4 maande gelede
Die outjie wat by Mrs. J bly, is iets vir die oog
suidooster,marlo minnaar
Imraan word deur Marlo Minnaar vertolk  ~ Suidooster

DAAR kry daai dame toe eindelik haar sente om die “dansstudio” oop te maak.

Watse dansstudio? Noem die ding op sy naam. Sê dis ’n strip club!

Dis dié tipe gedrag waar mense eufemismes gebruik om deur die lewe te gaan wat ons in hierdie penarie laat beland het!

Toe sy die eerste keer in Ruiterbosch aankom, was haar hare uitgeblow soos ’n Sondagskool-juffrou s’n. Maar deesdae loop sy rond met hare wat in ’n ponytail vasgemaak is soos ’n st. 7-meisie wat nou net besef het sy smaak die hoofseun.

Dié goed gebeur en dan wil almal verbaas wees as die bom bars.

Hier maak niggie ogies vir Wade. Haai, weet sy hoe kwesbaar daai klong is?

Is sy daarvan bewus dat Wade se hart nog nooit liefde gehad het vir enige iets anders, behalwe Zoe of ’n ding wat jou vrugtesap kan gee nie?

Sy wil hom kamtig omkoop met ’n Oos-Wes-pizza, maar my! Ek wil dringend met dié vrou se ouers praat. Ek wil net weet wat hulle vir haar as kind voorgesê het.

Sy koes vir Nazeem nes ’n taxi driver vir ’n spietkop.

Noudat sy sy geld gekry het, skram sy weg, want sy is lus vir vrugtesap.

Ek het die ander dag gesien hoe broei slangetjies uit hul eiers uit. Genade, hoor my, dis hierdie dame se susters en broertjies wat daai dag gebore is. Hiervan is ek oortuig!

Het julle Kate se bruin baadjie gesien wat sy die aand van die vertoning saam met Quinton aangehad het? As hulle haar uit ’n vliegtuig moes stoot, dan land sy doek­sag op die grond. Daai ding is vir jou opgepof soos môre heeldag en ek wil nie oor my ongemak hieroor praat nie. Die angs oorval my.

Zoe ruik lont en ek sê vir julle vandag een ding wat nie twee is nie – hier kom stront! Hulle moet Zoe by die lughawe aanstel, pleks van daai honde wat die mense se dagga uitsnuffel – sy doen dit beter.

Sy kan iets uitsnuffel wat nog nie eens in die suitcase gepak is nie. Hoekom loop werk sy nie in die parlement nie. Ons het mos so iemand nodig! Doen aansoek!

Hierdie dokter het nou dat Ty decks bou en ál wat ’n ding is aanvang, terwyl Lee-Ann ’n kat kan skiet van bekommernis. Ek sê weer, as jy die dag man vat, maak seker jy ken eers sy ma of sy voog – hulle erf gewoonlik daai antie of oom se maniere, dan steek dit kop uit die dag as hulle hulle opruk of vies word vir jou.

Moenie die duiwel so ’n kans gee in jou lewe nie. Dis lelik.

Dié mannetjie wat nou by Mrs. J woon, is nogal iets vir die oog, nè? ’n Mond soos ’n skeermes, maar hy vat raak. Hier bak hy ’n eier, daar knie hy ’n brood! Mense doen nie dikwels goed tensy hulle iets wil hê nie.

Ek sien ’n warrelwind in die verte aankom. Maak toe jul deure en vensters. Kruip onder die bed in en bly daar lê – die storm is soos die sigarette in Suid-Afrika op pad!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters