7 maande gelede
Niggie trou ná drie glasies wyn en net twee soene
Skoolfoto's
Lauren Joseph is Zoe October, skuus Du Plooy, in Suidooster.  ~ Instagram

DAAR gee Wade vir Tim twee van die bestes!

Ja, dit gebeur as jy met jou vuil pote in ander se noedel-slaai krap!

Ek kan steeds nie glo dat hierdie twee getroud is nie! Ek slaan my oë op na die berge!

Waar het Zoë skoolgegaan? Sy moet haar geld gaan terugvra, want so vaak kan ’n mens nog nooit deur die lewe gaan nie! Het haar skobbejak van ’n oom haar niks geleer in daai upstairs huis van hulle nie?

Ek gooi my plat neer vir dié slapgat-maniere wat sy hier ten toon stel!

Danni en Tim het jare lank aan mekaar gekou, maar trou was nooit ter sprake nie. Maar hier loop staan Niggie by die kansel ná drie glasies wyn en twee soene!

Dis waansinnigheid wat sal maak dat ’n mens by die poorte van die hemel moet omdraai.

Jy moet die R2 wat jou ma vir jou gegee het om in die Sondag-skoolbordjie te gooi, ook terugvra!

Die lewe het hierdie meisiemens niks geleer nie. Verder sit en stres ek soos ’n iemand wat oor ’n uur tande moet trek!

Verbeel jou hier word Zoë swanger met ’n klein Chucky, want Tim se vieslike maniere klou aan sy DNS vas! ’n Mens word met evil gebore, die lewe is maar net ’n katalisator van jou stront!

As ek sien haar magie begin swel, kruip ek onder die bed weg en bly leef daar totdat ek sterf! Ek bid vir effense genade! Ek weier om verder van dié twee te praat. My mond brand soos ’n kool vuur!

Nazeem versmoor daai siek man asof hy ’n prys gaan wen vir lafhartigheid! Net in sy wêreld bestaan sulke kompetisies en ek is al daai morning op van hierdie baadjieskeer-skepsel! Nou ’n baadjieskeer-skepsel is mos iemand wat op ander mense ry – vir kos, drank en sigarette! Hy dui tekens van ’n bosluis aan!

Mense moenie verbaas wees as hy aan die bloed van die goeies suig nie! Almal se oë word mos in Ruiterbosch toegedruk!

Is niemand in daai dorpie gesalf nie? Julle sal by die kerk moet uitkom ... Julle maak julle moeg!

Mrs. J se man het haar rus-rus verneuk. Nou moet sy alleen in daai blommetjiesmuurpapier-huis bly en vir ál wat ’n hanstjend is, kos maak – al lê en vergeet haar nuwe man kort-kort wat sy naam is.

Die antie is so as aan van daai man wat daar lê. Sy maak my ook weer moeg ... En om te dink ek het gedink sy is een van die goeies. My gits!

Verpletter

Dis hierdie soort maniere wat mans die krag gee om oor die onderdeur te loer!

Mans soek knaend aandag soos babas. En moenie dat hulle siek word nie! Dan stel ons jou aan as crèche-bestuurder!

My hoop vir die nasie is min. My krag om onbenullighede te hanteer, is verpletter. My gebede het opgedroog en my ellende neem deel aan verspring! Ek’s moeg en gedaan, maar ook bang. Bang vir wat by die huis vir my wag!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters