2 jaar gelede
Clint moet voor die skoolhoof please explain
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die eerste van twee uittreksels uit CHRISTO MEYER se nuwe jeugroman, Puntemasjien. Dis in boekwinkels of aanlyn by naledi.online beskikbaar.

‘DAAR is een ding wat ek wil hê jy moet altyd onthou, my laitie. As jy dalk eendag moeilikheid optel by die skool en dit kom so dat jy voor die prinsipaal verskyn, moet jy nooit jou kop laat sak nie. Oogkontak is belangrik.

“Dit vertel baie van ’n mens se karakter. As jy nie mans genoeg is om iemand wat jou konfronteer, in die gesig te kyk nie, kan daardie persoon basies tot enige gevolgtrekking kom. Soos dat jy dalk iets het om weg te steek.”

Met dié woorde as aansporing druk Clint tweede pouse die handvatsel af, stoot die deur oop en stap die kantoor binne. Vol selfvertroue loop hy tot voor die lessenaar waarop ’n hoop papiere en dokumente lê. Kom wat wil, hy is reg vir enigiets.

Die skoolhoof lig haar kop. Clint hou nie van die kyk in juffrou Poggenpoel se oë nie. Sy laat hom voel of hy iets onheiligs aangevang het. Hy kan sien sy is daarop uit om hom te probeer ontsenu, maar sy moenie dink hy gaan toelaat dat sy hom intimideer nie. Vir wat neem sy alles so ernstig op? Sy kom nie naby haar voorganger, meester Windvogel, nie. Daar was nou vir jou ’n skoolhoof duisend. ’n Nederige man met sy voete plat op die aarde. ’n Man met begrip.

Wat is dit met haar? Dis mos nie sý skuld dat die spelers mekaar beter leer ken het nie? Sulke goed gebeur dan op provinsiale vlak ook. Veral wanneer twee aartsvyande mekaar die stryd aansê. Geen span hou daarvan om op sy tuisveld te verloor nie. Maar wat weet sy? Tien teen een ken sy seker nie eens die verskil tussen ’n vaste skrum en ’n losgemaal nie.

“Jy is die kaptein,” sê sy in haar fyn, Noord-Kaapse aksent. “Jy moes van beter geweet het.”

Hy wonder of sy weet hoe komieklik sy lyk. Om haar gesig elke dag so te beplak van die grimering! Dit pas nie by haar nie. Sy is nie meer jonk nie. Hy skat haar minstens 52 jaar oud.

“Wat anders moes ek en my spanmaats doen, Juffrou? Die ander wang draai? Net stilstaan en toekyk hoe die houe op ons val? Nooit gesien nie. Ons is mos nie moffies nie.”

“Jou houding staan my nie aan nie. Ek probeer jou op die regte pad help, maar jy hou jou hardekwas. Tel jou woorde. Jy moes gekeer het dat dinge handuit ruk. Dit is wat ek van ’n leier verwag.”

Wat? Hoe durf sy die blaam op hom alleen pak? Dis mos nie regverdig nie. Voëlvlei se spelers het eerste geslaan.

Hy wens hy kan sommer net ’n koers in hardloop. Ver weg van hierdie dorp met sy witgekalkte huise. Om van die gate in die paaie nie eens te praat nie. Net iewers heen waar almal hom met rus kan laat.

“Te wyte aan jou onvermoë om leiding te neem, is ons skool se goeie naam deur die modder gesleep.”

Onvermoë? Ag, asseblief. Weet die vrou ooit waarvan sy praat? Wie gee haar die reg om hom so te beledig?

“Ons het ten minste die fight gewen, Juffrou. En die game. Die telling was 31-9. Dink Juffrou nie dit is iets om op trots te wees nie?”

Sy raak rooi in die gesig. Hy sien hoe haar oë vernou. Sy buig ongemaklik vorentoe.

“My magtig, Bonthuys!”

Daar doen sy dit weer. Spreek hom op sy van aan. Hy haat dit. Hy is nie in die vloot of weermag nie. Wat is fout met sy voornaam?

“Jy behoort jou te skaam,” trap sy hom verder uit. “Die eerste span steek Hoërskool Melvin Whitebooi in die skande en jy praat van trots! Jy is seker nie ernstig nie.”

Sy neem ’n slukkie water uit die glas op haar tafel. “Jy beter loop voor ek iets sê wat kon gebly het. Toe, waarvoor wag jy?”

Hy laat hom nie twee keer nooi nie. Hy storm soos ’n losvoorspeler by die kantoor uit.

“Jy hou jou te groot vir jou skoene!” bulder juffrou Poggenpoel, maar Clint maak of hy nie ’n woord hoor nie. Hy klap die deur met mening agter hom toe.

Buite gaan staan hy teen die muur. Hy haal diep asem. Hoekom laat hy toe dat sy hom so ontstel?

Hy mis meester Windvogel. Vandat juffrou Poggenpoel die nuwe skoolhoof is, wil sy om elke hoek en draai haar gewig rondgooi.

Clint loop blindelings in die gang af, voel hoe hy aan iemand stamp. Maak of hy niks verkeerd gedoen het nie.

“Jy, Clint! Kan jy nie kyk waar jy loop nie?” Hy steek vas. Stadig swaai hy om. Met minagting kyk hy in Yolandi se rigting.

“Hoor hier, meisiekind, jy moenie vir jou kom staan en rammetjie-uitnek hou nie.”

“O so? En wat gaan jy doen om my te keer? My klap?”

Iemand vind dit vreeslik snaaks en gaan aan die giggel.

“Jy ... elke pouse staan julle meisies die vervlakste gang vol. Julle gee nie eens pad as julle iemand sien aankom nie.”

“Dit lieg jy, maar dit is mos hoe ’n boelie operate. Pak altyd die skuld op die volgende mens. Te macho om sorry te sê.”

“Yolandi, moenie krap waar dit nie jeuk nie. Jy soek nou vir moeilikheid.” Hy sien hoe sy haar oë groter maak.

“Sorry om jou bubble te bars, maar dink jy omdat jy langer as ek is en breë skouers het, ek moet bang wees vir jou? Jy maak jou laat.”

Sonder ’n verdere woord draai Clint sy rug op Yolandi. Hy maak hom uit die voete.

Haastig raak hy tussen die ander leerders weg.

’n Ent verder bars daar ’n string vloekwoorde oor sy lippe.

Hoekom is almal vandag so op sy case? Kan hulle hom nie net uitlos nie? Hy het belangriker goed om hom oor te bekommer. Soos oor wat hy volgende jaar gaan doen.

Hy wil graag verder gaan swot, maar daar is nie geld nie. En sy punte is nie goed genoeg om vir ’n studiebeurs in aanmerking te kom nie.

So, Yolandi met haar skraal lyfie, rooikop en sproetgesig kan gerus haar tantrums op ’n ander plek gaan gooi.

Clint haas hom tot agter die skoolsaal, tot in die hoekie waar hy en Selwyn gewoonlik skelm staan en rook.

Hy krap in sy hempsak, haal ’n pakkie sigarette uit. Chicago. Dis ál wat hy kan bekostig.

Sy ma verdien nie ’n klomp geld by die gastehuis waar sy as skoonmaker werk nie, en met die poskantoor wat sy pa met ’n hofsaak dreig, moet hy maar tevrede wees met die bietjie sakgeld wat hy kry. Dis beter as niks.

Benoud draai hy sy kop. Was dit voetstappe wat hy gehoor het?

Dit kan nie wees nie. As een van die onderwysers hom hier betrap ... Dêmmit. Nie dit ook nie. Hoekom nóú?

Hy probeer die rookgoed in sy agtersak steek. Sy hande sweet. Sy vingers bewe. Te laat. Die pakkie sigarette val uit sy hand.

Sy rooklus verdwyn soos ’n ster wat verskiet. Ai, gaan dié Maandag dan nog blouer word?

  • Lees volgende Sondag verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters