5 maande gelede
Tim is so gefokus hy maak al kindergeluide
Die sepie-ster Marco Spaumer was een van ’n lys bekendes wat hoërskool Jeugland skoolgegaan het. FOTO Instagram / Marco Spaumer  ~ 

VERDER is Michelle nou lus vir veldmuise en huisrotte in die Karoo. Ek sê niks meer nie. My Christenskap hang daarvan af!

Hierdie hele besigheid het in ’n dieretuin of ’n slangpark verander! Hoe doen ’n mens dit?

Daar moet Bridgette, wat nou net een of twee breinselle oor het, die hele Oos-Wes oorvat. Ons kan ook maar bly wees dat Bianca klaar is met haar tikkery en dat sy darem nou kan hand bysit waar dit nodig is, want daai upstairs vrou is heeltemal die kluts kwyt!

Die Nazeem-vent is so geniepsig soos sy oë. Hy dink omtrent hy’s die goewerneur se hond se oom!

Mrs J weet nie hoe sy dit het rondom die man nie. Die vrou se binneste borrel soos ’n teelepel Eno in ’n halwe glas water.

Sy sal haar geld tog by Spec-Savers moet gaan terugvra, want selfs met die bril kan sy nie daai gare deur die naald steek nie!

Tim is so gefokus om Bridgette se empire te steel dat hy nou skoons geluide van ’n kind oor die foon maak. Dit is hy, hoor wat ek sê, maar Gert erf, is Gert swerf!

Hy gaan sy gat sien, los hom!

Zoë sal binnekort moet seker maak haar hare groei.

Hulle sê daar sit krag in ’n vrou se hare. Moenie vra nie, ek weet nie wie die hulle is nie!

Hier nooi Chris vir ouma Kate om by hom te kom bly. Vir wat?

Hy soek ’n vrou! Wanneer laas het hy ’n koppie koffie uit ’n vrou se hande gekry? Wanneer laas het iemand sy onderbroek ook in die wasmasjien gegooi?

Die man is so droog soos ’n mop wat vir ’n week in die son gestaan het! Hier is nou ’n gulde geleentheid vir die ou perd om lekker sy stert te waai! Maar bewaar jou gebeente, Ouma, die oupa is rats!

Stefan gaan nou askoek en pynappelbier op die platteland maak. Michelle moet seker gaan kers opsteek by ’n tweedehandse winkel, want wat anders is sy opgelei om te doen? In ’n ekonomie waar daar voorgeskryf is dat jy ’n dokter of ’n ding moet wees, verkies sy om ’n voorskoot te dra.

Hierdie vroumens laat my snags wakker lê en wonder oor haar lewenskeuses. Sy is die oorsaak dat ek kort-kort flou val!

Bennie kon mos lekker vir Kaashifa vat en vir haar al wat ’n hoender­eier in die buurt is, steel. Maar nee, sy praat te veel!

Hy moet dit tog oorweeg. Ten minste kan hy so eet dat die kat nie met sy maag kan wegloop nie! Ja, raak ontslae van daai man met die slang. As ek daai mannetjie so kyk, is dit mos die verkeerde anaconda na my sin!

Hier loop ’n blonde vrou in by Bridgette. Wat kom saai sy? Wie is haar ma? Ek ruik lont!

As jy blond is en jy loop by Ruiterbosch in, dan is dit net moeilikheid – vra vir Yolandi en Yvette. Jou hare veroorsaak jou dood! Dié een kom weer om die duiwel se briewe te lees. Ek is al klaar moeg!

Wag, ons skinder weer!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters