Verlede maand
Wesley is landwyd
terug op radio: Wesley Gabriels is 5FM se nuwe naweek-sportaanbieder.foto verskaf  ~ 

DIE 25-jarige mediaman Wesley Gabriels werk nou by een van Suid-Afrika se grootste radiostasies.

Die boorling van Stellenbosch is van April af terug op die lug as 5FM se nuwe naweek-sportaanbieder.

Hy is sedert 2019 ’n aanbieder en joernalis op SuperSport Blitz (DStv-kanaal 200). Hy het twee jaar terug na Johannesburg verhuis ná ’n suksesvolle radioloopbaan in Kaapstad.

Hy was ’n jaar ’n omroeper by die Kaapse radiostasie Smile 90.4 FM.

Mylpaal

Intussen het Wesley ’n gunsteling onder SuperSport-kykers geword waar hy tans verskeie sportkodes vir die kanaal verpak en aanbied.

Volgens hom is sy aansluiting by die 5FM-span ’n mylpaal waarvoor hy reeds jare lank gewerk het.

“Toe ek die oproep ontvang om my by 5FM aan te sluit, kon ek dit nie glo nie. Wat dit selfs meer opwindend gemaak het, is dat ek nou op ’n nasionale platform sal uitsaai.

“Ek is dankbaar dat ek my passie vir sport kan gebruik om met mense regoor Suid-Afrika kontak te maak.”

Wesley bied sport aan op 5FM se gewilde naweekontbytprogram, 5 Xtra Loud Mornings, wat Saterdae en Sondae tussen 07:00 en 10:00 landwyd uitgesaai word.

Maar moenie dat sy ouderdom of sy aansteeklike glimlag jou flous nie.

Dié mediaman weet waarvan hy praat en dit is nie beperk tot sport nie. Wesley het sy tande in die uitsaaiwese op die kampusradiostasie MFM 92.6 geslyp en ook as seremoniemeester vir die Varsity Cup-sportreeks, Woordfees en Cravenweek gedien.

“Deur my werk in die media het ek die geleentheid gehad om my uit te druk op platforms wat mense op verskeie vlakke bereik.

“My hoop is dat dit ander sal inspireer om hul passies na te jaag. Ek hoop ook om sport meer toeganklik vir almal te maak,” sê hy.

Met sy passie vir sport, media en die lewe staan Wesley vir niks terug nie. Dis geen wonder dat hierdie veelsydige aanbieder die plaaslike mediabedryf so op horings neem nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters