4 maande gelede
Nes Siya ruik ek ook ’n vet rot by Ty se ‘perdedokter’
verfrissend: Gantane Kusch wil nooit te gemaklik raak nie.FOTO VERSKAF  ~ 

HIERDIE meisiekind wat die tiere en bere so doodmaak sodat sy hul pels kan aantrek as ’n jacket, wil nou vir haar ’n strip club oopmaak.

Kan julle dit oorvertel? Wat is volgende? Panties en onderbroeke te koop by Oos-Wes? Bierverkope by die Juice Bar? Hier kom ’n ding!

Sy het die ander dag hoog en lag gesweer sy is klaar met haar dansery nou wil sy hê die manne van die Kaap moet al hul geld kom spandeer terwyl vroulief met vuil hare en ’n grys broek na die kinders moet omsien.

Hierdie vroumens sal opgedra moet word! Soos Mrs J daai Bybel sit en lees en na die Vader van genade roep, moet sy sommer vir niggie ook by daai gebede insluit.

Die duiwel het hierdie ding waar hy daarvan hou om regop in ’n mens se agterent te wil sit – moet hom nie toelaat nie. Daar’s geen hemel vir hom nie! So, los hom, los hom.

Nazeem is natuurlik betrokke by al wat ’n slinkse plan is. Moenie eens dat Tim hoor daar is ’n ekstra sent om te maak nie. Dan rek hy daai nou ogies van hom so oop soos die opening van ’n grot en verder seil hy soos ’n viper na die voël se nes toe op soek na ’n eier!

Hierdie mense is so vuil soos my wasgoed. Dit het heelweek in die Kaap gereën. Hier vat dit mos vyf tot sewe werkdae om jou onderbroeke en truie droog te kry!

Zoë sien weer dwarsdeur hierdie meisie wie se ponytail net solank soos Nazeem s’n is. Ek dink Zoë is jaloers dat hierdie dame sulke lang hare het terwyl Zoë s’n hoogtevrees het, maar ek het niks gesê nie. Môre, oormôre sê julle dis ek! Ek vermoed net, so bly stil!

Justin wil nou in die apteek werk. Ek sien hoe loop Antie Stienie met Oom Sarel se pille weg. Laat die klong liewer net pizza aandra asseblief. Daar is minder gevaar in ’n bord wat val as wanneer jy die emmer skop of ’n lepel in die dak steek!

Hierdie perdedokter spyt seker vir Ty goed in sodat sy hare kan groei, want wat anders kan vir Siya so agterdogtig maak?

Ty maker nogal so ’n paar stukkies hare. Dis koud hier buite en die mussies is duur! Dié dat ’n mens nooit vir hierdie tipe mense borsels of kamme kan koop as ’n geskenk nie, werk op my senuwees.

Soos Siya, ruik ek ook ’n vet rot. Van daai spanne wat in die Kaap rondhardloop ná ’n aand van ’n spul dronk mense huisves wat hulle oorskietburgers en boereworsrolle op die grond neersmyt!

Ek sê vlek daai swart aktetas soos ’n snoek oop en wys vir ons wat daarin steek!

Sjym, laat Joy maar dans. Ek verstaan daar is vreeslik baie sente in dans. Ek kan onthou in my jonger dae het ek omtrent vir my drankies op die Kaapse makieties los gedans.

Dis twee skoffels hier vir ’n koue bier en drie trappe daar vir ’n Oom Tas van die jaar – ja ek het nooit betaal om dronk te word nie, nee, ek dans vir my dronk!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters