Verlede jaar
Daai borrel is definitief nie vir almal nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag het ons ’n nuwe kortverhaal van ERNEST LOTH. Hy noem dié een “Huishulp”. Lekker lees!

DIE gedempte stemme in die slaapkamer van die luukse woning van die Du Toits beteken vir Mina net een ding: Hulle stry weer.

Daar was dae toe die twee so liefdevol teenoor mekaar was, maar deesdae bly hulle in mekaar se hare.

Hulle oudste en enigste seun, Gerhardus, steur hom min aan sy ouers se rusies die laaste tyd.

Hy sorg maar dat hy op sy motorfiets klim en êrens heen ry.

Maar dit werk op Mina. Sy lees gereeld Son en is bewus van die stryery wat tot skietery kan lei ... en dáárvan wil sy nie deel wees nie. Nie as getuie nie, en ook nie as slagoffer nie!

Sy weet hulle staan op skei. Dit het mevrou Du Toit vir haar een oggend terloops gesê toe sy skottelgoed opwas.

“Ons gaan skei, Mina. Ek kan nie meer nie,” het sy arms gevou teen die kombuiskas gesê.

“Is Mevrou-hulle nie ’n bietjie oorhaastig nie?” het Mina gevra.

“Nee, Mina. Dis beter as ons paaie skei.

“Gerhardus is groot. Hy kan vir homself sorg. Hy’s byna klaar met sy studie.

“Sy pa kan maar by Agnes gaan intrek of sy kan hier kom bly as ek weg is. Ek wil eerder iewers oorbegin ...” het sy gesê en haar rooibruin hare agtertoe gevee.

Daar was ’n gedetermineerdheid in haar bewegings wat sê: Genoeg is genoeg!

Mina het nie geantwoord nie. Sy het self geworstel met die feit dat sy ook vrou-alleen moes staan vir haar drie kinders toe Gert skielik eendag net nie meer huis toe gekom het nie.

Hy’t in die Noord-Kaap gaan werk by die een of ander bekende boukonstruksie en opgehou geld stuur. Geen briewe nie. Geen oproepe nie. Net mooi niks.

Dit was moeilik om die kinders te oortuig dat hulle pa nie meer huis toe gaan kom nie.

Sy kan sien hoe hulle hom mis. Hy was nie ’n perfekte pa nie, maar hy het gesorg vir hulle op sý manier.

En op sý manier probeer om haar soms te mishandel. Met woorde.

“Mina,” sê Annemarie een oggend, “ek gaan vir ’n paar dae by my ma-hulle in Pretoria kuier.

“Kyk maar mooi na Gerhardus en sy pa. Ek sal darem vir jou ’n geskenk saambring.”

“Goed, Mevrou. Ek maak so,” het sy belowe, maar was ’n bietjie grillerig om vir die eerste keer alleen saam met pa en seun agter te bly.

Sy het dit maar aanvaar en voortgegaan met haar dagtake.

Sy was op haar gemak met die seun, Gerhardus, al het hy ook vreemde maniere gehad.

Een daarvan was om sommer poedelnakend uit die badkamer kombuis toe te loop om lemoensap sommerso uit die houer te drink.

Sy het maar altyd net vinnig weggekyk en op die skottelgoed of strykgoed gekonsentreer.

Sy het gemerk dat die kind wat voor haar grootgeword het, ’n mán geword het.

Maar dis die pa, Stefan, wat haar sulke kyke gee wat haar omtrent laat gril.

Hy het eenkeer verby haar geskuur op ’n manier waarvan sy nie gehou het nie. En sy wou Annemarie inlig, maar wou nie moeilikheid veroorsaak nie.

As sy sou bos los, sou Stefan haar seker in die pad gesteek het!

Sy’t die werk nodig, veral nou dat sy nie meer op Gert se pay kan staatmaak nie. So, sy sal maar stilbly ...

En nou is Annemarie weg. Sy weet sy kom weer oor drie dae terug, maar net die wete dat mnr. Du Toit eers nege-uur gaan werk en sy voor aguur inval, maak haar kriewelrig.

Hy groet beleef wanneer hy gaan. Sy groet beleef wanneer hy tuis kom.

Hulle groet mekaar wanneer hy tuis is en sy’s steeds besig met die laaste takies.

Dis Vrydagaand en sy haas haar na haar buitekamer, sluit die deur en skakel haar TV aan vir haar gunsteling-sepies.

Sy skakel nie die ligte aan nie – slegs die bedlampie.

Die TV se flitsende beeld verlig haar waar sy rustig op haar rusbank sit en heerlik smul aan ’n Cadbury’s Top Deck.

Later die aand hoor sy ’n ligte kloppie aan die deur.

Eers het sy gedink dis dalk iemand­ op die sepie wat aan ’n deur klop, want sy het haar eintlik al voorheen so misgis.

Daar’s dit weer!

Sag, maar duidelik. Dringend.

Sy skakel die bedlampie en TV af en beweeg stilletjies na die venster. Sy kan duidelik sien wie voor die deur staan!

Haar hart klop in haar keel. Wat moet sy doen?

“Mina, maak oop, asseblief!” Sy herken sy stem duidelik. Stefan.

“Ek ... ek gaan nie oopmaak nie, Meneer! Wat soek, Meneer? Dis laat. Ek slaap al!”

Sy loer deur die kantgordyn. Hy’t skynbaar gesien daar’s beweging by die wit gordyn. Hy wikkel aan die ritssluiter van sy gulp!

Mina gee ’n gilletjie. Sy bewe.

Sy kan nie glo Stefan doen dit nie. Sy sien ook dat hy onvas op sy voete is.

Hy’s dronk! besef sy.

Sy wens Gerhardus daag nou op. Hy’s ’n rukkie terug met sy motorfiets daar weg ...

Sy gaan sit bewend op haar bed en begin saggies te huil. Sy hoor ’n bekende dreuning. Gerhardus!

Dankie, Here! dink sy.

Sy staan op, kyk deur die venster en sien hoe stap Stefan op sy gemak in die rigting van die agterdeur.

Hy steek ’n sigaret aan en blaas die rook die lug in ...

Sy wil die deur oopmaak, na Gerhardus hardloop en hom sê, maar bedink haar.

Sy het die werk nodig, maar sy kan haar nie só laat kasty nie!

Toe sy later in haar bed klim, kan sy nie aan die slaap raak nie. Wat sal Meneer makeer? wonder sy bekommerd.

Moet sy vir Mevrou sê? Sal sy haar glo?

Het sy wat Mina is aanleidings gegee daartoe? Nee, sy het nie!

Die volgende oggend is sy weer voor die opwasbak besig met skottelgoed, toe Stefan vir hom koue water in ’n glas kom skink.

Sy kyk nie op nie.

“Mina …” begin Stefan, “ek ... ek is jammer oor gisteraand. Dit … dit sal nie weer gebeur nie. Moet asseblief nie vir Mevrou daarvan vertel nie.”

Sy wou uitvaar teen hom, maar bedink haar weer.

“Dis nie reg nie, Meneer. Ek is nie daai vroumense wat sulke dinge sal doen nie, Meneer.

“Ek is arm en kaalgat, Meneer, maar só ver sal ek nie gaan nie.

“Ek sal niks praat nie, Meneer. Drank issie vir almalie, Meneer!

“Ek wil nie my respek vir Meneer verlorie, want ek wil nog elke dag vir Meneer innie oë kyk. En vir Mevrou.”

Stefan word bloedrooi in die gesig en laat sak sy kop verleë.

Hy voel soos bollie en kan homself skop vir die uiters lawwe ding wat hy aangevang het.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters