2 jaar gelede
Charmaine kry swaar ná haar laitie se dood
oom sonnie
Geseënde Kersfees  ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons deel 1 van ’n Kersverhaal in twee dele deur ERNEST LOTH. Hy noem dié storieDie Onverwagte Geskenk.

DIS ’n maand voor Krismis. Hoe vlieg die tyd nie? dink Charmaine. As die groot dae naderkom, is dit asof haar keel toe trek en haar hart in ’n beklemming raak.

Dit was voor Krismis dat die ding gebeur het. Die ding wat die voorblad van die local koerant gehaal het: VYFJARIGE SEUN VERDRINK IN OPENBARE SWEMBAD.

Haar maag draai weer. Dis ’n nagmerrie wat net nie verdwyn nie. Dis al ’n jaar gelede.

Stanley, haar man, maak asof die voorval hom nie raak nie. Maar sy het gesien hoe hy voor klein Jacque se vergrote foto teen die voorkamermuur staan en lank na sy oorlede seun staar.

Dan het sy soos ’n skim wegbeweeg sodat hy nie moes weet sy’t gesien nie. Sy alleen weet hoe hy Jacque mis.

Mandy was erg gebroke. Seker steeds, want sy het gesien hoe sy gister weer deur die familiefoto­album blaai en ’n traan wegvee ...

Mandy mis die jaag-jaag wat hy en sy gereeld gespeel het en hoe hulle ma altyd gesê het: “Oe, julle maak ’n mens mal!”

Mandy kon haar ook soms so vererg as Jacque in haar kamer krap waar hy nie moet krap nie.

“Mammie, Jakkie was weer in my kamer!”

“Mammieee, Jakkie het weer my gel gebruik!”

“Mammie, Jakkie het my per­fume gespuit soos air freshener!”

Sy sien hoe Mandy die album toemaak en styf teen haar druk. Dit bring ’n knop in Charmaine se keel. Sy weet Jacque was ’n karnallie wat Mandy gepes het, maar sy was baie lief vir hom. En hy vir haar.

Sy self het Jacque se kleertjies in sy laai uitgepak en opgevou, dit teen haar gesig gedruk. Dit geruik asof hy daar tussen die materiaal skuil. “My kind, my kind,” het sy oor en oor sag gesê.

Die huis is stil sonder hom. Van kleins af het hy die huis se mure vol vetkryt geteken. Sy moes altyd gereed staan met ’n seep-lappie om sy “kunswerke” te verwyder.

Sy speelgoed het die wêreld vol gelê. Sy Superman- en Spider-Man-mannetjies en karretjies het sy pa baiekeer amper ’n plot laat koop en dan gil hy: “Jacque! Kom tel net jou speelgoed op!”

Sy kyk by die agterdeur uit na waar sy swing hang – ’n kar se tyre wat Stanley met en dik tou aan die moerbeiboom se stewige tak vasgemaak het.

Dit hang steeds in die agterjaart. Die wind stoot dit liggies heen en weer, heen en weer ...

Soms verbeel sy haar dat klein Jacque daarop sit. Dan hoor sy hom roep: “Mamma, kom stoot my! Hoog, Ma, hoog!”

En sy helder skaterlag sit in haar ore vas. Nou is die huis egter stil. So stil dat die wete wát die stilte gebring het, diep in haar binneste knaag en haar stil-stil opnuut die sluise laat oopmaak.

Charmaine onthou hoe sy in opstand was teen God. Hoekom háár seun? Hoekom háár kind?

Hoekom kon God nie een van die rondloper-straatkinders kom haal het nie? Sy het die kerk lank soos die pes vermy. Sy kon nie glo ’n Skepper wat veronderstel is om vir haar lief wees, kon haar, haar man en Mandy so seer slaan nie. Was hulle almal te lief vir Jacque?

Het Hy jaloers geword? Want iewers in die Bybel sê die Woord: “Jy moenie ander gode voor My aangesien hê nie. Want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God.”

Dalk het sy van Jacque ’n afgod gemaak. Sy was ontsettend lief vir hom. Sy sou in sy plek wou sterf ...

Die buurvrou se dogter het met die nuus aangehardloop gekom. Jacques was vir die dag saam met die bure na die openbare swembad.

Sy wou nie hê hy moes gaan nie. Dit was egter baie warm. ’n Hittegolf, het die nuus gesê. Oor die 40 °C. Sy ogies het gesoebat: “Toe, Mamma, asseblief, ek kry warm.” As sy maar net nie ...

“Antie Charmaine! Antie Charmaine!” het sy Stienie hoor roep.

Charmaine het verwilderd uitgekom en angstig gevra: “Wat’s fout?”

“Dis Jacques, antie Charmaine!”

“Wat ... wat van hom? Maak oop jou mond, kind! Wat is dit?”

“Hy het ... hy het verdrink!”

Charmaine het dadelik omgekap. Eers gedink dit was ’n slegte grap. Toe sy bykom, was daar ’n gewemel van mense rondom haar.

Iemand het suikerwater gemeng en haar versterkdruppels ingejaag. Haar ma het oor haar gebuk en gesê: “Jy moet sterk wees, my kind.

“Hulle vermoed Jacque het op ’n piesangskil gegly en by die diep kant van die pool ingeval sonder dat iemand agtergekom het. Toe Ryan van antie Dot-hulle onderwater duik, het hy Jacque op die bodem sien lê. Ryan het hom uitgeduik, maar dit was te laat.”

Charmaine was histeries: “Hoekom het hulle nie gekyk nie!? Hoekom het hulle hom nie dopgehou nie? Hoekom het ek hom laat gaan?”

Sy het onophoudelik begin huil. Sy was hartseer en woedend deurmekaar. Jacque se laggende gesiggie het telkens voor haar opgedoem. Sy kon vir ’n oomblik nie onthou of sy hom ’n drukkie gegee het voordat hy met die bure se kinders na die swembad toe is nie.

Sy dink sy het. Sy hét! Om te dink, dit was die laaste keer dat sy hom teen haar vasgedruk het! As sy geweet het wat gaan gebeur, sou sy hom langer vasgehou het!

Sy het maande nie met haar bure gepraat nie. Hulle vermy. Dood gewens. Maar ná berading by hulle pastoor het sy tog tot ander insigte gekom. Haar rebelsheid teen God het opgehou.

Maar die berading het nie die leemte in haar hart gevul nie.

En hier is dit byna weer Krismis ... Sy naam is nie meer op die geskenklysie nie. Die stoel waarop hy gesit en kyk het hoe sy koekies bak, is leeg. Die mondjie waarmee altyd die oorblyfsel van die koekmengsel uit die bak gelek het, sal sy nie weer sien nie ...

Charmaine sug. Ja, die eetplek langs die tafel tydens hulle Kersete gaan weer leeg wees. En sy gaan weer huil en almal rondom haar hartseer maak.

Ag, Here, hoekom moet ’n mens onthou? Kan mens nie die Onthou-strate afsper dat dit nie ineenloop met jou Nou-strate nie? Hoekom is ’n mens so geneig om juis in die Onthou-strate af te draai? En dit maak so seer.

Tog het sy steeds geskenke vir sy verjaardag en vir Krismis gekoop. Asof hy nog hier is. Stanley het gesê sy moet ophou en berus. Aanvaar Jacque is nou ’n engel, want sy steur hom in sy rus.

Toe stop sy dit. Maar haar verlange na haar kind sal nooit stop nie. Al val die sterre uit die hemel!

Die deurklokkie lui. Mandy stap na die deur. Dan hoor sy haar naderkom met groot oë en ’n yslike mandjie in haar hande.

‘En dít?” vra Charmaine.

“Hier buite. Op ons stoep. Voor ons deur, Ma. Dis ’n kind, Ma!”

Charmaine stap nader. “ ’n Baba? Wie se kind is dit?”

Sy buk, druk die kombersie terug en ontbloot ’n slapende babagesiggie.

“My magtag, Mandy. Dis ’n baba! Ons ... ons moet die polisie laat weet!”

‘Kan ... kan ons nie die kind hou nie, Ma?”

“Nee, Mandy, dis teen die wet.”

‘In Fiela se Kind toe–” sê Mandy.

“Ek’s nie Fiela nie, Mandy. Dis nie so maklik soos dit in movies lyk nie, my kind.”

Charmaine neem die mandjie met die baba by Mandy. Sy gaan sit op die sofa met die mandjie langs haar, vou die kombersie van die gesiggie weg en bekyk die kind. Iets in die kind lyk bekend.

  • Lees volgende Sondag die slot

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters