Verlede maand
Wen Siya-werksessie
SQUAD: Siya Kolisi het nou sy eie speletjie.  ~ Foto Verskaf

DIE laaste ruk was ’n opwindende tyd vir die Springbok-kaptein, Siya Kolisi.

Die Suid-Afrikaanse rugbyheld wat die Bokke in 2019 tot Wêreldbekerglorie gelei het, het deesdae nie net sy eie beperkte Red Bull energy drink-blikkie nie, hy vier nou ook die bekendstelling van sy eie selfoonspeletjie.

Kolisi, wat onlangs sy skuif van die Stormers na die Sharks gemaak het, is in Januarie met sy blikkie verras.

Kolisi was by die Hamilton-rugbyklub in Kaapstad onder die voorwendsel van ’n onderhoud, toe ’n mede-Red Bull-atleet, die valskermswewer Veselin Ovcharov deur die lug gly en toe hy land, die blikkie aan Kolisi oorhandig.

Vaardighede

“Om die blikkie vir die eerste keer te sien was ongelooflik. Dit was een van die grootste verrassings wat ek nog ooit ervaar het,” sê hy opgemaak.

Nou kan Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers kyk of hulle oor die vaardighede beskik om hulle by die Springbok-held op die veld aan te sluit deur Siya’s Squad te speel.

Siya’s Squad is ’n selfoonspeletjie van Red Bull wat hy aan Suid-Afrikaanse gehore bring.

Die speletjie daag aanhangers uit om in Kolisi se skoene te staan en op die veld te draf.

Daar moet hulle tackles side-step, teenstanders afstamp en ander hindernisse oorkom terwyl­ hulle soveel moontlik punte insamel.

Die telling aan die einde van die wedstryd sal bepaal waar spelers op die puntelys sal verskyn.

Hoe groter die afstand op die veld afgelê, hoe hoër die getal hindernisse oorkom en die getal versamelde Red Bull-blikkies, hoe hoër is jou telling.

Touwys

Aanhangers wat teen April 2021 die meeste punte opstapel, staan die kans om ’n eenmalige ervaring met Kolisi op die oefenveld te wen.

Die prys sluit ’n reis in na ’n voldag-rugbywerksessie waar Kolisi die wenners in ’n volle dag van rugbyverwante aktiwiteite goed sal touwys maak.

Die aktiwiteite sluit in ’n oefensessie, wedstrydtyd op die veld, plus sessies met ’n krag- en kondisioneringsafrigter, fisioterapeut en voedingsdeskundige.

Dan kry hulle natuurlik ook merch met sy handtekening daarop.

Kolisi voeg by dat sy vennootskap met Red Bull groot geleenthede vir hom bied om met sy aanhangers te kommunikeer.

“Ek hoop dat dit toekomstige supersterre op die veld inspireer en motiveer, wat een van die doelwitte van hierdie wonderlike vennootskap is.

“Die speletjie gee hulle ook die kans om ’n dag in my lewe op die veld te geniet en bied insigte in die opleiding wat ons daagliks deurmaak.”

Rugbyaanhangers kan nou Kolisi se seldsame kombinasie van spoed, krag en dinamiese, ongeëwenaarde prestasie eerstehands ervaar deur die webwerf­ redbull.co.za/siya­squad te besoek.

Siya’s Squad is ook reeds beskikbaar­ om aanlyn te speel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters