Verlede jaar
Hy sweer wraak toe hy sien hoe swaar sy ma kry
 ~ 

AWÊH, Sonlanders! Hier volg die derde en laaste deel van JASMINE UYS se verhaal “Die Wrede Werklikheid”. Ons het kennis gemaak met Richard, wat saam met sy ma-hulle oorkant Baai se winkel bly. Richard oorleef ’n hijack-poging en is geskok toe hy drugs in Cyril, sy broer, se kamer vind. Daai nag bel die cops en laat weet Richard sy broer is onder polisiebewaking in die hospitaal.

RICHARD staar geskok na die foon in sy hand.

“Hallo, is jy nog daar?”

“Ja, ek is.”

“Gee my net die hospitaal se naam, asseblief? Ek kom dadelik.”

Richard skrik toe sy ma agter hom praat. “En nou? Wie was so laat op die foon? Is iets verkeerd?”

Richard draai stadig om en kyk sy ma stil aan. Hy weet nie hoe hy die nuus moet oordra nie.

Die hemel weet, ná sy pa se dood het sy hulle streng maar goed grootgemaak. Hulle het alles gekry wat hulle nodig gehad het. Hy kan nie verstaan waar Cyril dan verkeerd gegaan het nie.

“Mams, ek is bevrees ek het slegte nuus. Cyril is deur die polisie geskiet. Hy is onder polisiebewaking in die hospitaal.”

Sy ma word wasbleek. “Maar was Cyril dan nie by Baai nie? Ek verstaan nie!”

“Ons moet hospitaal toe gaan, Mams. Ons kan daar uitvind wat gebeur het.”

Hulle ry in stilte hospitaal toe, elkeen met sy eie gedagtes besig.

Cyril lê bleek en stil in die bed. Sy ma soen hom liggies op die voorkop en sak dan moeg op die stoel langs die bed neer. Sy huil hartseer.

Richard sit sy arms vertroostend om haar, draai dan om en stap by die deur uit. Buite wend hy hom tot die polisieman.

“Kan u my asseblief vertel wat gebeur het? Hoe en hoekom is my broer geskiet?”

“Ons het ’n tip-off gekry oor ’n drug deal wat op ’n sekere tyd en plek gaan plaasvind. Toe ons daar aankom, was jou broer onder die mans wat besig was met die deal.

“Toe hulle ons gewaar, het hulle guns uitgeruk en al skietende probeer wegkom. Ons het teruggeskiet. Een man is doodgeskiet en jou broer is gewond. Die ander mans het weggekom, maar ons het die drugs en geld gekry.

“Ons vermoed ’n sindikaat is in die omgewing besig en jou broer is lid van hulle. Die ondersoek gaan voort. Meer kan ek ongelukkig nie sê nie.”

Richard knik, bedank die cop en gaan terug na Cyril se kamer.

Hy steek geskok vas toe hy sien hoe die dokter sy ma vertroos. Sy snik onbedaarlik. Instinktief weet hy: Cyril is dood!

Sy ma kyk deur haar trane na hom. “Cyril is dood, Richard! Jou broer is dood!”

Voordat hy kan antwoord, sak sy ma inmekaar.

Die dokter skree blitsig bevele. Gou kom twee verpleegsters en vat sy ma met ’n draagbaar weg.

Nadat die dokter sy ma ’n kalmeermiddel toegedien het, kom hy weer na Richard toe. “Ek is regtig jammer oor jou broer. Ons het alles probeer om hom te red. Meer kon ons nie doen nie. Die skok was vir jou ma baie groot. Ons sal haar oornag hou en monitor.”

Richard bedank die dokter en stap diep ingedagte weg. Hy’t altyd vermoed Cyril pleeg bedrog, maar in sy wildste drome sou hy nooit kon raai waarmee Cyril toe wel besig was nie. En nou is hy dood! Sy arme ma. Hoe moet sy voel?

En sy suster, Joan? Hy’t skoon van haar vergeet! Sy weet nog nie eens wat aangaan nie.

Wie ook al Cyril gebruik het om hul vuilwerk te doen ... Hy gaan uitvind en hulle gaan boet!

DIS ’n week ná Cyril se begrafnis. Die lewe gaan aan. Richard en sy pel Stevan is ná werk op pad gym toe toe hulle ’n ou bekende sien.

“Haai, Stevan, is daai nie Josef wat so snaaks loop nie? Hy lyk soos iemand wat dikgeroek is! Is hy nie supposed om nog op skool te wees nie?”

“Supposed to be, ja, maar wat my dronkslaan, is: Sy ouma kry so swaar, ma’ hy bly dressed to kill. Kyk net daai duur Nikes wat hy aan het. Wa’ kry hy die geld?”

“Haai, kyk hoe interfere hy met daai meisie. Wat sal hom makeer?”

Hulle stap vinnig nader. “Hei, is djy mal om so rof met ’n vroumens te werk?!”

Stevan ruk Josef hardhandig van die meisie af. Josef mik ’n halfhartige hou na Stevan.

“Hei, los my! Mind your own business! Dis business besides you! Wat kind met djou?”

Die seun mik weer ’n hou na Stevan. Hy weer dit met gemak af en slaan hom dan vol op die kennebak.

Die seun slaan soos ’n os neer.

Richard draai hom na die meisie.

“Ken jy hom?”

“Ja, ons was vriende totdat hy by Baai begin uithou het. Nou is hy aggressive. Ek ken hom nie meer nie. Dankie vir jul hulp.”

Josef staan wankelrig op en stap stadig weg. “Ek kry julle weer! Dié is lank nie over nie!” skree hy oor sy skouer.

Richard kyk na Stevan. “Weet jy, ek vermoed lankal Baai is besig met bedrog. Ons moet hom uitlig.

“Ek het ’n brilliant idea. Baai verkoop mos paint, so ek gaan ’n blik paint koop en ’n klein sendertjie aan die deksel sit. My oom het ’n paar jaar gelede vir die joke vir my spy-goeters van Amerika af gebring. Ek het nog gevra of hy dink ek is James Bond. Nou is ek bly ek het dit gehou.

“Die sender is so klein, jy kan dit skaars sien, maar dit sal die hele winkel dek.

“Ek sal dan kamstig die paint terugvat en ’n groter blik vra omdat ek kamtig vergeet het ek wil buite ook paint. Die sender is geconnect met my phone.

“Ek sal als kan sien wat in die winkel aangaan.”

Richard laat nie gras onder sy voete groei nie. Sommer die next dag koop hy die paint en die aand neem hy dit terug. Baai is so besig met sy phone dat hy net knik toe Richard vra of hy die paint vir ’n groter blik kan change.

DIS net ná middernag en alles is stil en verlate. Dis net die wind wat deur die bome suis. In Baai se winkel brand die ligte, hoewel die deure toe is.

In een van die sypaadjies staan twee BMW’s.

Richard het vir Stevan gebel en die twee het ongemerk om die winkel gesluip. Richard se foon biep. Hy maak die app oop wat met die sender geconnect is.

Sy oë rek toe hy sien wat binne aangaan. Vier mans en Baai is besig om ’n tas met note te check.

Dan skuif hulle die kas weg waarop ’n till gestaan het, lig ’n mat op en haal ’n boks uit ’n gat uit die plek waar die kas eers was. Richard se oë rek selfs nog meer toe hy die pakke wit poeier in die boks sien.

Hy kom nie eens agter Stevan het stilletjies weggesluip nie.

Richard skrik hom yskoud toe hy die geloei van sirenes hoor.

Skielik is daar chaos. Die mans ruk vuurwapens uit en probeer hul BMW’s bereik.

Hulle begin wild skiet. Die cops skiet terug en skiet al vier dood.

Toe kom hulle met ’n verdwaasde Baai uit. Richard gaan staan voor hom. “Ja, Baai, gedink jy is slim en untouchable, nè? Hoeveel innocent mense se lewe het jy verwoes? Nou gaan jy in die mang vrot!”

Richard stap vinnig weg terwyl die trane in sy oë brand. Ja, nog ’n drug lord is van die pad af, maar sy broer is vir ewig weg. Niks kan hom terugbring nie ...

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters