4 maande gelede
Marc kry toe sy mooi Marisia
verlief: Marc Buckner kon nie wag om Marisia van Wyk vurig te soen nie.  ~ 

MARC Buckner (37) het sy laaste roos op The Bachelor SA aan Marisia van Wyk (24) gegee.

Marc het die jonger Marisia bo Bridget Marshall (31) gekies.

Ja, ek weet die eintlike doel van die show is om verloof te raak, maar selfs ék is tevrede met die tweetjies wat tans baie gelukkig en verlief lyk.

Dis darem baie beter as die teleurstellende einde waarmee ons tevrede moes wees in die eerste seisoen van The Bachelor SA saam met Lee Thompson.

My hart het in my skoene gesak toe Marc aan die spraakterapeut van Johannesburg sê hy is nog nie gereed vir ’n huwelik nie.

Ons het Donderdagaand op die finale gesien die twee duifies het voor die lockdown saam ingetrek.

Sy het haar tasse gepak en by die aantreklike Marc se pragtige pozzie in die Kaap ingetrek.

Toe ek Vrydag die happy couple vir ’n onderhoud bel, was hulle besig om ’n avo dessert in die kombuis aanmekaar te slaan.

Ek het hulle gevra wat die grootste les is wat hulle uit hul journey op die show geleer het.

Volgens Marc het hy geleer om die mense wat jy liefhet, te vertrou. Hy het ook die belangrikheid van familie en vriende besef.

Skaam

Marisia sê op haar beurt dat sy besef het mooi dinge gebeur as jy buitekant jou comfort zone beweeg.

En dit is só waar, want ons weet almal hoe skaam Marisia aan die begin was. Soveel so dat Marc gevoel het dat sy pal van hom weghardloop.

Ek het Marc ook gevra wanneer hy besef het Marisia gaan die een vir hom wees.

“Die dag toe sy van die perd afgeval het. Toe sy weerloos en ek baie bekommerd was. Dis toe ek besef het hoe ek oor haar voel.”

Natuurlik het ek ook gevra of hulle binnekort voor die kansel gaan staan.

“Vir eers leer ons mekaar ken. En om nou saam te bly, help baie daarmee,” meen Marc.

Ek het ook die kans gehad om saam met almal se favourite girl, Bridget, te praat.

Dié reisagent sê sy het met baie selfvertroue uit die hele journey gestap.

“My selfliefde en selfvertroue het ’n groot hupstoot gekry. Ek het nog altyd met selfvertroue gesukkel en om my journey op televisie te sien afspeel, het my goed oor myself laat voel,” het sy vertel.

En is daar enige kwade gevoelens van haar kant af teenoor die happy couple?

“Marc en Marisia is ’n lieflike paartjie. Daar is geen kwade gevoelens nie. Ek wens hulle alles van die beste toe,” het sy gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters