2 maande gelede
Erger as Sodom gaan dit in haar eens stil dorpie
 ~ 

AWEH, Sonlanders! Die laaste kortverhaal in Son op Sondag kom uit die pen van JAN SWARTS. Hy noem hierdie enetjie “Matjiesfontein se Main Konyn”.

DIE doringboom se skaduwee in Bertha Theunissen se jaart in Bloumaalstertstraat kleur die kommer op haar gesig swart.

Vroegoggend het sy reeds op die stoep kom plak. Haar dorpie, Matjiesfontein, is besig om karakter te verloor, want hier heers nou wetteloosheid en mense lewe op vlak 1-lockdown-maatreëls.

Sy mis Manno, wat drie maande gelede van die huis af weg is.

Sy’t ’n paar minute te laat opgedaag en ’n briefie teen die yskasdeur gekry waarop hy geskryf het: “Duty calls.”

Haar gedagte speel terug na daai middag toe sy haar verbeel het sy sien ’n wit Hyundai teen die horison in die rigting van die N1.

Nadat hy weg is, het sy saans op die kussing rondgerol met Judy Boucher se stem wat op die agtergrond kerm.

Dit het gevoel of die lirieke die spot met haar dryf. Tot vandag toe luister sy nie meer kermmusiek nie. Sy klou vas aan die CD, maar beteuel haar om nie te luister wanneer die hunkering na hom té sterk geluide maak nie.

Sy tuur met skrefiesoë na die plek waar die N1 en die Sutherland-afdraai mekaar ontmoet. Oor haar lippe rol ’n gebed saggies dat die Here iemand op die pad sal stuur na Matjiesfontein, waar mense nou in erger onsedelikheid as die inwoners van Sodom en Gomorra leef.

Links op die N1 lê Touwsrivier, waarheen hul soms gaan om inkopies te doen. Maar daar draai die dooies al in hul graf soos die jong klomp ook daar met daggazolle, Mandrax en tik die dorp aan die brand rook.

Laingsburg se water proe ook nie soeter nie, want daar luister jong mense ook nie altyd na die stem van vermaning nie.

Die redder van dié dwelmnes sal dan seker met die pad vanaf die Noord-Kaap se Roggeveld kom. Dalk leef daar nog goeie mense in Sutherland of Fraserburg.

Die dag toe Pappa-Joe Murphy en sy trawante met blink karre die hoofstraat binnejaag, het die jong mense se sedes, norme en waardes voor die bose aanslag geswig.

Die stilte is oorgeneem deur ’n raserige dwelmnes. Jong mense dwaal nou in die nag soos zombies.

Pappa-Joe se luitenant, Boef Solomons, het seker gemaak daar is genoeg dwelms in die dorp om jong mense se sedes en siel op te vreet.

Murphy se Law word nou afgedwing in Matjiesfontein. Met sy stamp of approval gebeur alles wat mal is.

Die meeste platpette van Laingsburg se cop shop, wat 16 km daarvandaan is, is op sy payroll, maar pay net wanneer hý besluit hulle verdien ’n bonussie. Hul job is om die besending dwelms op die N1-roete ’n home-run te gee.

Pappa-Joe en sy manskappe het twee maande gelede dié slaapdorpie uitgecheck en besluit om beheer oor te neem.

Hulle het dit eers net gebruik as oase en hawe waar hulle konkelwerk in die donker kon doen.

Nou is dit hul hoofkwartier en van waar hulle ’n dwelmnes bedryf en besendings na takke in Touwsrivier en Laingsburg smous vir herverspreiding en handel.

Die nagportier by die hotel het onwetend tips gegee toe sy mond soos ’n rivier in vloed oorgeborrel het nadat hulle sy beker met ’n paar duur doppe whiskey on the rocks vol geskink het.

Dit was tydens een van hul besoeke aan die Lord Milner-hotel.

Daai tip-offs het ’n blink nuwe besigheidsplan gebaar om die Boland en Karoo se dwelm-episentrum te vestig.

Vir sy tong sonder brieke het Pappa-Joe die portier se sakke knop getip nadat dié eers die tasse by die rooi trap opgedra het.

Op die balkon van kamer 19 het die manskappe met ’n whiskeyglas in die hand ontspan en ’n launchpaartie beplan.

’n Week later het DJ Okka in die Mac and Kid Tavern in Hoofstraat sy ding op die decks gedoen terwyl baie jong mense vir die eerste keer aan ’n habit of addiction gesuig het.

Terwyl alle kleure en geure rookwalms teen die dak saamborrel, het DJ Okka oor die mike gegil: “Soe moet daai beat mos smaak!”

In die takke en deur die blare het die zombies gekoor: “Oppie bakkie! Dit smakie k*kkie!”

Die voue op Pappa-Joe se kaalgeskeerde kop het saam gesmile toe hy die eerste keer die wins tel.

Boef het gebrag dat dié plekkie hulle uit ’n tight corner gered het toe die Kaap te blokbenoud raak.

Bertha se hart word bitter aan die gedagte dat ’n klomp jong mense op die dwelmkarretjie ry en dié gevaarlike trip geniet.

’n Glinstering van hoop kom sit op haar wange toe sy haarself troos dat Manno dalk binnekort weer huis toe kom. Die mense hier dink mos sy weet nie hoe hulle agter haar rug fluister dat hy maskers en sanitisers gaan koop het en steeds vir kleingeld wag nie.

Eendag gaan hulle met oop monde staan en aan daai woorde wurg en dan vir háár water vra om dit af te sluk.

Vanaand is die laaste Vrydag van die maand. Matjiesfontein wemel van mense en duur naamkarre waarop die vreemdste persoon­like registrasienommers pryk.

By Alie se spaza-winkel in Mirastraat sukkel Bertha om onder die lapmasker asem te haal, want die mense staan die plek vol.

Terwyl sy haar deur die mense wriemel om brood en melk te koop, voel sy hoe iemand styf teen haar rug druk. Sy kan nie sien wie die skarminkel is nie, want op sy bakkies is ’n Superman-masker en op sy kop ’n Batman-beanie.

Die vreemdeling vroetel sy linkerhand se handskoen af. ’n Koue rilling gly teen Bertha se ruggraat toe haar oë op sy vingers val.

“Daai ring …? Manno …?” fluister-vra sy onseker.

Hy gee ’n teken dat sy moet zip kap en beur dan terug. Bertha is nou bewerig en voel nie meer lus om haar koopbeurt af te wag nie.

Sy beur met stampe en stote buitentoe. Sy gewaar nie die mens wat aan Manno herinner nie en stap huiswaarts. Sy sien hom daar op die stoep in ’n donker kol hurk.

Haar man, Manno, het sowaar gekom! Presies om 00:30 ry hy met dooie ligte die donkerte in en parkeer ’n ent vanaf Alie se spaza-winkel. Nadat hy drie keer met sy sleutel teen die staaldeur geklop het, sluit Alie sonder vrae oop.

Twintig minute later kom stop hy weer voor Bertha se hek. Op die agtersitplek kreun vyf vet tasse.

Toe verduidelik hy: “Dis twee maande se dwelmwins wat daai varke in Alie se winkel versteek het. Dis ’n paar miljoen rand en dit gaan ’n nuwe baas kry.

“Pappa-Joe se dirty cop-skof werk nie vanaand nie, so hy sal nie backup het nie. Die Bangladesjers, Alie en Munier, is agter in die winkel vasgebind en sal nie geluide maak nie, want hulle dra maskers. Die res van die dwelms is in ’n stormwaterpyp weggespoel.

“Daai bloedsuiervark sal nooit weer op die been kom nie, want sy supplier gaan nie met hom lag nie. Almal sal teen dagbreek weet Pappa-Joe se kartel se wiele het afgeval. Hulle sal kaalgat uit die plek vlug terwyl die Valke op hul wag.

“Die dwelmmyn in Matjiesfontein is gesluit en sal nie weer oopmaak nie. Rus en vrede kan weer hier hul intrek neem. Skurwe karakters soos Pappa-Joe en Boef Solomons moet weet dié plek se naam is nie De Zoete Inval nie!”

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters