Verlede maand
Vinette loer in
GEHEIM: Janice (Crystal-Donna Roberts) se hart gaan gebreek word.  ~ Foto Verskaf

VINETTE Ebrahim is weer op die kassie – al is dit net vir ’n paar episodes.

Die veteraan-aktrise het gisteraand haar verskyning as antie Poppie in Arendsvlei gemaak.

Antie Poppie is Janice (gespeel deur Crystal-Donna Roberts) se ma se suster.

Janice het deur die jare met haar antie in kontak gebly, aangesien sy alle kontak met haar ma verloor het.

Noudat Janice voel sy moet haar ma opspoor, is tannie Poppie haar eerste stap. Maar wat Janice uitvind, breek haar hart ...

Ons kom agter dat antie Poppie ’n baie groot geheim vir Janice wegsteek.

Kykers weet dat Janice se ma in Bloemfontein is. Nadat sy Janice se pa se moord aanskou het, het sy net gevlug en haar kinders agtergelaat.

Son het met Vinette, wat ook onlangs in die opspraakwekkende Showmax-misdaadreeks Skemerdans gespeel het, gepraat oor haar nuwe rol as antie Poppie.

“Arme Janice wil so graag antwoorde hê en dis reeds oor haar ma moeilik genoeg om uit te reik.

“Antie Poppie was sigbaar verras toe Janice aan haar deur kom klop, so, ’n mens kan net wonder wat sy wegsteek.”

Geskiet

Die aktrise wat ook onlangs in die eerste Afrikaanse Moslem-fliek, Barakat, te sien was, sê dit was ’n wonderlike ervaring om saam met die Arendsvleiers te werk.

“Ek het ál my tonele in een dag klaar geskiet, maar Poppie is darem in ’n paar episodes te sien!

“Die mense op stel was wonderlik en dit was net ’n plesier om vir so ’n kort tydjie ’n lid van die familie te wees.”

Wie weet, dalk sien ons in ’n later stadium meer van tannie Poppie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters