2 maande gelede
Skryf in en word ’n miljoenêr
skryf in: Aansoeke vir die vasvraprogram Wie Word ’n Miljoenêr? is tans oop en sluit op 6 Augustus.foto verskaf  ~ 

IS JY buitengewoon slim? Het jy vinnige vingers? En wil graag ’n miljoenêr word?

Wel, dan moet jy vir die wêreld se grootste en gewildste vasvraprogram, Who Wants To Be A Millionaire, inskryf wat nou weer in Suid-Afrika is.

Die Afrikaanse weergawe, Wie Word ’n Miljoenêr?, sal later vanjaar op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.

“Ons is baie opgewonde en geweldig trots daarop om die wêreld se gewildste vasvraprogram na kykNET te bring.

“Kykers kan uitsien na dieselfde Who Wants To Be A Millionaire-ervaring wat miljoene mense wêreldwyd geniet.

“Ons kan nie wag om aan te kondig wie die aanbieder van kykNET se Wie Word ’n Miljoenêr? gaan wees nie,” sê die vervaardiger, Cecil Barry.

Allemintige

As jou algemene kennis breed is en jy stof almal in vasvra-speletjies uit, is dié kompetisie net reg vir jou.

Skryf in, want wie weet? Dalk is jy goed genoeg om ’n allemintige R 1 miljoen los te slaan.

Diegene wat na die tweede ronde deurdring, sal genooi word om ’n veelkeuse-toets in Johannesburg of Kaapstad te skryf en ’n onderhoud met die produksiespan te doen.

Sou dit nie moontlik wees om dit in lewende lywe te doen nie, sal die opsie van ’n Zoom-onderhoud beskikbaar wees.

Besoek die webwerf kyknet.dstv.com om die bepalings en voorwaardes te lees en om in te skryf. Inskrywings sluit op 6 Augustus 2021.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters