8 dae gelede
Ware film kyk werd
INTERNASIONALE ster: Arnold Vosloo vertolk die hoofrol van kol. Dick de Waal.  ~ Foto Verskaf

JY KAN Vrydagaand na die briljante plaaslike movie Griekwastad kyk.

Dié dokumentêre fliek, wat laas jaar in Julie op DStv BoxOffice uitgereik is, is môreaand 22:00 te sien op fliekNET (DStv-kanaal 149).

Die fliek handel oor die berugte Griekwastad-gesinsmoord. Onthou julle nog Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43), en hul dogter, Marthella (14), wat in 2012 in hul huis op die plaas Naauwhoek buite Griekwastad in die Noord-Kaap vermoor is?

Die egpaar se 15-jarige seun, Don, het net ná sononder by die Griekwastad-polisie­stasie ingestorm. Sy gesig, hande en hemp was vol bloed.

Hy’t vir die polisie gesê sy gesin was die slagoffers van ’n plaasmoord en dat hy in die skuur weggekruip en eers nadat die skietery opgehou het, na die huis teruggegaan het.

Sy suster het in sy arms gesterf, het jong Don vertel.

Maar foto’s van krapmerke aan sy nek en sy bebloede, geskeurde hemp was eerder ’n bewys van ’n hewige gestoei met sy suster.

Kol. Dick de Waal (Arnold Vosloo), die speurder, moes sy mening laat vaar dat die seun onskuldig is en hom daarop toespits om die driedubbele moord op die Steenkamps se plaas op te los.

Nuusstorie

Ek het die movie gekyk en elke oomblik geniet. Ek was letterlik op die punt van my stoel, hoewel ek geweet het wat aan die einde gebeur het.

Dit is ’n nuusstorie wat ek getrou gevolg het, so ek het geweet wie die eintlike moordenaar is. Die acting was egter so goed dat jy nie weet wat om volgende te verwag nie.

Van die ander akteurs wat in die fliek speel, is Rolanda Marais, Jody Abrahams, Tim Theron, Alex van Dyk, Daniah de Villiers, Ira Blanckenberg en Deon Lotz.

Griekwastad
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters