2 maande gelede
Silwerskermfees ook virtueel
Sien uit: Die Silwerskermfees vind volgende jaar van 23 tot 26 Maart plaas.  ~ verskaf

FILMMAKERS, filmstudente en fliekvlooie moet beslis hul 2022-kalender tussen 23 tot 26 Maart skoon hou.

Dís die nuwe datums vir kykNET se spesiale 10de Silwerskermfees, wat dié keer ’n byderwetse hybrid-baadjie aantrek.

Dit beteken die fees sal vir die eerste keer in tandem by die Bay Hotel se Rotunda in Kampsbaai én virtueel op die Silwerskerm-webwerf plaasvind.

Op die webwerf sal besoekers­ onder meer toegang hê tot presies dieselfde speelfilms, kort flieks en besprekings uit die geledere van die bedryf.

Hoewel net ’n beperkte getal gaste onder streng Covid-19-regulasies die fees by die Rotunda sal bywoon, kan enige iemand met internet die fees op hul eie skerm geniet.

Uitgesoekte

Daarbenewens sal sekere films gedurende die fees by ’n aantal uitgesoekte rolprentteaters en ander venues in Kaapstad vertoon word.

Daar sal ’n klein registrasiekoste aan die aanlyn fees verbonde wees. Die opbrengs daarvan gaan reguit aan die Tribuo-fonds geskenk word. So ook die opbrengs uit die kaartjieverkope by die ander venues.

Die Tribuo-fonds is verlede jaar weens die impak van die Covid-19-pandemie gestig om vermaaklikheidskunstenaars in finansiële nood by te staan.

Die volledige 10de kyk­NET Silwerskermfees se program word volgende jaar bekend gemaak.

Intussen kan fliekliefhebbers inloer by die webwerf silwerskerm.tv.

Die fees se aanlyn tuiste het nou ook ’n argief wat inligting oor al die vorige Silwerskerm-debuutfilms bevat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters