Verlede jaar
Anties sien Bacchus is nie ’n speelmaat
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n nuwe kortverhaal uit die pen van NORMAN EVERTSON. Hy noem hierdie verhaal “Die Wyngod in Aksie”. Norman wys daarop dat die name in sy verhaal almal fiktief is.

DIS Saterdag, so 20:00.

Ek sit op my agterstoep en slaan die gewoel in die strate voor my huis gade.

Badstraat en Muskadelweg (beter bekend as die Ashbury-pad) is bedrywig; motorvoertuie en mense beweeg in teenoorgestelde rigtings.

Twee ouerige dames trek my aandag. Hulle kom stadig al geselsend met die sypaadjie langs aangestap.

Die tweetjies loop ’n entjie, gaan staan, gesels ’n rukkie en loop dan weer verder.

En so gaan dit aan.

Eintlik staan en klets hulle meer as wat hulle loop. Hulle is duidelik nie haastig nie.

Kort voor die afdraai na Ashbury gaan staan die tweetjies weer.

Die geel skynsel van die straatlig val op hulle gesigte.

Ek sien toe dis antie Lisa Munnik en haar jarelange boesemvriendin, Bettie Booysen.

Bettie druk haar regterhand voor by haar boesem in en haal ’n sigaret uit.

Sy knyp die sigaret tussen haar lippe vas, trek ’n vuurhoutjie en maak dit brand.

Sy vat ’n paar trekke en gee die brandende sigaret dan aan vir Lisa, wat nog die hele tyd onophoudelik babbel.

Die twee vriendinne staan teenoor mekaar met hulle gesigte redelik na aan mekaar.

Ek merk op dat Lisa dit moeilik vind om stil te staan. Sy bly haar voete versit; dis óf vorentoe óf agtertoe. En dan lyk dit ook of Lisa mik om Bettie met die kop by te dam.

Sy neig deurentyd vooroor met haar kop byna tot teen Bettie se gesig.

Dan, net voor Lisa se kop met Bettie se gesig sou kontak maak, pluk Lisa haar kop op die laaste nippertjie weg.

Dié maneuver word tydens hulle gesprek met tussenposes herhaal.

Dis toe dat ek agterkom dis Bacchus, die wyngod, wat Lisa so treiter.

Daarom lyk dit of Lisa vir Bettie met die kop wil bykom. Bacchus is onhebbelik; hy laat nie toe dat Lisa haar staan kry nie.

Nes dit lyk of Lisa uiteindelik haar “voete gevind het”, gee Bacchus haar aspris ’n ligte drukkie voor die bors of in die rug.

Lisa moet dan elke keer inderhaas haar voete verplaas om haar balans te behou. Dis vorentoe, agtertoe of sywaarts, afhangende in watter rigting die moedswillige Bacchus haar “stuur”.

So duur die teen-haar-sin-rondtrappery voort terwyl die twee vriendinne lekker lipkap.

Hoewel Bettie stewiger op die bene voorkom, sal ek my kop op ’n blok sit dat sy ook ’n sluk of tien van Bacchus se sappies in haar lyf het. Want daai uitspattige kraai-lag diep uit haar maag klink alte veel na die nagevolge van ’n langdurige keelnat­makery.

Hoe dit ook al sy, ’n paar minute later word die tabakstokkie al wiegend oorhandig aan Bettie, wie se voetwerk heelwat stewiger is.

Dié blyk toe al so lus te wees vir ’n skyf dat sy gulsig begin suie aan die reeds kortgerookte sigaret.

Sy suig so kwaai aan die stompie dat die kool skoon soos ’n flitsende rooi lig van ’n aankomende noodvoertuig lyk.

Ek was onder die indruk die twee dames is op pad Ashbury toe, maar ná nog ’n paar minute van rondtrippelende geselskap, neem die twee skielik afskeid van mekaar.

Ek sien toe Bettie is die een wat koers vat Ashbury se kant toe nadat hulle gegroet het. Sy draai gemaklik om en begin aanstap.

Lisa, daarenteen, draai egter om soos ’n leerlingbestuurder wat ’n driepuntdraai uitvoer. Stadig, versigtig en in fases.

Die regtervoet word agteruit gestoot, die bolyf so halfpad deurgeswaai en die linkervoet skuif saam om te keer dat sy nie omkantel nie. Deur die hele omdraaiproses, wieg Lisa se bolyf “gevaarlik” vorentoe en agtertoe.

Toe sy uiteindelik, sonder voorval, omgedraai is, gee Bacchus haar onverwags ’n ligte stampie in die rug. Dit laat haar kop eers agtertoe, en toe vooroor ruk.

Skielik is Lisa in ’n hewige stryd gewikkel om haar ewewig te behou.

Desperaat gryp haar hande na iets om aan vas te klou, maar daar is niks nie. Net lug.

Sy trap woes rond en bont om te keer dat sy nie op die plek ’n stukkie grond, téén haar sin, koop nie.

Sy slaag wonderbaarlik daarin om staande te bly.

Dit neem ’n paar oomblikke om haar bewegings onder beheer te kry.

Daarna durf sy moeisaam die tog huiswaarts aan.

Ek wou net opstaan en by die huis ingaan, toe ek sien hoe Bettie vassteek en omdraai.

Sy en Lisa was reeds sowat tien treë weg van mekaar af.

“Haai, Lisa! Nei, man, ou vrind ... ôs het mossie lekke baai gesê nie!” skree Bettie van doerie kant af.

Lisa kom strompelend in haar vier rye spore tot stilstand. Haar kop hang vooroor. Nou gaan dit seker weer ’n stryd wees om om te draai, dink ek.

Wyslik besluit Lisa hierdie keer om liewer ’n U-draai uit te voer en stap dan, met die spoed van ’n slak, terug na haar vriendin toe.

Sy lyk skielik moeg; Bacchus is besig om haar onder te kry. Haar kop bly sommer so geboë.

Toe hulle sowat drie meter van mekaar is, sprei hulle hulle arms oop. Vir Lisa is dit ’n veeleisende taak om haar arms op te lig.

Met die bymekaarkomslag val hulle mekaar om die hals; soen en druk mekaar in ’n stewige omhelsing.

Van waar ek sit, lyk dit vir my Lisa leun meer op Bettie as wat sy haar vriendin omhels.

Dit lyk of Bettie in ’n verbete stryd gewikkel is om haar en Lisa regop te hou.

Ná ’n minuut of so van steun­pilaar wees, wikkel Bettie haar behendig uit Lisa se “lêende omhelsing”, uiter ’n paar baai-sê-woordjies en begin aanstap.

Sy draai haar skuins na agter en wuif liefies vir haar vriendin, terwyl sy aanstoot Ashbury toe.

Hierdie keer lyk sy vasberade om nie weer om te draai nie.

Lisa staar ’n ruk lank agter Bettie aan, maar dié stoot al aan sonder om terug te kyk.

Uiteindelik besef Lisa dat haar vriendin nie weer gaan omdraai nie en begin met haar driepunt-omdraai-maneuver.

Toe die omdraaiproses voltooi is, stap sy met skilpadtreë huiswaarts.

Bacchus is egter genadeloos en plaas haar kwaai onder druk.

Dis kruis en dwars op die sypaadjie langs, twee treë vorentoe, dan weer ’n halwe enetjie terug; hierdie kant toe, daardie kant toe en so gaan hy aan met arme Lisa.

Ek kon maar net hoop sy kom ongeskonde by haar huis aan.

Ja-nee, Bacchus is niemand se speelmaat nie...

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters