3 maande gelede
Wade is omtrént van sy jare af oor Joy se dansery
Monique Rockman as Joy in Suidooster.  ~ 

ZOE nooi mense om kinders in Bridgette se kombuis te staan en maak!

Ek het lanklaas so lekker gelag.’n Mens lag mos maar min deesdae, veral noudat hulle die biere agter slot en grendel het! 

Zoe hou nie haar oë op die goed wat belangrik is nie. Nee, niggie loer in Wade se rigting elke keer as sy die kans gegun word. 

Dis die klein jakkalsies wat die wingerde verniel. Onthou dit, vroutjie van verlange! 

Bridgette moes daai aand weer seker ses glase rooiwyn gedrink het om te tiep nadat sy gesien het wat sy gesien het!

Sy maak amper asof sy en Ian vir Nicci en Jerome aangeneem het.Mense kan darem skynheilig wees, man, en ek verstaan dit tog nie! 

Is Bridgette se huis nou volgende Nazeem s’n? Kan julle julle indink wat op daardie trappe gaan plaasvind? Ek sidder! 

Hy is gelukkig hy kan daai huis bekostig met die geld wat hy insamel by die winkel wat basies net windtjips en 10c-lekkers verkoop!

Ek neem aan ’n blinde hoender vind ook ’n korreltjie, of hoe? Nazeem vertel vir AB en Moena so stink in daai klein, opgegaarde winkeltjie dat hulle nie die verskil tussen ’n rot of ’n bobbejaan ken nie. 

Moena dink nog sy kan hierdie vent aanvat, maar toe verbrand sy ernstig haar vingers. Ons moet nou vir vier weke wag vir die vingers se vel om terug te groei. 

Ken jou plek. Bly in jou nes en jy bly ongekwes. Het hulle ma’s dit nie vir hulle as kinders geleer nie? Waar het hulle skool gegaan?

Ek’t vreeslik baie vrae! So gepraat van AB en Moena, daar begrawe ons amper vir AB. 

Jacob is lus om daai sneller te trek terwyl hy soos ’n gewonde bok daar lê en sweet!

Selfs nie eens ’n besering kan mense tot die besef bring dat jy met jou medemens moet reg leef nie.

Carmen en Rhafiek dink as die hemel val, is ons almal dood, maar Chris probeer maar net help!

Ek sal hul dikvellige gatte net so los.  Hierdie apteek-mannetjie sal nou moet besluit na wie toe hy wil loop met sy rooi hakskeentjies. 

Hy kan nog nooit soos ’n voël op ’n tak wees nie en Kaashifa kan nog nooit so lus wees vir ’n man nie.

Los hom, laat hy bok waar hy wil. Hy stamp seker weer sy kop teen ’n lawwe muur en dan wil hy sy bene onder jou tafel kom insteek. 

Ons ken mos nou al hoe hulle koppe werk! Los uit! Daar dans Joy dat haar heupe amper uit lit uit is en Wade neem dié tipe gedrag waar! 

Hy is so teleurgesteld soos ’n meisie wat uitvind haar outjie soen mans. Dis ’n katastrofe!Hy lê saam met dié dansvrou op die rusbank asof hulle hom betaal om sy skoene uit te skop, min wetend dat hierdie dame lus is om die pale warm te beswaai.

Wie heuning wil eet, moet steke verdra! Ek slaan my oë op na die berge

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters