8 dae gelede
Skrywer wil jeug help
GLIMLAG BREED: Geduld Veldsman staan trots met sy boek Rising Eagle.  ~ Foto Verskaf

NÁ BAIE ondersteuning het Geduld Veldsman pas sy outobiografie, Rising Eagle, uitgereik.

Geduld is al sedert 2010 betrokke by jeugontwikkelingsprogramme. Sy dryfkrag was die jeug en om vir hulle ’n inspirasie te wees. Hy wil by hulle tuisbring dat wat ook al jou huidige omstandighede is, jy kan uitstyg.

Verder is die skrywer gemotiveer deur sy mentor, apostel Winston, wat heelpad met hom gestap en hom geïnspireer het om sy pen op te neem en sy storie te skryf. Hy glo dat die jeug van vandag vir hulle ’n mentor moet kry wat hulle inspireer en by wie hulle kan afpak as die lewe druk.

In 2014 het die skryfgogga hom behoorlik gebyt.

Hy het kort toneelstukke vir die jeug op jeugkampe geskryf, asook verskeie skrywes gerig op die jeug. Dis egter in 2016 toe hy stelselmatig aan die debuutboek begin skryf het.

Rising Eagle is uiteindelik gebore met die hulp en onderskraging van baie ondersteuners. Aan hulle is hy baie dank verskuldig, veral adv. Willie Small, Rachel en Samuel Thomas, Change Agents South Africa en AC Development & Pincore Solutions.

Rising Eagle se teikenmark is jong mense, jong professionele persone en veral mense wat wil hoor hoe God ’n verskil in hul lewens kan maak met geloof in Hom.

Die hoofdoel van die boek is om te wys dat niks onmoontlik is nie. Geduld wil die jeug bewus maak daarvan dat drome nie mag sterf nie.

Hy sê dit is per slot van sake belangrik wat jy van jou drome maak.

Jý is die een wat jou drome kan verwesenlik as jy gefokus bly en bo jou haglike omstandighede kan uitstyg.

Pyplyn

“My visie is om ’n verskil in jong mense se lewens te maak,” sê Geduld.

Sy tweede boek is ook in die pyplyn en sal kort op die hakke van Rising Eagle volg.

Die boek word uitgegee deur Print on Demand-uitgewers en die huidige prys is R250. Kontak Geduld by 079 867 1771 as jy ’n eksemplaar wil bestel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters