14 dae gelede
Sherwin maak tyd vir almal
Jolig: New Generation bring musiek na hul gemeenskappe.  ~ Verskaf

OM DIE laities se aandag weg van geweld en dwelms te kry, het ’n jong musikant van Connaught Estate in Elsiesrivier met ’n briljante inisiatief vorendag gekom.

Sherwin Tate (25) van die jazz band New Generation het besluit om hul musiek na die probleemareas van Elsiesrivier te neem.

Dié band het Saterdag die gemeenskap van Avonwood entertain met live musiek vanuit ’n inwoner se jaart in Hazelstraat. Dít vind so twee keer ’n maand plaas.

“Ons sien elke dag die geweld en dwelmmisbruik hier in ons gemeenskappe,” verduidelik Sherwin.

“Die geweld het ’n groot invloed op die laities. Dit is ook hoekom hier nou ’n trend van klipgooiery onder hulle uitgebreek het.

“Hier is geen afleiding en goeie rolmodelle nie, maar hier is laities met uitsonderlike talente, soos musiek.

Dieper

“Dít is hoekom ek besluit het om daardie stap te neem en die musiek na die gemeenskap te vat. Ons wil die boodskap bring dat die gemeenskap nie moet vaskyk teen die geweld hier nie.

“Hulle moet dieper kyk na die opsies daar buite, weg van drugs en gang­sterism.”

Volgens Sherwin gee hulle ook tydens die jams geleentheid aan jong talent uit die gemeenskap om hul staal te toon. Dié wat kan sing of enige musiekinstrument kan speel, kan met die band daarmee kom afshow.

“Ons wil dit graag uitbrei na ander gebiede in Elsies­rivier en selfs verder soos in Ravensmead en ander areas. Maar dit is soms moeilik, want ons moet maar geld uit ons eie sakke haal daarvoor.

“Ons beplan om ook kos uit te deel wanneer ons weer ’n jam hier hou.”

Die New Generation band back ook soms ander be­kende sangers, soos die Idols-finalis Craig Jordaan.

As jy graag ’n bydrae wil lewer of die band wil gebruik, kontak Sherwin gerus by 065 914 8635

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters