Verlede maand
Skryf nou in
Woordkuns­tenaar: Robin Fourie (45), beter bekend as Die Hooflig, het onlangs sy nuwe song “Hoever” uitgereik.  ~ Verskaf

ROBIN Fourie (45), beter bekend as Die Hooflig, het onlangs sy nuwe song “Hoever” uitgereik.

Dié rymkletser wat ook as die godfather van Bolandse hip-hop bekend is, sê die song is op kreatiewe persone gemik.

“ ‘Hoever’ laat jou diep dink as jy met ’n kreatiewe ding besig is, maak nie saak of jy ’n skrywer, musikant of skilder is nie.

“Dit laat jou wonder oor hoe ver jy moet gaan voordat jou projek klaar is,” verduidelik Die Hooflig.

Hy is ook die bestuurder van Expression Session, wat hy 15 jaar gelede saam met HemelBesem in die Bolandse dorpie Worcester gestig het.

Die Hooflig is die kursusleier van volgende jaar se ATKV Crescendo-program waarin hy opkomende Afrikaanse musikante gaan mentor.

Hy moedig liefhebbers van Afrikaans aan om aansoek te doen sodat hulle aan dié mentorskapprogram kan deelneem.

“Dis nie net ’n mentorskapprogram nie, dit is ’n belewenis. Ons stap ’n pad saam met die deelnemers en hulle word ook deur groot name in die musiekbedryf onderskraag.

“As jy ’n opkomende Afrikaanse kunstenaar is, moet jy nie hierdie geleentheid misloop nie.”

Inskrywingsvorm

Só skryf jy vir die ATKV se Crescendo-mentorskapprogram in.

  • Laai jou inskrywingsvorm van die ATKV se webblad­ af, voltooi die vorm en stuur jou bewys van betaling en ’n MP3- of voice note-opname van jou song per e-pos na crescendo01@atkv.org.za. (Dis crescendo, gevolg deur ’n nul en ’n een.); of
  • Voltooi jou inskrywingsvorm op die Facebook-blad ATKV-Crescendo se en stuur na dieselfde e-pos-adres. Heg ook jou bewys van betaling en ’n MP3 of voice note van jou song aan.
  • Woon een van vier oudisies by in samewerking met Expression Session. Daar sal twee geleenthede in Kuilsrivier wees en twee in Worcester.
  • Inskrywings per e-pos sluit op 31 Januarie 2022. Beoordeling vind in Februarie plaas en finaliste word op 1 Maart 2022 bekendgemaak.
  • Die finaliste sal ná 1 Maart 2022 na ’n intermediêre opleidingsprogram genooi word wat in 2022 aangebied sal word.

Ná hierdie opleidingsprogram sal die finale groep finaliste aangekondig word wat die Crescendo-eindronde sal meemaak.

Die finaal behels ’n week lange slypskool en dit word met ’n groot bekendstellingskonsert afgesluit. Só word hulle aan die publiek en media bekendgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters