7 maande gelede
Dit is weens leuens dat ons in Vader Krismis glo
suidooster,marco spaumer,lauren joseph
Suidooster se Tim en ZoĆ«  ~ Suidooster

DAAR is Zoë nou mev. Du Plooy terwyl sy staan en dink hoe sy vir die res van haar lewe lekker gratis smoothies kon kry!

Ja, dit gebeur as jy jou stêre in die wind steek terwyl jy nie al die feite ken nie. Dis ons wat die lewe vir ’n aap vat, dan blameer ons die weer!

Hier is mense in ons samelewing wat van 20% hou terwyl hulle 80% kon kry. ’n Mens noem sulke mense hardkoppig en kie!

Ek sou wat wou gee om vir Wade by die kansel te sien, maar nee, die slang staan en wag terwyl die blonde predikant vir Niggie wag wat in haar wit rok vol twyfel aangestap kom! Jy kan nog nooit met ’n slang trou nie – imagine hoe gaan jou kinders lyk!

Tim is uit die put van die hel uit. Hoe is dit moontlik dat hy nie ’n gewete het nie?

Dis net kinders wat grootgemaak is deur ouers wat afsydig is wat die stront so kan laat spat!

Ek wil nie in die kosbare ure van ’n dag sit en wonder hoekom die klong so buitensporig is nie. Sy ma lê tog uit die aard van die saak in Lentegeur of Valkenberg of so iets – so ek verwag niks minder nie!

Daai kophou wat hulle destyds vir Tim gegee het, is wat hom so van lotjie getik gelaat het!

Kan iemand tog vir hom ’n nuwe toy vat, want al wat hy doen, is om met die leeu se ballas te speel! ’n Mens kan nie met ballas speel nie; vra vir Eva!

Bridgette behoort haar te skaam – sy’t gecum laude by die hel se gradeplegtigheid en dis dié dat sy haar pa se stront ook so kon wegsteek. Die vrou het, nes Tim, geen gewete van ’n dag oud nie. Dan wonder sy hoekom haar dogter niks met haar te doen wil het nie.

Nicci sit in self-isolation in Seattle en verder lê tel sy skape om saans aan die slaap te raak.

Onthou, skelms slaap nie. Dis juis in die donker dat hulle op hulle beste presteer!

Mymoena en ’n leuen vertel pas mos nie in een sin nie, maar onlangs kon sy die spek skiet wat sy eerder moet gaar maak – en dit nogal teenoor haar ou man wat enige tyd kan omkap!

So gepraat van flou val, ek hoop voor die hemele dat hulle voorsorgmaatreëls getref het om hulself te beskerm teen hierdie bliksem wat al die pad uit China vir ons kom hallo sê het!

Sy moet ophou met haar poetsbakkery en haar man in die oë staar!

Daar het Nazeem haar alweer so vas soos ’n muis in ’n kalbas! Loop vra jou man om verskoning Moena, met ’n bak breyani! Neef hou mos ryskorrels in sy bakkies!

Dis van leuens vertel dat ons geglo het in Vader Krismis, die tandemuis en dat jou salaris genoeg is. Dit is ons wat ons kinders saam vat winkels toe en dan kla dat die lekkers en poppe te duur is.

Ons grawe die gate en dan blameer ons die mis as ons hare mince. Dit is mos ons eie skuld!

Wag, mense, ons skinder weer volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters