Verlede jaar
Boeta maak sy ma se geduld heeltemal op
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n nuwe kortverhaal van SALMON SMITH. Hy noem dit “Boeta Willie Werkie”.

DIT voel vir Sarah Geduldt of daar nou enige tyd ’n aar in haar kop gaan bars. Sy gluur haar williewerker-klong woedend aan.

Dié sleg klong lê op die naat van sy rug op sy bed en saag balke dat die bosse bewe.

Hy het weer in die oggendure in die huis gekom – dikgesuip.

Sy is nou net mooi gatvol van diese williewerker-klong van haar.

Hy het twee jaar gelede gematrikuleer, maar wil nog steeds nie vir ’n baas “môre” gaan sê nie.

Sy het nog ’n maand gelede vir hom so ’n nca joppie georganise by haar broer, Ben.

Ben is ’n voorman by ’n konstruksiemaatskappy.

Al wat Boeta moes doen, was om sy gat elke dag uit die bed te lig en te gaan werk.

Maar dít was vir hom ’n reuse-taak. Hy’t die werk sommer gou deur sy stink gat getrek.

Nou is Sarah Geduldt se geduld verby op.

“Boeta Geduldt! Lig op djou f*kk*n gat! Die Filistyne is op djou!” gil Sarah dit uit.

“Huh!” skrik Boeta, nog deur die slaap, wakker. Hy ruk hom regop en gee ’n harde poep.

Sarah gluur haar klong woedend aan. “Sê djy nie ‘sorry’ nie?!”

Boeta vee vinnig die kaiings uit sy oë. “Vir wat moet ekke nou sorry sê, Mammie?”

“Oorlat djy gek*k het!” spoeg Sarah dit uit.

“O … sorry!” laat Boeta gelate hoor. “Maar hoeko’ maak Mammie my oornorag wakker met ’n Filistyn-storie? My kop is nog seer!”

“Is dit dan mý skuld dat djou kop seer is?!” kap Sarah terug. “Djy ka’ gerus djou ewe sleg tjommies gaan blame. Al waarvoor djulle goed is, is om te suip asof daar nie ’n môre is nie!

“Djy kan nie elke dag slaap tot die son in djou gat skyn nie. Ek kan nie met my karige pensioentjie vi’ o’s altwee onderhou nie! Djy moet vi’ djou gaat werk soek!”

Boeta gooi die komberse van hom af en spring woedend uit die bed. “Jisterday, Mammie weet ook net hoe om ’n mens vroegdag bad luck te maak!” gil hy.

Hy skuur verby sy ma en strompel reguit toilet toe. Hy haal sy move uit en probeer so met die een oog korrel. Eers shower hy die toilet seat en toe die vloer rondom die pot met goudgeel pie.

Dit voel vir Sarah of sy kan slange vang toe sy dit gadeslaan.

“Djy, djou ga’môs! Wie dink djy moet nou daa’ skoonmaak?!”

“Relax, Mammie, ekke sal later daar opmop. Gaat gou ee’s vi’ my koffie maak!” antwoord Boeta en beloer sy puisiegevreet in die spieël. Hy buig oor die handewasbakkie, druk sy een neusgat toe en blaas sy ander neusgat in die wasbakkie. Toe kom die ander vuil neusgat aan die beurt.

“Sies, djou morsage ding!”gil Sarah dit uit en loop voorkamer toe. “Laat ekke maar liewerste ko’ afkoel hie’ binne!”

Boeta is min gespin. Hy kom die kombuis ingedrentel en skakel die ketel aan.

Hy kyk fronsend na die ketel toe die water nie begin kook nie. “Mammie, dit lyk dan asof die ketel nie werk nie!

“Ja, die ketel werk nie – net soos djy nie werk nie!” kap Sarah venynig terug.

Boeta gluur sy ma aan. “Hoeko’ is Mammie soe?!”

“Oe, Sarah, hou maar eerder djou bek!” sê Sarah teenoor haarself.

Boeta vat ’n klein potjie en kook op die stoof vir hom ’n bietjie water daarin.

Hy vat ses snye brood uit die broodblik en beplak dit dik met die botter en jam.

Later vat hy sy beker stomende koffie en snye brood en loop by die deur uit.

“Ja, nou gaat djy seker daar by djou hoekstaan-tjommies gaan uithang! Dis al wat djulle goed kan doen – op die hoeke rondhang!” skree Sarah agterna.

“Aag, Mammie!” gooi Boeta dit terug.

Boeta loop met sy beker koffie en brood in die pad af. Hy sit die brood op die beker koffie neer en vee vlugtig die orige bietjie kaiings uit sy oë.

“Aweh, Boytjie, aweh, ou Whitey!” groet hy sy hoekstaan-brasse en gee hulle die kenmerkende groet met sy een hand. Met die ander hand balanseer hy behendig die brood op die beker koffie.

“Wiet djulle, my taanie werk weer vroe’dag op my nerves,” bekla hy sy lot gefrustreerd by sy makkers.

“Is soe! My taanie ok! Kla weer heeldag dat ek my gat moet was!” kom dit weer van Boytjie.

Intussen sit Sarah en kook hier in haar huis. Sy is nou óp van haar klong, wat net nie wil regsê nie.

Sy kan nie dink na wie Boeta aard nie. Sy oorle pa was nie so lui soos hy nie. Sy het Boeta nooit bederf nie. Maar net altyd sy klere agter hom opgetel. Sy kan nie dink dat dít is hoekom hy nou so lui en morsig is nie.

Haar ma, inteendeel, het Boeta altyd tot in die afgrond bederf. Toe hy as kind so naweke daar gaan kuier het, dan het hy vol lelike maniertjies teruggekom. En wanneer sy wat Sarah is, vir Boeta wou dissiplineer, dan was ouma Sêra gou daar om die klong se parte te vat.

“Los tog die blerrie klong, Sarah! Djy’s glad orag met djou hande!” het haar ma altyd gegil.

Sarah se bloed begin sommer weer te kook wanneer sy nou so daaraan dink. Dit is eintlik haar ma se skuld dat die blerrie klong sulke maniere het.

Nou sit sy lekker daar in haar huisie, ’n paar strate weg, en nou moet sy wat Sarah is, met die gebakte pere sit. Skielik skiet ’n blink gedagte Sarah te binne …

BOETA kom laatmiddag van die hoek af aangedrentel.

Sy oë lyk maar baie glaserig van die dagga wat hy nou so lekker saam met sy makkers daar op die hoek gerook het.

Hy strompel die voorkamer binne. Hy skrik toe hy sy ma met twee swart sakke daar sien staan.

“En dan nou dié?!” vra hy bekommerd.

“Dit is ou klere vir charity wat ek deur die jare versamel het,” sê Sarah. “Gaan gee dit vir ouma Sêra. Die welsynorganisasies gaan dit daar ko’ collect!”

“Kan ek nie maar later gaan nie, Mammie?” probeer Boeta nog protesteer.

“Nee, djy gaat nóú!” kap Sarah terstond terug.

Brom-brom loop Boeta by die hekkie uit met die twee sakke in sy hande.LATER die aand kom Boeta terug van sy ouma af. Hy probeer die deur oopmaak, maar dit is gesluit.

Hy klop woes aan die deur. “Mammie! Mammie! Die deur is dan gesluit!” gil hy dit uit.

Sarah loer deur die venster. “Ek het die deure gesluit, want djy met djou sleg gat kan maar gaan intrek daar by djou ouma wat djou so bederf het!”

“Mammie kan nie soe maakie!” kap Boeta terug.

“Ja, ek kan! Want djy kannie werk nie!” kom dit van Sarah.

“Nou laat ek dan net inko’ om anner klere aan te trek! Dis koud hie’ buite!”

Sarah se grynslag strek nou van oor tot oor.

“Djy’t nie meer ’n stukkie klere hie’ nie! Al djou klere was in daai swart sakke gepak wat djy va’middag na djou ouma toe geneem het. So, skoert hie’ weg!”

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters