3 maande gelede
’n Klomp lekker shows in pyplyn
Briljant: Amy Jephta se splinternuwe TV-reeks, Skemerdans, gaan volgende jaar op Showmax wys.  ~ Verskaf

ONS gaan volgende jaar na die talentvolle Amy Jephta se nuwe reeks kan kyk.

Die plaaslike stroomdiens Showmax het onlangs aangekondig hy gaan vier nuwe plaaslike shows na sy platform bring.

  • En een van die nuwe produksies is Jephta se moordraaiselreeks, Skemerdans.

Ek kan beswaarlik wag, want enigiets wat uit hierdie briljante skrywer se pen kom, is beslis die moeite werd.

Kyk maar net na die uiters suksesvolle M-Net-reeks Trackers en die plaaslike fliek Die Ellen Pakkies Storie, wat nét so goed was.

Albei hierdie produksies waaraan Jephta geskryf het, het plaaslik asook oorsee groot opslae gemaak.

Bitter

Die reeks van 13 episodes wat deur Nagvlug Films vervaardig word, sal in 2021 te sien wees.

Die reeks speel op die Kaapse Vlakte af by ’n Jazz-klub, The Oasis.

Dit gaan oor twee broers wat in ’n stryd gewikkel is om dié uithangplek, ’n bitter weduwee en ’n georganiseerde misdaadsindikaat.

Soos die magstryd om Glenn Fortuin se nalatenskap woed, is daar ’n moordondersoek wat ál nader aan die ongemaklike waarheid kom.

Vir hierdie reeks gaan Jephta die rol van uitvoerende vervaardiger aanneem. Saam met haar aan die stuur is Ephraim Gordon van Sara se Geheim en die gewilde sepie Suidooster.

  • Ons gaan ook weer die mooi sangeres Kelly Khumalo op ons skerms kan sien.

Die reality show Life with Kelly Khumalo gaan op 6 Augustus begin. Dit word deur The BarLeader vervaardig en beloof om ons ’n kykie in die sangeres se glanslewe te gee.

Die produksiemaatskappy is dieselfde een wat die gewilde shows Being Bonang, Somizi & Mohale: The Union en Kwa Mam’ Mkhize vervaardig het.

Daar was groot aanvraag na ’n reality show van die Sama-bekroonde sangeres wat byna 2 miljoen Instagram followers het.

Maar Kelly gaan ook baie drama na die skerms bring. Sien, sy en haar seun se derra, die hip-hop-ster en Uyajola-aanbieder, Jub Jub, het ook mos maar ’n stram verhouding.

Daar’s ook nog conspiracy theories rondom haar dogtertjie se derra – die sokkerster Senzo Meyiwa.

Verder is daar die drama van haar en Zandie, haar suster, wat onlangs groot skande in die sosiale media gemaak het toe hulle mekaar se name beswadder het.

  • Die ander show wat ook op die stroomdiens gaan wees, is die tweede seisoen van die Safta-bekroonde Tali’s Wedding Diary. Dit sal ook volgende jaar te sien wees.
  • Die laaste show is Dam, wat ook in 2021 op Showmax-skerms wys. Dít gaan oor ’n verlore dogter wat terugkeer na die Oos-Kaap om haar pa te begrawe.

Sy word dan geteister deur geeste in die huis.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters