12 dae gelede
Span maak ’n plan met fliek oor Oortman
CURRY IN A HURRY: Die produksiespan met van die akteurs wat in die rolprent verskyn.  ~  Verskaf

’N LOCAL produksiemaatskappy is besig om sy eerste rolprent in Elsiesrivier te verfilm.

Curry in a Hurry Produc­tions het pas ’n voet in die deur van die vermaaklikheidsbedryf gesit en die span is baie opgewonde om sy eerste film, His Plan, uit te reik.

Die film word in Leons­dale, Elsiesrivier, verfilm. Dis gegrond op die lewensverhaal van die filmvervaardiger Neil Oortman, wat in die omgewing grootgeword het.

Oortman is ook die hoofakteur in die plaaslike fliek Bloed Betaal.

Jade Green, aspirant-aktrise en administrateur van Curry in a Hurry, sê dis ’n eerste vir die meeste van hulle, maar almal voel optimisties hieroor.

“Dis die begin van nuwe dinge en ’n deurbraak vir baie van ons as akteurs.”

Inspireer

Oor die film sê sy dit gaan oor ’n jong man wat in Leonsdale grootword en al die uitdagings wat hy ondervind.

Sy vertel met dié film wil hulle mense van die gemeenskap inspireer om groot te droom.

Sy voeg by dis ’n manier om dit by jong mense tuis te bring dat daar wel alter­natiewe is as om in maatskaplike euwels te verval.

Green sê die produksiespan is opgewonde om nog vele stories te vertel oor kwessies wat talle jeugdiges sal kan aangryp.

Die trailer van die film word middernag op 30 Oktober uitgereik en die volledige film sal van Desember af gesien kan word.

Curry in a Hurry Produc­tions sal ook in Desember begin om ’n nuwe sepie te verfilm, waarvan hulle later meer sal vertel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters