kind aanneem? Ons sal maar net die regte prosedure volg.”

“Dit behoort nie ’n probleem te wees nie, Stanley. Ons het die brief as bewys dat die ma nie by magte is om na die kind om te sien nie,” sê Charmaine beheers.

Sy besef dit baat nie om wrokkig te wees nie. Dis moeilik om hom te vergewe vir so iets. Dat hy hom gedeel het met iemand buite hulle huwelik.

Hy’t haar daarmee seergemaak. Sy is lus om hom pad-op te stuur. Hom te vra om sy tasse te pak en by Lucinda te gaan intrek. Uit haar en Mandy se lewe te verdwyn.

Maar die probleem is – sy is nog lief vir hom. Is dié voorval nie juis ’n toets van haar liefde vir hom nie? Hier voor Kersfees?

Here Jesus, gee my tog die regte besluit. Dis weer sulke tyd. Voor Krismis het U my kind kom haal. Voor Krismis gee U my weer ’n kind. Van my eie man. By iemand anders … Hoe vol moet ’n mens se beker wees voordat die seerkry ophou, Here? Hoe vol? Of is my beker halfvol, Here?

Mandy bring die tee.

“Dankie, my kind,” sê sy.

Stanley is stil.

“Het julle gestry?” vra Mandy.

“Hoekom?” vra Charmaine.

“Julle is besonder stil ...”

“Moet ek haar sê, Stanley?”

Hy knik. Sy vertel Mandy alles.

Mandy se mond hang eers oop. Tot haar ma se verbasing verhelder Mandy se gesig. Sy het die teenoorgestelde verwag.

“Dis... dis wonderlike nuus, julle! Ons moet maar die blink kant van die saak sien, Ma ... Pa!”

“Ek’s regtig jammer, Mandy ... Charmaine ... Ek is maar net ’n mens. Ek was swak.”

“En hier lê die bewys van jou swakheid, op my bed!” sê Char­maine sarkasties.

“Moet dit nie invryf nie, Mainey.”

Mandy smile. “Cheer up, julle. Dis amper Krismis. Sien die saak so: Die Here het geneem. En nou het Hy gegee. Dis sy manier om te sê Hy is jammer vir Ma se ... vir ons ... loss. Die baba is ... ’n onverwagte Kersgeskenk!”

Charmaine is verras deur haar dogter se wysheid.

“Wat gaan ons hom noem?”

Charmaine kyk na Stanley. “Wat van Andy? Dan is daar letters van ons al drie se name in sy naam!”

Charmaine smile en tel die baba in haar arms. “Ek dink dis tyd vir Andy se melkies. Mandy, sy melkbottel lê in sy mandjie.”

“Ons name rym mooi: Mandy en Andy!”

Mandy kry die bottel en plaas Boney M se Krismis-CD in die DVD. Die klank van “Mary’s Boy Child” vul die huis met blydskap.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS gerus na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters