2 maande gelede
Will wou moor ná jare van pyn
Familie: Will Smith sê hy het baie wrokkige gevoelens jeens sy pa gehad. foto verskaf  ~ 

WILL Smith sê hy het al daaraan gedink om sy derra dood te maak omdat dié sy ma pal mishandel het.

Hierdie brokkie inligting is ’n uittreksel uit die Amerikaanse akteur se nuwe memoir, Me.

People berig Will (53) maak in die boek oop oor sy grootwordjare in Philadelphia met sy ouers, Willard Carroll Smith en Caroline Bright.

“My pa was baie gewelddadig, maar hy was ook by elke game en elke recital. Hy was ’n alkoholis, maar hy was nugter by elke liewe movie première van my. Hy het ook elke movie-stel besoek.”

Maar Will onthou ’n voorval waar sy derra sy mammie aangerand het.

“Toe ek nege was, het ek gesien hoe my pa my ma teen die kant van haar kop slaan. Hy het haar so hard geslaan dat sy inmekaargesak het. Ek het gesien hoe sy bloed spoeg.”

Wraak

Die Wild Wild West-ster se ouers is uitmekaar toe hy nog ’n tiener was, maar is eers in 2000 geskei.

Will het toe na sy derra omgesien toe hy bejaard was en teen kanker geveg het. Die pa van drie vertel hoe hy wraak wou neem op sy pa toe hy oud en siek was.

“Een aand toe ek hom in sy rolstoel van sy kamer na die badkamer gestoot het, het ’n donker gevoel my oorgeneem. Die gang tussen die twee kamers gaan verby die trappe. Toe ek ’n kind was, het ek vir myself gesê ek gaan my ma wreek.

“Ek het boaan die trappe vasgesteek. Ek kon hom afgestoot het en maklik daarmee weggekom het. Soos die dekades van pyn, woede en wrok by my opgekom het, het dit weer weggegaan en ek het my kop geskud en Daddyo badkamer toe gestoot.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters