Verlede maand
Vlei het rede om te vier
Hoera! Craig Adriaanse, Kay Smith, Celeste Wannenburgh, Jolene Martin, Kaylene Bergstedt en Merlin Balie vier trots Arendsvlei se 500ste episode.  ~ 

ARENDSVLEI vier vandag sy 500ste episode!

Hierdie is ’n massiewe mylpaal vir dié kykNET-telenovela wat die hoofskrywer, Theltom Masimila, aanvanklik as ’n kortverhaal geskryf het.

Dié 28-jarige draaiboekskrywer sê toe die oorspronklike rolverdeling van die show in 2018 sy eerste table read gehad het, het hy die gevoel gehad dat dit baie gewild onder kykers gaan wees.

“Toe die akteurs om die tafel sit en lees, het ek geweet die show gaan ’n sukses wees omdat dit deur die mense van die Kaapse Vlakte geskep en aangebied is.

“Ons het die voorreg om die wonderlike kant van ons wêreld te kan wys.

“Ons kan die onvertelde stories van ons mense in die show vertel. Ek is baie dankbaar daarvoor.”

Ons het ook met Jolene Martin, een van die oorspronklike lede van die rolverdeling, gepraat.

Sy vertolk die rol van die formidabele Beatrice Cupido.

Perfek

Die uitmuntende aktrise sê toe sy die eerste keer die profiel van haar karakter op papier gelees het, het sy geweet sy is perfek vir die rol.

“Kyk, ons moes drie clips vir die oudisies instuur en ek het toe sommer vier gestuur.

“Ek was só oortuig dat daai rol myne is, ek moes net meer doen.

“Ons kom ’n lang pad en ons hoop ons gaan selfs ’n langer pad stap. Ek is so trots op ons wat hierdie mylpaal behaal het.”

Ek moes natuurlik vir julle by Theltom uitvis oor wat ons in die vierde seisoen van Arendsvlei kan verwag.

“Die kykers kan na nog baie drama uitsien.

“Ons kry ’n paar nuwe gesigte. Daar is sewe nuwe matriekleerders wat hulle by ons aansluit en elkeen kom met hul eie stories by die skool asook by hul huise.

“Soos gewoonlik gaan ons ook met Beatrice se liefdes­lewe speel. Sy en Jake gaan deur iets en ons sal maar moet wag en sien of dié twee se verhouding hierdie keer sal uitwerk ,” onthul Theltom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters