2 jaar gelede
Barto de Miaz maak ’n plan vir sy penarie
oom sonnie
Geseënde Kersfees  ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons nog ’n verhaal deur CHRISTO MEYER. Hy noem hierdie een “’n Desperate Besluit”. Lekker lees!

EEN ná die ander pak hy die skuldbriewe terug in die laai.

Met ’n swaar gemoed gaan hy voor die venster staan.

Hy skuif die gordyn teësinnig oop en met skouers wat hang, staar hy na buite.

Die grond is nog nat ná gister se reën. Hier en daar sien hy ’n poeletjie water. Dit is bewolk, maar die lenteson dreig om deur die grysheid te breek.

Die hoop skuld is ál waaraan hy deesdae dink. Dit veroorsaak dat hy snags tot laat wakker lê.

Waar hy die geld vandaan gaan kry om vir als te betaal, is ’n vraag waarop hy nie antwoorde het nie.

Die fabriek waar hy al vyf jaar ’n ketelmaker is, het ’n klomp van hulle op short time gesit. Gevolglik is sy salaris ook drasties aangepas.

Dit gaan nie so goed met die besigheid nie en dit wil voorkom dat hulle binnekort heeltemal afbetaal gaan word.

Hy kan maar net hoop en bid vir ’n wonderwerk. Waar gaan hy op 44 weer aan ’n werk kom met net gr. 10 agter sy naam?

Normaalweg werk hy vyf dae per week. Nou moet hy met twee, soms drie, dae tevrede wees.

Die dak oor hulle kop is die belangrikste. Dít moet hulle tot elke prys behou. Hulle kan alles verloor, behalwe die huis.

Hy en sy vrou kan nie op straat gaan bly of in familie se oë kyk nie. Sy vrou staan hom by, maar hy kom agter sy stres geweldig.

Hy wens hy kan die lewe vir haar makliker maak. Van loan sharks wil hy so ver moontlik wegbly.

Dis juis een van die redes waarom sy geldsake in so ’n benarde posisie is. Dis mos maklik om toe te gee aan die versoeking as jy verneem jy kwalifiseer vir so en so ’n bedrag. Die terugbetaling is altyd die probleem.

Hy moet ’n plan beraam om vinnig geld in te bring.

Dan, uit die bloute, kry hy ’n blink idee. Hy vind dit eintlik vreemd dat hy nie lankal daaraan gedink het nie. Dis die ideale manier om geld te bekom.

Met die Wêreldbeker-toernooi in Japan is almal rugbymal.

En niemand sal sommer weier om ’n weddenskap of twee aan te gaan nie. Hy kry sy gedagtes agtermekaar en werk uit presies hoe hy te werk sal gaan en wie hy almal gaan nader.

Hy ken baie mense wat niks ooghare vir die All Blacks het nie en enige span sal ondersteun wat teen hulle speel. Maar nie hy wat Barto de Miaz is nie.

Vas oortuig dat die All Blacks die Engelse in die een halfeindstryd met die kous oor die kop gaan huis toe stuur, begin Barto links en regs weddenskappe maak.

Hy sien dié geleentheid as ’n goeie manier om vinnig geld te maak. Hy is al so moedeloos van nooit iets in die lotto wen nie dat hy besluit het om op te hou speel.

Dit lyk of one day is one day hom nie beskore is nie. Met die rugby, so reken hy, is sy kanse veel beter.

Die All Blacks is nie verniet die oorweldigende gunsteling nie. Enige span wat die Webb Ellis-beker wil wen, moet eers verby Kieran Read en sy troepe kom.

Die meeste ouens wat teen die All Blacks wed, is Springbok-ondersteuners. Hulle maak geen geheim daarvan dat hulle eerder sal verkies om in die eindstryd teen Engeland te speel nie.

Barto kan nie glo die ouens is so dom nie. Maar nou ja, as hulle dan kans sien om hulle geld te verloor, is dit hulle eie saak.

Al wat hy weet, is dat hy ál die pad bank toe gaan lag ...DIS die oggend ná die wedstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland.

Naomi de Miaz steek haar hand uit om aan haar man te raak.

Sy frons toe sy besef Barto is nie langs haar in die bed nie.

Sy het gisteraand so vas geslaap dat sy nie weet hoe laat hy huis toe gekom het nie.

Dis daardie verdomde slaappil se skuld. Sy kon ook nie anders nie. Die wasgoed het haar uitgeput.

Dit maak nie sin nie, want hy is gewoonlik die een wat Sondae die laatste slaap. Toe sy bel, is sy selfoon af. Dit maak haar bekommerd. Sy besluit om die polisie te bel ...“WANNEER was die laaste keer dat jy jou man gesien het, mev. De Miaz?” vra ’n polisieman wat hom ’n oomblik gelede as sersant Stander bekend gestel het.

“Noem my Naomi,” dring sy aan. “Ek hou nie van die mevrou-besigheid nie. Dit laat my onnodig belangrik voel en ek is maar net ’n doodgewone mens.”

“Nou goed, Naomi, wanneer was–”

“Jy hoef nie jou vraag te herhaal nie,” val sy hom in die rede. “Ek het jou die eerste keer gehoor.”

Sy bly ’n oomblik stil, haal ’n sigaret uit die pakkie op die tafel en steek dit aan.

“Gee jy om as ek rook?”

Die polisieman haal sy skouers op. “Dis jou huis. Jy kan seker doen wat jy wil.”

Sy neem drie, vier trekke en blaas die rook stadig uit.

“Die laaste keer toe ek Barto gesien het, was gisteroggend voordat ek werk toe is.

“Hy het iets gesê van saam met vriende gaan rugby kyk by ’n drinkplek in Parow.”

“Hoekom het hy nie die rugby hier gekyk nie?

“Ek sien julle het DStv.”

“Ons kan nie die volle pakket bekostig nie en as Barto afgespreek het om mense iewers te ontmoet, sien hy nie sommer af van sy planne nie.”

“En jy laat hom toe om te kom en gaan soos hy wil?”

“Ek is Barto se vrou, nie sy oppasser nie. Soos jy agterkom, is ek nie die jaloerse soort nie. Jaloesie en besitlikheid is vir mense wat insecure is.”

“Kan jy die naam van die drinkplek onthou waar hulle gaan rugby kyk het? Ek wil graag daar inloer.”

“Parow wemel van drinkplekke, Sersant. Ek hang nooit daar uit nie. Ek kan jou ’n foto van Barto gee, dan kan jy ’n bietjie rondvra.

“Ek is seker iemand moes hom gesien het.”

Die polisieman staan op en be­lowe om haar dadelik te laat weet as hy iets uitvind.

Toe hy weg is, bel Naomi weer Barto se nommer. Geen antwoord nie. Sy hoop maar sersant Stander laat binnekort van hom hoor.

Sy troos haarself dat Barto dalk ’n ou skoolvriend raakgeloop het en so lekker kuier dat hy nie besef sy foon se battery is pap nie.

Later daardie aand is sersant Stander terug. “Ons het jou man opgespoor,” gee hy terugvoer.

Opgewonde vra Naomi: “Waar is Barto? Is alles oukei?”

Die polisieman skud sy kop: “Ons het jou man se lyk aan ’n boom in ’n bos in Elsiesrivier gevind.

“Ons weet nog nie presies wat gebeur het nie, maar in hierdie stadium lyk dit asof hy sy eie lewe geneem het. Jy sal asseblief saam met ons moet kom om sy lyk amptelik uit te ken ...”

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters