Verlede jaar
June agtervolg die soldaat en vind uit wie hy is
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag deel 2 van NEVILLE PEDRO se kortverhaal “Die Weggooikind”. Laas het ons kennis gemaak met June, wat een aand die deur vir ’n soldaat oopgemaak het. Die volgende dag besef haar ma, pa en boetie, Johnny, sy is vermis. Die cops begin soek. Intussen agtervolg June die soldaat, maar hy kom dit agter en gryp haar. Hy wil weet wat sy soek.

‘JY’T laas nag aan ons deur geklop. Eintlik moet ék jou daai vraag vra!”

Hy voel liewer om haar te ontwyk, want wat sal sy tog verstaan? Hy wou nie gaan klop het aan hulle deur nie, maar hy kon nie anders nie.

“Praat, watter tipe soldaat is jy wat nie jou man kan staan nie?”

“Die tipe wat jy nooit sal verstaan nie,” antwoord hy op die man af.

Dis nie wat sy wou gehad het nie. Hy lyk nou anders in die gesig. Sy wil vloek, maar vertrou nie die vrede nie. Dié is ’n vreemdeling wat sy van geen kant af ken nie.

“Hoekom het jy aan ons deur kom klop? Wie is jy?”

Hy draai weg en kyk nie na haar nie terwyl sy verward na hom staar.

Ek is skoon deurmekaar, dink sy. Daar moet tog iets wees. Niemand sal soveel moeite doen en dan net verdwyn nie. Iets is aan die gang; sy kan net nie haar vinger daarop lê nie. Van agter af lyk hy nogal sterk en ...

Sy kom stil tot langs hom. Hy sug en vryf oor sy kop.

“Jy moes my nie gevolg het nie. Jy’t dinge in my kop opgewakker.

“Nou is daar nie omdraai na van waar ek kom nie, maar ai tog. Ek besef ek het ’n fout gemaak om hierheen te kom. Dis ’n fout wat ou rowe gaan oopkrap.

“Dis net dat dit een of ander tyd tog tot op ’n punt moes kom.”

“Ek verstaan nou glad nie. Wat probeer jy sê of bereik of doen? Die wonde waarvan jy praat, hoe raak dit my of my gesin? Verduidelik dít asseblief voordat ek ’n aar bars. Of het jy gedink dis beter om vreemdelinge op te saal met jou probleme?”

“Ek het nie gevra jy moet my volg nie. Jy’t uit jou eie gekom oor jy nie jou neus uit ander se sake kan hou nie. Jy’s nie eens bang jy kan seerkry nie. Loop en volg mense so asof iemand jou iets verskuldig is.

“Wie dink jy is jy, of is dit maar jou gewoonte om te bekruip?”

“Wat? Nee, glad nie! Ek het ook nie gevra jy moet aan ons deur kom klop nie.”

Gedurende die onderonsie besef hulle hulle kyk mekaar vir die eerste keer in die oë. Dit bring die stryery skielik tot ’n einde. Dan begin dit skielik weer.

“En by the way, hoekom het jy vir my dankie gesê? Jy ken my nie eens nie. Dit het veroorsaak dat ek jou begin volg het. Op daai oomblik het ek gevoel dié klop was nie blote toeval nie.”

“Ek dink ons moet terugdraai. Die mense by die huis is seker al bekommerd,” sê hy terwyl sy met haar kop effens vorentoe leun. “Ons kan eers gaan as ek duid’likheid het oor die huidige situasie.En wanneer ék so sê, nie jy nie, Meneer.”

“Jy klink belaglik en mors kosbare tyd – iets wat ek as belangrik beskou. Is dit goed en verstaanbaar genoeg gestel vir jou, Juffrou?”

Sy kap terug: “ ’n Uniform, rang ... Jy moet jou wát verbeel!”

“Kom, asseblief, daar is baie om te sê, June.”

“Jy ken my naam?” val sy voor sy woorde in. “Jy ken ons?”

“Kom ons gaan terug, sê ek, dan sal jy weet.”

“En hoekom sal ek dit wil doen? Al ooit gehoor van te ver gekom om om te draai?”

Hy voel moedeloos en besef hy het te doen met ’n aanhouer. Die tipe wat staan op hulle punt, maak nie saak wat nie. Dis final. Met hulle soort kom jy nêrens nie.

“June, moenie laf wees nie.” Hy probeer weer. Miskien is dit dié keer sy luck.

“Soldaat of wat ook al, ek wil weet wat die rede vir jou besoek is. Hoekom juis ons gesin?”

Hy staar met sy kop die hemele in. Sy brein voel of dit terugskuif in sy kop. “Kom ons draai om sodat jy by die huis kom voor–”

“Wat, ha?” val sy hom in die rede.

Hy stap twee, drie treë weg van haar en mompel onhoorbaar iets wat net hy weet wat dit is.

“Dis laat, vroumens!” sê hy vererg.

BY DIE huis sit die drie in die kombuis. Pa, Ma Mien en Johnny elkeen in sy eie wêreld. Pa is ’n man met ’n kort humeur. Op die aanval is hy vinnig, maar selfs hy aanvaar wat nou besig is om te gebeur.

Ma Mien breek die ys: “Wat het my kind aan? Dis koel buite. Die Here moet haar asseblief bewaar.”

Haar oë is vol trane. Almal wat die Ruiters-gesin ken, weet hoe hulle oor hulle kinders voel.

“Ná my kind se dood ...”

“Miena, asseblief,” keer Pa vinnig. “Los hom, hy rus. Dis byna 24 jaar gelede.”

“Vir jou, ja, maar vir my is dit nog soos gister.”

Hulle kind wat hulle destyds verloor het, kon hulle nie besigtig het nie, want die slimmes van daai tyd het dit as ’n siekte beskou.

“Hy’s miskien dood vir jou, maar nie vir my nie.” Die trane oor haar wange maak breër strepe.

Sy huil nou vir twee – haar oudstes. Die deur gaan stadig oop agter hulle.

“June!”roep Pa, wat geskrik het dat hy ruk.

“Ja, Pa, dis ek,” antwoord sy.

“Wat, hhhh ... Waar was jy? Ons ...”

“Ek moes net. Ma, jammer dat ek julle laat skrik het. En dat ek julle so laat worry het.”

Haar ma gryp haar vas met ’n ware moedersomhelsing.

“Ek is net bly jy’s veilig terug, my kind.”

Haar kleinboet kom sit ook arm by met trane. Die soldaat staan nou nader.

“En nou?” vra Ma Mien.

“Dis ek, Ma.”

Ma Mien kyk na hom. “Wat sê jy?” vra sy en Pa saam.

“Ek is julle kind. Ek’s nie dood nie. Ek het dit gisteroggend uit­gevind.”

Ma Mien is deurmekaar. “Dit kan nie wees nie. Ons kind is begrawe.”

“Die vrou wat Ma gehelp het toe ek siek was, het my omgeruil met die dooie kind wat julle begrawe het.

“Sy het my in ’n ou sak klere gedruk en saam met die vullis laat dump en weer kom haal”.

June se oë staan stil in haar kop. Haar mond hang oop.

“Jô, jô, jô, wat de hel!” roep sy uit.

“Ja, Pa,” sê hy en kyk die groot man aan wat verslae sit. “My naam is John. Ek is Pa en Ma se oudste.”

“Vat my na haar toe,” sê Ma Mien met ’n bewerige stem.

“Dis te laat. Dit is daar waar sy moes losmaak wat jare geëet het aan haar.”

“Wat bedoel jy?” vra Ma Mien.

“Sy’s gisteroggend oorlede. Sy het vir julle ’n brief gestuur.”

Ma Mien maak die brief bewerig oop.

Liewe vriendin, ek weet dit gaan jou skok en miskien woedend maak. Ek het te lank dié geheim gedra. Ek wou net ’n kind liefhê omdat ek nie een kon kry nie. My tyd is nou verby, vriendin. Ons John is nou net joune. Ek hoop jy kan my eendag vergewe. Liefde, jou beste maatjie.

Ma Mien druk die brief teen haar bors terwyl die trane loop.

June kyk haar gesin deur en besef dat hulle ’n held in die huis ryker geword het.

Haar ouboet, haar weggooiboeta, wat sy terug huis toe gelei het.

“Sjoe, dit klink snaaks,” sê sy. “My boeta, die weggooikind.”

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS dit gerus na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters