2 maande gelede
Baaise akteur kap nog aan
Bly besig: Chivago Jacobs gaan binnekort sy rol as “Snakes” hervat in die rillerfliek Die Ontwaking 2. FOTO VERSKAF  ~ 

CHIVAGO Jacobs het nie op sy louere gerus gedurende die nasionale staat van inperking nie.

Die akteur van die Baai vertel dat dinge vir hom as kunstenaar maar moeilik was aan die begin van die inperking. Maar hy sê dit het hom tyd gegee om sy studies in safety management en risk assement klaar te maak.

“Dit is belangrik dat jy jou as akteur moet educate, veral as daar nie werk is nie, dan het jy iets om op terug te val.”

Raad

Chivago vertel ook trots dat hy goeie nuus gedurende die inperking gekry het. Die Ontwaking, die rillerfliek waarin hy sy deurbraakrol as Snakes in 2016 gekry het, gaan ’n opvolg kry. Hy sê: “Sodra die script vir Die Ontwaking 2 klaar is, gaan ons daaraan begin skiet.

“Ek is ook diep dankbaar vir Johnny Breedt, die regisseur van die film, want hy het die potensiaal in my raakgesien en weer die vertroue in my gestel om in die film te speel.”

Die Ontwaking handel oor ’n reeksmoordenaar wat vroue stalk en hulle vir hul tatoes doodmaak. Maar dan kom ’n nat-agter-die-ore polisievrou agter die kap van die byl.

Chivago sê hy kan nie veel uit die mou laat oor Die Ontwaking 2 nie, maar daar kom beslis ’n twist.

Hy deel ook sy raad met diegene in die bedryf wat tans sukkel om werk te kry.

“Moet nooit ophou droom nie. Druk deur en berei jou goed voor vir enige rol.

“Pyn en swaarkry hou nie vir ewig nie. Dit bou jou karakter. En onthou, môre sal die son weer skyn.

“Ek het ook geleer om te dans in die reën.”

Chivago werk ook tans aan twee scripts van sy eie. “Dis lekker om jou eie storie te vertel. Ek hoop wanneer dit klaar is, sal dit goed ontvang word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters