3 maande gelede
Goedvoel-stories oppie spyskaart
oppie kassie: Ivor Price is te sien in die nuwe VIA-program Ivor en die Verskilmakers. Foto: VIA  ~ 

ONS ken hom as ’n voormalige SABC2-nuusleser en toe was hy weer die ou wat ons aan die land se boere voorgestel het.

Nou keer Ivor Price terug na die kassie, maar met sy eie program, Ivor en die Verskilmakers.

Dit gaan op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word.

En almal lek reeds hul lippe af.

Sedert die kanaal die aap uit die mou gelaat het oor die show, het geesdriftige kykers die slapies op Facebook begin aftel.

Die eerste episode word vanaand 20:00 uitgesaai.

“In my kop was dit nog baie ver in die toekoms,” sê Price.

“Ons werk al langer as ’n jaar agter die skerms aan die TV-program, maar die lockdown het my kop skoon deurmekaar gemaak. En nou is die show hier!”

Gatvol

In Ivor en die Verskilmakers klim kykers saam met die mediapersoonlikheid in die kar en hulle ontdek saam met hom ’n land van hoop en omgee.

“Ons is gatvol vir die politiek en die ekonomie. Dit gaan moeilik daar buite.

“Tog is daar in elke gemeenskap helde wat hul beste vir ander doen. Dit is dié mense op wie ek in my TV-program die kollig skyn.”

In die eerste episode kuier Price by Door of Hope in Berea, Johannesburg. Dis bekend as ’n huis vir weggooibabas.

“Ek kon my oë nie glo nie,” vertel Price.

“Dit is letterlik ’n plek waar ma’s hul baba in ’n posbus agterlaat omdat hulle weens ’n klomp redes nie meer vir hulle kans sien nie.

“Maar elke baba word soos ’n geskenk van God ontvang, en hulle kry ’n nuwe lewe en toekoms.”

Price wil nie als verklap nie, maar sê daar is ook “hoendervleismooi episodes” wat in die Wes- en Oos-Kaap verfilm is.

“Cloetesville se mense gaan hulself op die TV sien, en Grabouw se mense en Uitenhage se mense.”

Price is vroeër by die Mediaveertjies as een van Suid-Afrika se beste TV-aanbieders aangewys. Sy boek, For the Love of the Land, is steeds ’n topverkoper by verskeie boekwinkels. Dan skuif hy ook by RSG agter die mikrofoon in vir But Kaantie: Die Ivor Price Show.

Volgens Price spoor sy liefde vir mense hom aan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters