6 maande gelede
Almal moet soos Quinton hulle samewerking gee
Dean Smith speel die rol van Wade Daniels in Suidooster.  ~ Verskaf

AS ALMAL maar net soos Quinton hulle samewerking kon gee, dan sal ons dié gemors beat, maar nee, ons wil dronk wees en moles maak!

As iemand ’n prys kon uitdeel oor wie die hartseerste in die land is, dan vat Wade eerste plek.

Ek kry die klong so jammer. Dis asof ék met hom opgebreek het! “Where do broken hearts go?

Hierdie Zoë-klimeidjie gaan in haar hande huil. Ek het gisteraand hiervan gedroom. Sy soen nou alte lekker hierdie kiertsregop klong met sy slangbrein dat sy nie eens kan sien hier is k*k in die land van Kanna nie. Bel die polisie! 

Tim het ernstig gekom om almal uit te roei – soos ’n plaag! Is daar niks wat ’n mens op die klong kan spray of kan ’n mens hom nie met ’n vloeistof gooi wat hom gaan reinig nie? 

As iemand die man se naam voor my noem, gril ek soos die hiënas in The Lion King toe hulle Mufasa se naam gehoor het.

Wade, hier sal jy ernstige stappe moet neem om jou ou moedswillige nooientjie terug te wen, of gooi haar man vir die swyne, sy wil haar mos met die semels meng. The choice is yours.

Wat my die ergste pla, is dat Justin se pa se kop kaal is. Is dit Juicy Justin se voorland? ’n Kaal kop? Ek steek my weg! 

Hierdie man is so ongenaakbaar soos daai twee rottweilers op oom Gert se plaas in Namakwaland. Ek wil hulle nooit weer sien nie. Ek is amper ’n boud kwyt as gevolg van hulle.

Hoekom het die man nie in Johannesburg gebly nie? Nou kom krap hy die arme simpel klong van hom se kop om.

Justin se denke is so deurmekaar soos ’n rebelse tiener se slaapkamer.

Niemand hou van ’n onnet mens nie, nie eens die Vader van genade nie. Hoe sê jy vir jou kind hy is niks werd nie?

’n Mens praat jou kinders moed in! Dis dié dat ons kinders gesuip in hulle karre klim of gaan dans tot die son opkom.

Ons moet dit nie doen nie. “I believe the children are our future.” Whitney het so gesê. Luister na haar!

Wat is ouma Kate se doel anders as om vir haar kleinkind geld in te stop en op te kom? Wat is haar storie? Hoekom is sy daar? 

’n Mens mag nie so doelloos deur die lewe gaan nie, dis nie oulik nie. Kom word nou ’n slag oulik. Mzansi wag vir jou.

Danni sal moet oppas. Dr. Thuli het ’n geskiedenis van verneukery en hier steek daar skielik ’n mooi ou pasiënt uit.

As ek Danni is, bel ek nou al vir CBS se Cheaters, just in case of an emergency!

Hoe kan ek niks van Mrs. J noem nie? Die antie se ontevredenheid is 30 jaar te laat.

Henry draai nie eens in sy graf om nie. Dit traak hom nie, want die verbode vrugte was die lekkerste en nou sit sy met die gebakte pere.

Ai, soms moet ’n mens maar net vlugtig oor die spyskaart loer en niks bestel nie. Netnou kry jy ’n bord stront!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters