3 maande gelede
Lee-Aan-hulle laat mos toe dat Ty vir hulle vermaak
Geon Nel (dr. Freeman) en Maurice Paige (Tyron) in die sepie Suidooster.  ~ 

DAAR skop Ty amper die emmer en die toordokter kom natuurlik so lig daarvan af. Dit gebeur mos as jy ’n misdadiger in Suid-Afrika is. Ons sluit die onskuldiges toe, maar die skobbejakke kan maar ronddwaal soos uitgekletterde kokkerotjies in Woodstock. Ek sal dit nooit verstaan nie, so ek sal nie eens probeer nie!

As jy nie wil hoor nie, moet jy maar voel. Ek weet nie vir wat hou Ty vir hom so sterkgevreet nie! Aanvaar net Siya se behandeling en word gesond of loop spit vir jou ’n graf en spring in.

Hierdie op-en-af maak my moeg! Ek sal nog nooit so iemand smeek om aan die lewe te bly nie – loop soek die hemel as jy wil!

Ek laat vermaak my nie deur geniepsige mense wat net aan hulself dink nie. Nooit nie! As ek Lee-Ann was los ek hom net so en loop soek vir my ’n ander man. Maar deesdae kan ’n mens ook nêrens heen beweeg nie, so dit gaan seker moeilik wees om op ’n date te gaan tensy ’n mens op Zoom sit en vry! Ai, die lewe hier buite is allesbehalwe ’n lied!

Carmen gaan so gal af oor daai ou klein handsakkie wat gesteel is – daar is net stof en twee of drie besigheidskaartjies in, nou gil sy asof die man met haar aandele weghol. Relax, dame, om in 2020 dramaties te wees is ’n sonde ... vra vir Zoë!

So gepraat van Zoë, hier besef niggie al hoe meer hoe ’n groot fout sy gemaak het om vir Wade vir die swyne te gooi! Hierdie Tim-mannetjie kou nou so aan haar dat sy net vel en been is. Dié goed gebeur as ’n mens toelaat dat mense jou dreig, dronk maak en dinge belowe in die donker!

Sy het nou nie eens ’n ma by wie sy kan gaan kerm of kla nie. Sy moet maar met haar kort hare en ellende alleen saamleef! ’n Vrou se krag lê in haar hare. Laat groei joune, meisie – een van die dae staan jy sterker as Tarzan terug in Wade se arms!

Hierdie Joy kan darem stront aanvang. Sy woel met Nazeem sodat sy sy geld kan kry, maar dan maak sy ogies vir Wade. En verder suip Nazeem net whiskey of brandy of wat ook al om sy nerves te bedaar! Hy sit seker weer dag en nag op daai klein matjie om sy sondes te bely!

Joy het die ander dag haar hare uitgeblow, het julle gesien? Sy het seker gesien hoe skinder ek van haar! ’n Mens moet na jou hare kyk – die mense hou ’n mens dop!

Arme Zoë se eie man wens haar nie geluk op haar verjaardag nie. Hy hol vroegoggend uit om wie weet wat te doen en verder moet sy by Wade staan en huil. Hier kom ’n ding!

Stel Imraan in mans belang? Stuur sy nommer vir my – ek is lus om in die Kaap te gaan dans tussen die pienk liggies en vere van Groenpunt. Of los maar – more, oormore sê julle ek klop aan!

Ons skinder weer volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters