19 dae gelede
Van 'Tussen Duiwels' na tussen karre
KEUSES: Euodia Samson moes destyds kies tussen die rol van aktrise en ma.  ~ 

GAWA September was dalk tussen duiwels in die 90’s-TV-reeks, maar sy het ook in die hart van talle Suid-Afrikaners ingekruip.

Nes haar karakter in Tussen Duiwels kruip Euodia Samson ook vinnig in die hart in van almal wat sy ontmoet.

Son gesels op haar agterstoep met haar oor Gawa, haar roem, die skielike stilte – en nou ’n nuwe fliekrol.

“Wiet jy, daar is nou nog mense wat my in die winkelgange keer en sê: ‘Hallo, Gawa, djy is mos getroud met die traffic cop, nuh?’

“Aan die begin was dit moeilik, want dit was ’n karakter en ek wou hê mense moes my leer ken het.

“Ek het wel vrede gemaak, want ek was mense se storie. Mense het hulself in my karakter gesien en kon hulle uit hul gemeenskappe vereenselwig met Gawa, wat met die ouer man betrokke raak en getrou het.”

Die roem het Euodia egter na ’n kruispad gelei.

Maatskappy

“Ek moes besluit of ek my kinders in die media spotlight gaan grootmaak. Ek het toe reeds gesien watter uitwerking dit op my oudste het.”

Ondanks haar liefde vir die bedryf het sy besluit om wat sy noem ’n present mom te wees.

In 2002 het sy haar eie maatskappy begin wat teateropleiding en -ontwikkeling doen.

Só kon sy ook verskeie bewusmakingsonderwerpe in werksessies aanroer.

Euodia is ook ’n boffin met stress, tension and trauma release exercise (TRE) en vertel dít is wat haar belangstelling geprikkel het om in 2015 deeltyds sielkunde te studeer.

Euodia het ná Gawa darem nie heeltemal van die kassie af verdwyn nie.

Mens-mens: Euodia sê sy wil weet wie jy is en hou daarvan om mense te leer ken.

Sy was onder andere aunty Hazel in Arendsvlei en aunty Girl in Sara se Geheim. Daar was ook rolle in Die Byl, Waterfront en teaterproduksies soos Vatmaar en Sister Breyani.

Euodia was ook op die silwerdoek as onder andere ’n CIA-agent in Safehouse en ’n polisievrou in Jimmy in Pienk. In Desember was sy ook Zainab in A Twisted Christmas.

Haar nuwe karakter is dié van die titelkarakter in die Netflix-fliek Angeliena.

“Angeliena is ’n karwag by die parkeerterrein van ’n hospitaal, waar sy die ruimte haar fairytale-wêreld maak.

“Sy is ’n straatvrou wat ’n geleentheid gekry en iets van haar lewe gemaak het.”

Angeliena koester egter groot drome. Haar droom is om rondom die wêreld te reis.

“Maar dinge werk nie altyd uit soos beplan nie en kykers sal maar moet sien of en hoe haar droom waar word wanneer ’n hartseer ding met Angeliena gebeur.”

Terugkyk

KEUSES: Euodia Samson moes destyds kies tussen die rol van aktrise en ma.

Euodia vertel dit was ’n aanpassing om produksies onder Covid-regulasies te skiet, maar ook wonderlik en lekker om weer saam met ander in die bedryf te werk.

As sy nou terugkyk op haar besluit om ’n voltydse ma te wees, is sy glad nie spyt nie.

“Absolutely not; ek sal weer die besluit neem as ek moet.

“Ek kon teenwoordig wees en my kinders die liefde en tyd gee.”

  • + Stroom Angeliena op Netflix vanaf Vrydag 8 Oktober
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters