4 maande gelede
Snaakse video's help Yasmeenah
mooi: Yasmeenah (30) se funny video’s laat mense lag tydens die inperking. foto’s verskaf  ~ 

GESTRAND in die vreemde tydens die lockdown met ’n groot verlange na haar familie en vriende, het hierdie pragtige Weskus-nooi besluit om video memes te maak om haar verlange te verlig.

Só het Yasmeenah Abrahams (30) ook probeer om haar bekommerde familie te troos.

Yasmeenah – oorspronklik van Hopefield – is ’n gekwalifiseerde skoonheidsterapeut wat aan die begin van die lockdown op die Tanzaniese eiland Zanzibar gewerk het.

Sy het destyds vir drie jaar in Paternoster gewerk en baie buitelandse besoekers ontmoet. Hulle het haar altyd van hul lande vertel en dít is waar die travel-gogga haar gebyt het.

“Ek het eers op die passasiersbote gaan werk en toe van 2015 het ek in Zanzibar in ’n gesondheidspa gaan werk,” vertel Yasmeenah.

“Ek hou van die mense en hul kultuur. Hulle het die eenvoudigste lewe, maar is tog só happy.

“Ek het toe laas jaar my eie gesondheidspa in ’n hotel daar geopen. Toe die lockdown kom, toe maak die hotel toe. Ek kon toe nie huis toe vlieg nie. Ek moes toe die hotel verlaat en vir drie weke alleen in ’n apartment gaan bly.

Besluit

“My familie was baie bekommerd oor my daar.

“Dít is toe ek besluit het om die video memes te maak en aan hulle te stuur om hulle darem te troos.”

Van die video’s is role play tussen haar en haar ma, haar ma se pittige sêgoed en oor die algemene dinge in hul huis.

Yasmeenah het dit later op Facebook gelaai vir almal om te sien.

Op 30 April kon sy toe ’n vlug kry tot in Johannesburg, waar sy saam met ander reisigers vir 14 dae in ’n hotel onder kwarantyn geplaas is voordat sy kon huis toe gaan.

“Ek wag net vir die einde van die lockdown, dan gaan ek terug na my spa in Zanzibar. Maar dan gaan ek meer heen en weer travel tussen Zanzibar en Suid-Afrika,” verduidelik Yasmeenah.

Haar video’s kan gesien word op haar Facebook-blad.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters