2 maande gelede
Bridgette moet van daai probleemhuis ontslae raak
Denise Newman  ~ 

MYMOENA kan amper vir Joy in die vuur smyt van woede!

Dit sal jou leer – moenie om pale dans nie, dan is niemand vir jou vies nie.

Dis die klein jakkalsies wat die wingerde verniel!

As iemand my so indoen, beteken dit mos ek moet ag slaan op my wangedrag. Maar nee, Joy kap nat met haar agterbaksheid.

Dié vroumens is so ongebalanseerd soos die geldsake van die land, maar niemand wil daaroor praat nie. Almal kap zip.

Dis dié tipe goed wat ons Skepper verafsku en ontevrede maak!

Wade beter uit daai spinnerak kom wat Joy daar aan die spin is!

Hier kom emmers vol stront aan!

Versigtig wees, ou maatjie. Dis vandag “Hosanna!” en môre “Kruisig Hom!”

Moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie – ek dagvaar jou vir naamskending selfs gedurende die pandemie. Ek kook nie sag nie – ek is beesvleis!

Hoe is dit moontlik dat jy vandag by die graf staan en môre is jy weer op die been? Jacob loop toe sommer uit Carmen-hulle se woonstel uit.

Die man is nog lank nie klaar met hulle nie, veral noudat hy gevang is. Julle, wie heuning wil eet, moet steke verdra. Maar gaan hulle net steke kry as daai helse man weer ontsnap of woon ons ’n begrafnis by?

Julle moet my sê. Ek wil my swart hoed en my baadjie met die shoulder pads uithaal en daai dag dra!

Speel nog met die leeu se ballas, jy sal jou ma verlang!

Daar wil Nazeem by Joy intrek. Mense, hierdie man is so geniepsig soos ’n honger muis wat alewig verby die valletjie hardloop! Hoekom kom hy nooit iets oor nie?

Hoekom loop die skelms altyd die vryste rond?

Daai ma van hom moes sy wieg minder geskommel het as kind, dan sou hy dalk ’n beter mens gewees het, maar nou is hy net ’n doodloopstraat-skepsel wat almal ongemaklik maak! Bid vir hom!

Bridgette kan maar net ontslae raak van dié upstairs-huis wat nou almal se probleem word. Verkoop die ding, trek by ’n aftree-oord in of maak reg met jou dogter en loop bly in Trump se land! Hoekom neem sy so moeilik ’n besluit?

Daai huis het haar te veel laat grond vreet. Los vir Satan. Hy’t g’n hemel vir jou nie! Verkoop die ding, vat jou sente en leef lekker, Antie. Jou jare is immers getel!

Kaashifa se ouma is ’n regte suurknol wat hopeloos te vroeg in haar lewe haar man verloor het. Net ’n manlose vrou kan so te kere gaan!

Imraan sal moet lig loop rondom dié antie. Sy smaak galbitter soos Leon Schuster se nuwe Houkswyn daai morning! Pasop, ou klong, jy dans netnou kaal in die strate soos niggie jou kan toor!

Wade swaai daai Krismisliggies oor Joy se balkonpale soos Joy haar om die klub se pale draai.

Dis ’n swaai vir ’n swaai totdat Zoe weer die plate kom skroei!

Sy is mos so slim! Genade, daar los sy vir Tim! Die dinge is wim!

Ons skinder weer later!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters