12 dae gelede
Tribute show ruk die Paarl
GROOT JOL: Jerry Watt laat waai in sy Carlos Santana Tribute Show.  ~ Foto Verskaf

SATERDAG het daar ’n opgewonde atmosfeer in Die Khoi geheers. Dis ’n opelug-venue in die Suider-Paarl waar die talentvolle Jerry Watt sy Carlos Santana Tribute Show gegooi het.

Die plek was propvol entoesiastiese aanhangers van Jerry én die Mexi­kaans-Amerikaanse­ kitaar-maestro Carlos Santana.

En Jerry het nie teleurgestel nie. Hy het van Santana se grootste hits gespeel soos “Oye Como Va”, “Maria-Maria”, “Black Magic Woman”, “Love of My Life” en natuurlik my gunsteling, “Europa”.

Hy is deur van die beste musikante hier in die Wes-Kaap begelei: Devanish Hendricks (keyboards), Donovan Dyers (baskitaar), Marshall Hart (tromme), Jason Ward (perkussie), Rodney Buys (orrel) – en laaste maar nie die minste nie het Manuel Losper weer bewys hoekom hy as een van die beste vocals hier in Suid-Afrika beskou word.

Jerry vertel agterna opgewonde oor die show: “Die atmosfeer was fantasties en dit was ’n baie nice experience.

“Ek kon sien dat die mense hul tyd enjoy het – van die eerste tot die laaste song.

“Die Khoi is ’n nice venue en lekker cosy. Ek is net bly dat ons gebless was met ’n mooi dag, aangesien dit mos nou reënseisoen is en Die Khoi ’n open venue is.

“Ek beplan om die show oral in die Kaap uit te brei. Dan wil ons graag daarmee op ’n roadshow gaan.

“Ek wil ten laaste net die Here vir my Godgegewe talent dankie sê wat ek met die mense kan share.”

Daar was besoekers van oral in Suid-Afrika. Een van die besoekers, Gerwin Lewis, het spesiaal uit Kimberley vir die show gekom. Hy het agterna gesê: “Ek is nie spyt nie. Dit was ’n belewenis van ’n leeftyd.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters