17 dae gelede
Sý spill die beans oor koffie
VOL OPWINDING: Henriëtte Marx gaan mense met haar nuwe program, Net Koffie, op ’n koffiereis vat.  ~ Foto Verskaf

BEGIN jy jou dag met ’n koppie koffie?

Indien wel, is daai koppie koffie van jou een van 2,25 miljard koppies wat elke dag wêreldwyd gedrink word.

Net Koffie is ’n nuwe leefstylprogram wat net oor koffie gaan. Dit begin volgende maand.

Kykers gaan meer uitvind oor koffieproduksie en -verbruik.

In dié reeks is die land Nicaragua in Sentraal-Amerika onder die vergrootglas.

Hierdie land het meer as 44 000 koffieprodusente.

Resepte gaan gedeel word en bekendes soos Clint Brink, Ricus Nel en Jenna Clifford gaan oor ’n koppie koffie saamkuier.

Henriëtte Marx, die aanbieder, is ’n entrepreneur en die eienaar van Coffee Excellence.

Geskiedenis

Sy is uiteraard ’n koffieliefhebber, maar sy is ook ’n ma en vriendin en iemand wat nooit nee sê vir ’n uitdaging nie.

“Hoe meer ek oor die geskiedenis, tradisies en kultuur van koffie geleer het, hoe meer het die stories, aangrypende lewensverhale en realiteit van die mens en koffie in my kom groei. Dit was nog altyd ’n droom om die storie, die regte storie, van koffie te vertel.

“Die program is vir almal wat elke oggend ’n koppie koffie drink, maar ook vir dié wat die natuur bewonder, graag op reis gaan en ’n passie het vir mense.

Net Koffie neem die kyker op reis na Nicaragua vir niks anders as die beste koffie nie.”

  • Net Koffie begin op Saterdag 3 Oktober om 18:00 op kykNET (DStv se kanaal 144).
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters