13 dae gelede
‘Slot’ byna hier
NUWE RILLER: Brendon Daniels, Trudy van Rooy, Albert Pretorius, Greta Petersen en Rolanda Marais speel in Slot.  ~ Foto Verskaf

DIE nuwe riller-reeks Slot gaan kykers op ’n eiesoortige reis van geheimenis, intrige en spanning neem.

Die nuutste kykNET-reeks uit die pen van Leon Kruger handel oor ’n briljante en gerekende psigiater wat ’n terapie ontwikkel waarmee sy haar pasiënte se onderbewussyn onmiddellik kan binnedring.

Dit gee haar toegang tot hul onderliggende traumas.

Weens die onwettige aard van die dwelmmiddel wat die psigiater hiervoor gebruik, bied sy in die geheim wegbreek-terapiesessies aan.

Wat sy nie besef nie, is dat dié vier dae haar lewe en haar drie oënskynlike pasiënte s’n onherroeplik sal verander.

Sluiers

Toe vier vreemdelinge vir behandeling opdaag by ’n verlate huis, begin eienaardige dinge gebeur.

Die raaisel om uit te vind wie elkeen werklik is en wat uiteindelik agter die sluiers aan die gang is, is die sleutel tot die reeks se boeiende storielyn.

Hierdie moderne sielkundige riller kyk na die lewe van herkenbare karakters wat ’n aweregse, unieke ervaring beleef.

Tog bied dit ook aan kykers ’n blik oor hoe ’n droomwêreld kan lyk en hoe meesleurend dit kan wees.

Van die akteurs wat in die spannende riller-reeks speel, is Rolanda Marais (Binnelanders, Poppie Nongena, Bloedbroers, Griekwastad) en die gesoute Brendon Daniels (Four Corners, Die Boland Moorde, Trackers).

Greta Petersen (Suidooster, Die Spreeus), Albert Pretorius (Fynskrif, Dwaalster, Binnelanders) en Trudy van Rooy (Die Byl, Traffic!) wys ook in hierdie nuwe reeks gesig.

Die regisseur, Jozua Malherbe, verduidelik hierdie reeks is die eerste van sy soort.

“Ons het beoog om ’n geheimsinnige riller te skep wat hom afspeel in ’n milieu wat nie aan almal bekend is nie.

“Ons hoop kykers kan hulself deur hierdie ervaring geniet en vasgevang raak in die karakters, asook in hoe die storie bewustelik en onbewustelik ontvou.”

Volgens Malherbe bestaan die reeks uit vyf episodes.

“Uiteindelik vorm dit basies ’n speelfilm van 125 minute.

“Danksy my vorige ervaring is dit die formaat waarmee ek die gemaklikste is,” sê die bekroonde regisseur, wat onder meer die flieks Griekwastad en Wolwedans in die Skemer agter sy naam het.

Dinsdag

“Elke episode vorm deel van die groter verhaal, die geheelbeeld wat die kyker ná vyf weke uiteindelik bymekaar sal kan pas.”

) Slot begin Dinsdag 12 Januarie 2021 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters