18 dae gelede
Tuis ná hy hoog rys
INSPIRASIE: Oswald Jacobs was ’n pastry chef in Florida, Amerika.  ~ Foto Verskaf

DIE pad na ’n man se hart loop deur sy maag – só sê die spreekwoord mos.

Maar Oswald Jacobs (33), ’n opgeleide sjef van Ravensmead, glo álmal se hart klop warm vir heerlike tuisgebak – veral hier in die gemeenskap waar hy gebore is en grootgeraak het.

Jacobs het sy kookvernuf al oral in Amerika afgeshow.

Hy het weer ’n geleentheid gekry om in Yankland te gaan kosmaak, maar hy het besluit om eerder sy talente in sy eie gemeenskap terug te ploeg.

Ná skool, in 2009, begin Jacobs werk as ’n driver assistant by Kerston Foods in Montague Gardens.

Dié company lewer gaar kosse aan hotelle, gastehuise en wynlandgoedere oral in die Wes-Kaap.

Kennis

Jacobs vertel: “Dít is waar my liefde vir kosmaak begin het.

“Ek het kennis opgebou van al die produkte wat die sjefs gebruik om kos te maak.

“Ná vyf jaar het ek toe onder kontrak van Mastrantonio Food by Sanlam Investment Management in Tygervalley Centre as skottelgoedwasser gaan werk.

“Só het ek Maretha Hill, my manager, en haar man, Jayson Hill, ontmoet wat my geleer bak het. Hulle twee het ’n groot rol in my loopbaan gespeel.

“Jayson het my verwys na die South African Chefs Academy in Observatory, waar ek ses maande part-time studeer het. Ek’t my sjef-sertifikaat in food and services aid voltooi.”

Daarna het Jacobs se loopbaan vlam gevat. Hy’t as pastry chef in Florida, Amerika, gaan werk – by ’n polo- en buiteklub op ’n gholflandgoed in die stad Boca Raton. Ná ses maande het hy in New York en Boston gaan werk.

Ná drie jaar het Jacobs teruggekeer na Ravensmead. Hy wil terugwerk in sy gemeenskap.

Hy het sy eie besigheid begin. By OJ The Baker bak en verkoop hy muffins, scones en verskillende tipes savoury-brode.

“Ek het weer die geleentheid gekry om in Amerika te gaan werk, maar ek het besluit om in my gemeenskap besigheid te doen. Hulle support my 100%.”

  • Bel of message Jacobs gerus by 081 359 2268 of email hom by jacobsoswald@gmail.com.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters