3 maande gelede
Bennie die Towenaar moet eerder ophou met sy stront
Richard September
Richard September is Bennie in Suidooster.  ~ Foto: Verskaf / kykNET

HIER loer Zoe deur die bossies hoe Wade aan sy nuwe vlam staan en kou! Dít gebeur mos as jy mense los en jou sondes staan en berou!

Arme Zoe het die skoot baie laag deur, maar ek het ’n vermoede sy gaan hier gate in die mure kap. Niggie kook mos glad nie sag nie!

Joy het Wade nou net daar waar sy hom wil hê. Wade is soos ’n muis in ’n kalbas!

Nazeem wonder nog hoe hy kan maak sodat Joy weer ’n bietjie ’n aand saam met hom kan deurbring, maar hy kan met niks opkom nie.

Verander jou hare, dan sal jy sien hoe die vroumens jou bespring.

Mense hou van dom wees, lyk dit vir my!

Wat is Justin se ding? Justin Jaloers Bokkie! Oor hy te swak was om die skelm vas te trek, nou moet Imraan als moontlik doen om te wys hy’s ’n man en nie ’n muis nie!

Nee, Justin sal moet regkom. Hier sal hy nie allerhande toertjies en dingetjies kan aanvang vir ’n bietjie skewe aandag nie. Die simpel klong jaag my bloeddruk op en ek weier om in hierdie winter siek te wees.

Ty se kop is uiteindelik oopgesny en almal kan nou rus kry vir hul siel, lyk dit vir my.

Lee-Ann kan haar lag nie hou nie.

Niggie pronk daar rond met ’n oop mond nes ’n babavoëltjie wat sien sy mamma is op pad met ’n wurm.

Wade kan nie ophou bid nie en Mymoena wil die slapende man wakker maak, so asof sy hom ’n samoesa of ’n pasteitjie wil voer!

Die mense is so dramaties soos eerstejaarstudente by Maties se Vensters event! Ek kan nie byhou nie. Gee tog krag van Bo!

Hierdie dikvellige toordokter, Bennie die Towenaar, beter ophou met sy stront! Hy kan eerder vir hom iewers in Merweville ’n teiken loop soek om te betoor.

Ty het ons nou etlike maande voorberei sodat hulle hom kan oopsny en nou hoop ons die vent word gesond, want so kan ons nie aldag by die hospitaal sit en kuier nie. Waar is ons dan? Binnelanders ? My gits!

Hier lyk dit dan nou asof ons volgende week stadig agter Rhafiek en Carmen se kissies moet loop ... Dié wilde man is lus om daardie twee mense onder die grond te bêre. Ek kan tog nie weer ’n begrafnis bywoon nie – my swart klere is te klein van al die lockdown-kosse wat ek so sit en vreet!

Tog is ek baie dankbaar vir ’n bord kos. Dis pure genade.

Spoke

Maar julle, dit gebeur seker as jy deurmekaar raak met ’n JP en dan maak asof die lewe net weer heeltemal ’n lied is.

Nee, dit werk nie so nie! Spoke bestaan en hulle kom kuier vir jou deur middel van groot, sterk manne met gewere, soveel so dat jy jou siek sit en lieg!

AB se rooi sop lyk soos daai besigheid wat uit ’n mens se lyf kom as jy val of jouself raaksny – julle weet mos. Is dit ’n teken? Ek sê geheel en al niks meer nie!

Ons skinder weer volgende week!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters